Onderwysspesialis gevonnis oor bedrog met begrafnispolis

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Senior onderwysspesialis het ʼn opgeskorte vonnis gekry nadat hy aan versekeringsbedrog skuldig bevind is.

Die Valke sê tussen April 2014 en Januarie 2015 het ʼn makelaar, kop in een mus met ʼn polisiereservis, glo die reservis se tweede identiteitsdokument gebruik om versekeringsbedrog mee te pleeg. Die reservis het glo twee ID-boekies met verskillende geboortedatums en was glo gewillig om een vir die bedrogspul te gebruik.

Die makelaar het glo vyf van sy kliënte genader, onderwysspesialis Sizile Witness Mateta (55) een van hulle, om sterftepolisse vir die reservis uit te neem en ʼn eis in te stel nadat die wagtydperk verstryk het.

Benewens Mateta sluit ander verdagtes in die makelaar, sy dogter, die reservis, ʼn voormalige polisiebeampte, ʼn lid van die publiek en die eienaar van ʼn begrafnisonderneming en sy klerk wat beweer het hulle het die liggaam afgehaal en begrawe. ʼn Dokter het glo die kamma oorledene dood verklaar, sê kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke.

In Maart 2017 het ʼn forensiese ouditeur van 1Life ʼn klagte by die Valke in Oos-Londen aanhangig gemaak en dit het op 21 Januarie vanjaar tot die inhegtenisneming van al die verdagtes gelei. Die dokter is nie aangekeer nie.

Die ondersoek het gewys dat Mateta in Januarie 2015 ʼn eis van R30 000 vir die fopdood van die reservis by 1Life ingedien het. Hy het ook ʼn eis van R15 000 by Old Mutual ingedien. Albei eise is uitbetaal.

Die reservis het in daardie stadium by die Humewood-polisiestasie in Gqeberha (Port Elizabeth) gewerk.

Mateta het tydens sy eerste hofverskyning al skuldig gepleit en sy regsverteenwoordiger het gevra dat sy verhoor van dié van die res van die verdagtes geskei word. Byna ʼn maand ná sy inhegtenisneming is hy op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Hy is in Augustus vanjaar skuldig bevind en Vrydag gevonnis tot twee jaar tronkstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.

Mateta het reeds R8 000 van die eis wat aan hom uitbetaal is terugbetaal en die hof het gelas dat hy die oorblywende R7 000 ook terugbetaal. Mateta het ook die R30 000 wat 1Life aan hom uitbetaal het, terugbetaal.

Die ander sewe beskuldigdes se verhoor word op 9 November voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

‘n Reservis!!! Dis ‘n gewone lid van die publiek wat in sy af tyd polisieman speel. Wat maak hom so belangrik dat sy naam nie genoem word nie? Hy is net so ‘n skelm en ek kan nie dink dat hy nog ‘n reservis is nie! Die spul doen die polisie amper meer skade as van die permanente lede. En bedrog is bedrog! Hoe is dit dat sekere mense lank tronk toe gaan en ander, soos dié hiet, kry net ‘n opgeskorte vonnis?

Yvonne ·

En vir die growwe misdaad kry hy n opgeskorte vonnis…NEEEEEE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.