Ondersoek by skool na ‘diskriminasie’ teen LGBTQI+-leerders

Hoërskool D.F. Malan. (Foto: Facebook)

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het ʼn ondersoek gelas na bewerings dat daar teen LGBTQI+-leerders gediskrimineer is by die Hoërskool D.F. Malan in Kaapstad.

Daar word beweer dat ʼn groep leerders Maandag tydens pouse op die rugbyveld bymekaargekom het nadat die skool glo geweier het dat daar enige geleentheid vir Pride-maand, ʼn tydperk waarin die LGBTQI+-gemeenskap gevier word, gehou word. LGBTQI+ verwys na homoseksuele, biseksuele, transgender- en interseks-gemeenskappe.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, het gesê sy is baie bekommerd oor die bewerings waarvan haar departement gister ingelig is.

“Dié soort gedrag het geen plek in ons skole nie. ʼn Ondersoek word tans gedoen om die feite vas te stel en ons wag op die uitkoms daarvan.”

Daar sal intussen met die skool saamgewerk word om te verhoed dat só ʼn voorval weer plaasvind. “Die departement is daartoe verbind om te verseker dat ons skole inklusiewe ruimtes is, waar waardes van gelykheid en nie-diskriminasie gehandhaaf word,” het Schäfer gesê.

Die groep leerders is glo deur ander leerders beledig en uitgejou waarna ʼn konfrontasie gevolg het.

Die skool se beheerliggaam het intussen in ʼn verklaring gesê die skool sal alles in sy vermoë doen om ʼn herhaling van die gebeure te voorkom. Daar is bevestig dat ʼn leerder ʼn versoek gerig het om  Pride-maand by die skool te gedenk.

“Die hoof in oorleg met lede van die beheerliggaam het besluit om nie die versoek toe te staan nie. Die mening is gehuldig dat so ʼn geleentheid tot spanning en verdeeldheid binne die skool kon lei. Hierdie waarneming is gegrond op die spanning wat leerders reeds in terme van die pandemie en akademiese druk ervaar,” lui die verklaring.

Volgens die beheerliggaam het die hoof aan die leerder voorgestel dat daar moontlik ander geleenthede kan wees, soos om Jeugmaand te vier, wat meer inklusief sou wees. Die skool het glo ook verder onderneem om meer te doen om onderlinge verdraagsaamheid en respek tussen leerders te bevorder.

“Sommige leerders het egter besluit om wel gedurende pouse bymekaar te kom. Soos wat die skool verwag het, het dit daartoe gelei dat ʼn groepie leerders onaanvaarbare aanmerkings gemaak het. Dié aanmerkings is heen en weer geslinger. Die uitkoms was presies wat die skool wou verhoed.”

Die skool het gesê hy betreur die voorval en besef dat daar harder aan sy planne gewerk moet word om wedersydse respek tussen leerders te bewerkstellig. “Die skool sal ondersoek instel na leerders wat die skool se gedragskode oortree het. Beraders is reeds besig om leerders, wat deur die voorval getraumatiseer is, te ondersteun.”

Die beheerliggaam het daarop gewys dat die skool aan die begin van die jaar sy nuwe bestaanstelling, visie, missie en waardes verwoord het wat daarop gemik is om ʼn inklusiewe skool daar te stel. “Die skool sal verdere planne maak en van kenners gebruik maak om diskriminasie en onverdraagsaamheid aan te raak.

“Ons doelwit is steeds om inklusief te wees en ʼn veilige ruimte vir elke leerder te skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.