Onderwyser van Klerksdorp tydens huisroof vermoor

Jaco Koekemoer (Foto: Lerato Palesa/Facebook)

Jaco Koekemoer (49), ʼn onderwyser van Laerskool Roosheuwel in Klerksdorp, is Donderdagoggend dood aangetref by sy huis in Elandsheuwel.

Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die polisie is die oggend omstreeks 04:15 na die toneel ontbied.

“Volgens voorlopige inligting het die bure geluide gehoor en alarm gemaak. ʼn Privaat sekuriteitsdiens was reeds op die toneel en het die beamptes gewys waar hulle die man se liggaam by die agterdeur aangetref het.”

Hy is tydens die voorval met ʼn skerp voorwerp aangeval en het verskeie steekwonde opgedoen.

Myburgh sê die sekuriteitswag het die verdagtes sien weghardloop, maar kon hulle nie aankeer nie. Dit is nie duidelik hoeveel verdagtes in die aanval betrokke was nie.

Die verdagtes het reeds elektroniese gereedskap en twee televisiestelle in die oorledene se motor gelaai, maar het laat spaander toe sekuriteit by die huis opgedaag het.

Enigiemand met verdere inligting word versoek om ao. Tarina Kemp van die Klerksdorp-polisie te kontak by 076 790 6876.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Koekemoer was alleen by die huis tydens die voorval.

Hy was ʼn oudleerling aan die Hoërskool Schoonspruit in Klerksdorp. In ʼn plasing op Facebook het vriende hul innige simpatie betuig met die familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.