Onderwysers se stresvlakke hemelhoog

Die SOS-opname het bevind onderwysers ondervind hoë stresvlakke. (Foto: pixabay)

Meer as die helfte (56%) van opvoeders wat aan ʼn meningspeiling van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) deelgeneem het, ervaar stresvlakke wat beskryf kan word as veel hoër as die gemiddeld – en tot 83% van onderwysers ly aan stresvlakke wat ʼn hoë gesondheidsrisiko inhou.

Die opname is in al nege provinsies gedoen, die meeste respondente is vroue (79%) en 81% van respondente se huistaal is Afrikaans. Altesame 44% van respondente is ouer as 50.

Die SOS sê soortgelyk aan navorsing oor opvoederstres in ander lande, toon studies in Suid-Afrika dat onderwysers ʼn verskeidenheid stressors in hul werk ondervind wat eie aan dié beroep is.

“Dit sluit in ’n gebrek aan dissipline, ongemotiveerde leerders, oorvol klasse, tydsdruk, die bedreiging van ontslag, en onvoldoende salarisse. Verder het die uitdagings wat opvoeders in die gesig staar, drasties verander met die instelling van die Suid-Afrikaanse Skolewet, die afskaffing van lyfstraf, bykomende mediums van onderrig en die nuwe kurrikulumbenadering,” lui die verslag.

Die studie maak gebruik van die sogenaamde Perceived Stress Scale (PSS-toets) se tien vrae wat as instrument vir stresassessering gebruik word.

PSS-toets

  • 0 – 7: Baie laer as gemiddeld
  • 8 – 11: Effens laer as gemiddeld
  • 12 – 15: Gemiddeld
  • 16 – 20: Effens hoër as gemiddeld
  • 21 en meer: Baie hoër as gemiddeld

Die SOS sê die gemiddelde telling vir die 1 924 opvoeders wat aan die opname deelgeneem het, was 21,6. In 2019 het dié telling op 21,5 gestaan en verlede jaar het dit effens gestyg tot 21,8.

Volgens die studie ondervind net 7% van opvoeders baie laer of effens laer as gemiddelde stres. ’n Verdere 9% ervaar gemiddelde stres en 26% se stresvlakke is hoër as gemiddeld.

“ʼn Skokkende 58% van opvoeders ervaar stresvlakke wat beskryf kan word as baie hoër as gemiddeld,” lui die verslag.

Die opname het voorts bevind:

  • Vroue ervaar hoër stresvlakke as mans
  • Meer ervare onderwysers se strestellings is laer as dié van hul minder ervare kollegas
  • Onderwysers op laer posvlakke het ʼn hoër strestelling as diegene in die bestuurspan en selfs skoolhoofde
  • Engelssprekende opvoeders se strestelling is die hoogste
  • Onderwysers wat in hul moedertaal klas gee, se strestelling is laer as dié van hul kollegas wat in twee tale klasgee
  • Net minder as ʼn derde van onderwysers het erken hulle is geneig tot emosionele uitbarstings
  • Die grootste bron van stres vir onderwysers is swak dissipline (27%) van leerders in klaskamers, gevolg deur ʼn swaar werklading (20%) en onnodige administrasie (16%)
  • Onderwysers bekamp stres deur vir die volgende les voor te berei en tyd saam met geliefdes deur te bring

Die taal van onderrig speel ʼn rol

Die SOS sê sy opname het bevind die onderrigtaal van onderwysers het ʼn duidelike uitwerking op hul stresvlakke. Volgens die navorsing ondervind die gemiddelde opvoeder wat slegs in hul moedertaal klas gee die minste stres, met ’n telling van 21, terwyl die gemiddelde opvoeder wat in hul moedertaal en ’n ander taal klas gee, ’n telling van 21,8 het.

Opvoeders wat slegs in ’n tweede taal klas gee, se strestelling is aansienlik hoër op 22,8. Engelse onderwysers wat in Engels klasgee, se strestelling is volgens die opname aansienlik hoër as diegene wat in ʼn tweede of derde taal klasgee.

Onderwysers is voorts uitgevra oor die grootste bron van stres in hul persoonlike lewe.

Die SOS-opname het bevind onderwysers is baie bekommerd dat hul swaar werklading veroorsaak dat hul familielede afgeskeep word en daar nie genoeg tyd vir hul persoonlike lewe is nie.

Die tweede stressor is finansiële druk wat volgens die opname altesame 26% van die opvoeders beïnvloed. Onsekerheid oor die toekoms in die land is uitgewys as die derde grootste bron van stres.

Aanbevelings

Luidens die opname is leerderdissipline die grooste bron van kommer vir onderwysers en dit word aanbeveel dat hulle opleiding ontvang in maniere om dissipline in die klaskamer te handhaaf. Die SOS sê hy bied reeds geruime tyd opleidingsessies hieroor aan wat onderwysers kan help.

Die verslag beveel ook aan dat gekyk word na onderwysers se werklading en die gebruik van tegnologie om dit te help verminder.

