‘Onafhanklike ondersoek’ volg ná fietsryvoorval in park

Nic Dlamini in die hospitaal. (Foto: Facebook)

SANParke sê hy het ʼn onafhanklike ondersoek van stapel gestuur ná die beweerde aanranding op die beroepsfietsryer Nicholas Dlamini.

ʼn Video wat wyd op sosiale media versprei is, wys hoe Dlamini die afgelope week agterin ʼn bakkie geboender word.

Luidens SANParke se aanvanklike verklaring het Dlamini hom teen inhegtenisneming verset. Dít nadat hy glo die Silwermyn-gebied van die Tafelberg Nasionale Park binnegekom het sonder om die bewaringsgeld te betaal. Hy kon glo ook nie enige permit toon toe hy daarna gevra is nie.

Wildbewaarders is van die voorval in kennis gestel en in die daaropvolgende “situasie” is Dlamini beseer.

“SANParke wil dit op rekord plaas dat ʼn volledige, onafhanklike ondersoek deur McRoberts Prokureurs gedoen word,” het Rey Thakuli, woordvoerder van SANParke, Maandag gesê.

Thakuli het gesê omdat die saak nou ondersoek word, gaan daar nie verder kommentaar gelewer word wat die proses moontlik kan belemmer nie. “SANParke wens mnr. Dlamini ʼn spoedige herstel toe ná sy suksesvolle operasie,” het Thakuli gesê.

Dlamini het intussen ook ʼn gedugte regspan aangestel. Die internasionale firma Norton Rose Fulbright verteenwoordig hom. Dit is dieselfde firma wat die Suid-Afrikaanse Olimpiese kampioen Caster Semenya in haar saak teen die Internasionale Federasie van Atletiekverenigings (IAAF) verteenwoordig.

Die fietsryer Nic Dlamini in aksie. (Foto: Twitter)

Dlamini, ʼn lid van die fietsryspan NTT, het op sy Facebook-blad mense bedank vir hul boodskappe van ondersteuning. “Ek is oorweldig deur die steun van diegene op tuisbodem en in die res van die wêreld, veral in die fietsrywêreld.”

Dlamini het gister ʼn operasie ondergaan, maar sê volgens sy dokter is dit nog te vroeg vir ʼn prognose. “In dié stadium kan ek nie sê wanneer ek weer terug op ʼn fiets gaan wees nie.

“My chirurg en die sorgspan sal saam met die NTT-spandokter werk om dít vas te stel.”

Dlamini sê hy het fisioterapie en rus nodig en sal ʼn polisieverklaring aflê sodra sy gesondheid dit toelaat.

“Ek is nie seker wanneer dit gaan wees nie. Dinge is nou ʼn bietjie ongemaklik en ek probeer nog vrede maak met wat gebeur het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.