Onderwyser buite Kaapse skool doodgeskiet

misdaadtoneel

Argieffoto ter illustrasie. 

’n Onderwyser is Dinsdag buite ’n laerskool in Heinz Park in die omgewing van Mitchells Plain in die Wes-Kaap doodgeskiet.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die provinsiale departement van onderwys, het vanoggend aan Maroela Media bevestig dat ’n wiskunde-onderwyser aan die Laerskool Heinz Park voor skool in die parkeerterrein doodgeskiet is.

Die onderwyser (53) het glo net parkeer toe twee onbekende mans sy motor genader het.

Kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, sê die slagoffer het nog in sy motor gesit toe hy omstreeks 07:45 doodgeskiet is.

Die twee verdagtes het van die toneel gevlug en is op vrye voet.

“Die voorval is uiters ontstellend. Ons het in hierdie stadium geen verdere besonderhede oor die voorval nie en die polisie is op die toneel,” het Hammond gesê.

Die departement het reeds beraders aan die skool verskaf om die onderwysers en leerders by te staan.

Die onderwyser het hom in 2008 reeds by die Laerskool Heinz Park aangesluit en het ten tyde van sy moord vir die gr. 6-leerders wiskunde gegee.

Die polisie doen intussen ’n beroep op lede van die publiek om enige inligting rakende die moord by die Stop Misdaadnommer, 08600 10111, aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marcello ·

Genade tog, en daar is so ‘n te kort aan veral Wiskunde Onderwysers. Sterkte aan sy familie, kollegas, vriende en leerders van die skool.

Sokrates ·

Hierdie tipe ding raak nou algemeen, jy ry doodgewoonweg winkel of werk toe en dan word jy doodgeskiet, of jy ry oor staalpenne, kry n papwiel of n klip teen jou voorruit… almal wat jou aanval is gewapen, waarskynlik ongelisensieerd. Hulle kom met boosheid, om te moor en te vermink. Ons het nie in die eerste plek beraders nodig nie, maar werklike en ordentlike beskerming en polisiëring. Ons het nie “protokolgedrewe troos-en-aanvaarding-en-aanbeweeg” tips nodig om vinnig te ontlont en kunsmatig te “normaliseer” nie. Die misdaadvoos Suid-Afrikaner se trauma lê eenvoudig te diep. Ons het heilige opstand nodig. Nie aanvaarding nie. Meneer, jy was soveel meer as net n misdaadstatistiek. Jy was ‘n mens met talente en drome en familie…….Jou land het jou gefaal.

JohanCzu ·

Daar is net een oplossing vir Suid Afrikaners – vat jou goed en trek. Die ervaring om in ‘n beskaafde land te woon is meer waardevol as enigiets anders.

Truth2bfree ·

Beskaaf wat jy waar kry . . . ?
Glo my jou hemelse woning sal jy defnitief nie enige plek op aarde vind nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.