“Administratiewe take moet verminder en geoptimaliseer word om die impak op onderwysers se strestelling te beperk. Opleiding wat op administratiewe stelsels fokus, kan help om onderwysers se hande los te maak om op onderrigprosesse te fokus,” lui die verslag.

Luidens die verslag is interne personeelsake ʼn groot uitdaging vir onderwysers die aanbeveling is dat dit deeglik bestuur word.

Grafika: Skoleondersteuningsentrum

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Francois Le Cochon ·

My ondervingding en inligting wat ek al van onderwysers gekry het, is dat onderwysers se probleme vererger word deur skoolhoofde (wat ‘n opvoeder is en nie ‘n bestuurder), ‘n skool moet bestuur in terme van wetgewing en regulasies, maar dit nie doen nie. Skoolhoofde volg eerder die SBL se voorskrifte, (meesal teenstrydig met die SA Skolewet), in ruil vir onregmatige bykomende Artikel 38A vergoeding, betaal uit skoolfonds, sonder om enige bykomende pligte in terme van Artikel 38A te verrig. Die afskaffing van Art. 38A bykomende vergoeding vir skoolhoofde sal hierdie probleem oplos. Volgens die SA Skolewet moet ‘n SBL eerder ‘n skoolhoof se voorskrifte volg.

Johan ·

Ek stem 100% saam met jou, dit is veel erger by privaatskole en veral waar die woord Christenskap deel van die etos is.

Harry ·

Hierdie kan ek beslis glo. Hulle hoof taak is opleiding. Nou moet hulle polisie speel teenoor kinders wat maar kinders is. Om 100% van jou werksdag ‘n voorbeeld te wees soos die regering van jou verwag is nie maklik nie. My hart gaan uit na hulle.

Althes ·

Veral ook op kolleges word die dosent verantwoordelik gehou vir studente se prestasie per vak. Wanneer ekstra klasse aangebied word, daag die probleem leerlingenie

Francois Le Cochon ·

Netso. Ek weet van ‘n Xhoza dogtertjie wat nou in Gr1 is, in die engelse klas, Al engelse woorde wat sy kan se^ is “yes”, “no” en “huh”. Haar juffrou het nou met die ouers gereel dat al die Gr1 juffrouens (maak beurte) haar na skool gratis engelse klasse sal gee.

Samuel ·

Dit is beslis nie ‘n maklike taak nie. Dan sit die onderwysers nog met ouers wat die onderwysers nie goed gesind is nie en dit spoel oor na die kinders.

Willem ·

Ek stem saam. Adminastriewe take moet verlig word. Hierdie jaar het van die skole in Gauteng al 5keer hul registrrs oorgedoen. En dan kry jy skoolhoofde wat onderwysers boelie en net dink hulle is reg.

Karen ·

Ek kry ons onnies ongelooflik jammer regtig en nou met die virus wat weer die hoogte in skiet? By my kind sê skool weet ek maar net van 2 kinders, ñ pa en ouma en oupa wat pos getoets het, ek is seker daar is baie meer.

Marianna ·

Ek het in my lewe baie skole besoek. Ek sal nie een dag met die ongemanierde en ongeskikte kinders kan uithou nie. In een geval was ek by ‘n skool waar ‘n onderwyseres in haar klas net voor ek opgedaag het, in die gesig gespoeg is, ‘n ander een het my vertel dat sy geklap is en sy gaan bedank. Hulle mag nie aan die kinders raak nie. Die kinders weet hulle het die mag. Vandag se ouers het nie die ‘tyd’ om die kinders op te voed nie. In my opinie moet onderwysers dubbeld hulle salarisse verdien vir die kinders van wie hulle opgevoede, gemanierde mense van moet maak. Jammer om te sê, ek praat hier deur wat ek self beleef het en gehoor het van onderwysers in my familie.

Pim ·

Ek is baie dankbaar dat my kind in ‘n skool is waar hy ‘n ongelooflike opvoeding kan kry in Afrikaans. Die skool is baie erg op dissipline en hulle weet hulle gaan in groot moeilikheid wees as hulle nie ordentlik is nie. Die onderwysers daar sal uit hulle pad uitgaan om te help as jy hulle ordentlik vra.

Anoniem ·

Begin by die begin en gee eers weer aan onderwysers die mag om agterente te laat brand vir diegene wie nie wil luister nie.

isabelle ·

MY STRES VLAKKE SAL OOK HOOG WEES net om te dink aan die stoute kinders wat maak wat hul wil en respek vir die ouer mense verloor het en dan boer hul nog op die internet wat hul nog meer kwaad aan hul voorstel HARE OP DIE TANDE HE VANDAG maar ek is seker die kinders wat wel maniere het en wat se ouers hul ook reg leer maak dit weer n groot plesier STERKTE VIR DIE ONDERWYSERS IS NIE N MAKLIKE TAAK IN VANDAG SE DAE NIE :p

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.