Omkopery, uitbuiting; SA skole deurspek met korrupsie

Die onderwyssektor landwyd is deurspek met korrupsie, maar die meeste gevalle is in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap aangemeld, (Argieffoto: Unsplash)

Onderwysowerhede moet veel meer doen as om diegene wat vir korrupsie ondersoek word elders heen te verplaas, met Corruption Watch wat in ʼn verslag oor korrupsie in die sektor sê hierdie soort gevolgbestuur beloon bloot ʼn beskuldigde.

Die korrupsiewaghond het Donderdag ʼn verslag, “Sound the Alarm”, oor ongerymdhede in die onderwyssektor bekend gemaak. Hierin word bevind dat diegene in magsposisies, veral skoolhoofde en skoolbeheerliggame, dikwels van ongerymdhede beskuldig word.

Die algemeenste vorms van korrupsie in die sektor wat aangemeld is, sluit in die wanaanwending van hulpbronne, wanbestuur, magsmisbruik, ongerymdhede met verkrygingsprosesse en ongerymdhede met indiensneming wat omkopery, seksuele gunste in ruil vir werkgeleenthede en ʼn verontagsaming van werwingsprosesse insluit.

Die onderwyssektor landwyd is deurspek met korrupsie, maar die meeste gevalle is in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap aangemeld, het die navorsers bevind.

Corruption Watch sê ten spyte van ʼn legio beleid, wetgewing en ingryping, is dit daagliks vir gewone Suid-Afrikaners ʼn opdraande stryd om hul kinders by openbare en private skole in te skryf en hul skoolgeld en verblyf te betaal.

Die waghond sê hy het sedert 2012 inligting oor honderde voorvalle van beweerde korrupsie by sentrums vir vroeë kinderontwikkeling, laer- en hoërskole, universiteite, SETA’s en kolleges ontvang.

“Terwyl die berigte oor korrupsie ingekom het, het gewone mense landwyd aangevoer dat voorvalle van omkopery, seksuele uitbuiting [bekend as “sextortion”], magsmisbruik en die verontagsaming van indiensneming- en verkrygingsprosesse volop is. In sommige gevalle lê dit instellings lam en smoor dit geleenthede vir die kwesbaarstes wat probeer studeer,” lui die verslag.

Corruption Watch sê sy eie ondersoeke het bevind dat die bewerings heeltemal geldig is. Die afgelope paar jaar het al hoe meer fluitjieblasers na vore gekom oor onderwysamptenare wat hul mag misbruik of ooglopend misdadig optree – terwyl die regering en wetstoepassingsowerhede apaties is oor die korrupsie van opvoeders, skoolhoofde, administrateurs, vakbonde en raadslede.

Skole word volgens die organisasie as in die topdrie gebiede waar korrupsie die meeste voorkom, aangedui.

Die verslag lui dat vroue onder andere gevra word om seksuele gunste te doen in ruil vir finansiële vergoeding of om hul loopbane te laat vorder. Dit strek ook verder, met vroulike studente wat seksuele gunste vir opvoeders moet doen in ruil vir goeie punte.

Fluitjieblasers vertel hoe administrateurs studente se toelae onregmatig verminder en studente dikwels sonder ʼn sent gestrand land, met geen manier om hul kursusse voort te sit nie. In sommige gevalle word omkoopgeld van aansoekers vereis in ruil vir toegang tot ʼn sekere program.

Corruption Watch het ook verskeie berigte ontvang van amptenare van staatsdepartemente wat vergoeding vir korrupte verkrygingsooreenkomste kry.

“Diegene wat navraag doen oor hierdie skandelike bedrywighede, word geboelie of gedwing om op te skop,” lui die verslag.

Volgens Corruption Watch moet maatreëls verskerp word om korrupsie in die sektor te stuit. Dit sluit in beleid oor korrupsie en verwante optrede, ʼn veilige manier vir fluitjieblasers om ongerymdhede aan te meld, voortgesette opleiding oor teenkorrupsiepraktyke en die gereelde oudit van state – soos wetgewing ieder geval vereis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

TIPIESE hoe die ANC die land in die afgrond in bestuur en die meerderheid is te blind om dit raak te sien. Hulle is maar alte bly vir die bietjie krummels wat na hulle kant toe gegooi word om hulle gelukkig te hou.

Boon ·

Hoekom sal mens dink onderwys is vergewe bo die korrupte praktyke van sy kaders ? Daar is oorgenoem wette en regulasies, maar niemand pas dit toe nie., want hulle maak wolf mos hul skaapwagter.

Oosieoos ·

Dit is nou die mense wat kinders waardes moet leer en Lucifer is nou doodstil

Pietertjie ·

So, korrupsie begin al by die skoolbanke. Wat ‘n blink toekoms!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.