Ondersoek gelas ná polisieman op taverne losbrand

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die polisie in Limpopo het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat ʼn 37-jarige polisiesersant Vrydag in die vroeë oggendure glo op ʼn taverne in Nwadzekudzeku losgebrand en toe die vuurwapen op homself gerig het.

Een mens is tydens die skietery dood en talle is beseer.

Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê die polisie is om 00:30 oor ʼn skietery by ʼn taverne in kennis gestel.

“Beamptes het vier mense met skietwonde op die toneel aangetref,” sê Mashaba.

“Een van die slagoffers is op die toneel dood verklaar en nog drie mense het ernstige skietwonde opgedoen. Hulle is na ʼn plaaslike hospitaal geneem.”

Volgens ooggetuies was ʼn polisiesersant in ʼn woordewisseling met die oorledenes en dié se vriende betrokke. Die beampte het toe sy vuurwapen uitgeruk en verskeie skote in die slagoffers se rigting geskiet.

“Sommige kliënte by die taverne het probeer om die sersant te keer, maar hy het toe glo lukraak skote in hul rigting begin afvuur,” sê Mashaba.

Dit het later aan die lig gekom dat die verdagte na sy huis in Nwadzekudzeku gevlug het waar hy homself doodgeskiet het. Hy was ʼn sersant verbonde aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Mopani-distrikskantoor.

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval veroordeel en dit beskryf as ʼn “onverwagse” wending van gebeure dat ʼn polisiebeampte die hoofverdagte in ʼn skietery is.

“Wetstoepassingsowerhede moet binne die raamwerk van die wet optree selfs wanneer hulle nie aan diens is nie.”

Die polisie het intussen ʼn saak van moord en poging tot moord aanhangig gemaak en ondersoek die saak verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.