Die Verenigde Nasies se Voedsel-en-landbouorganisasie (FAO) het gesê ʼn toename in sprinkaanplae bedreig voedselsekerheid in Oos-Afrika.
“Sprinkaanplae in Ethiopië, Kenia en Somalië, reeds ongekend in grootte en verwoestingspotensiaal, kan eksponensieel toeneem en na ander lande in Oos-Afrika versprei indien pogings om plaagbeheer toe te pas, nie opgeskerp word nie,” het die organisasie vandeesweek gesê.
Qu Dongyu, direkteur-generaal van FAO, het gesê owerhede in die streek het reeds met beheermaatreëls begin, maar internasionale skenkings is dringend nodig om die swerms onder beheer te bring.
Volgens die organisasie kan woestynsprinkane sowat 150 km per dag vorder en landelike gebiede verwoes in hul behoefte om te vreet en voort te plant. ʼn Woestynsprinkaan vreet daagliks sy eie gewig in kos – sowat twee gram.
Swerms beweeg na Kenia van Ethiopië en Somalië en versprei na die middel van die land. In Ethiopië beweeg die sprinkane in die rigting van die Riftvallei – die land se kosvervaardigingsentrum.
“Ethiopië en Somalië het in 25 jaar nog nie swerms van dié grootte beleef nie en dit is die grootste sprinkaanbedreiging in Kenia die afgelope 70 jaar,” aldus die FAO.
Suid-Soedan en Uganda word nog nie geraak nie, maar kan moontlik ook bedreig word.
“Die spoed van die plaag se verspreiding en die grootte van die swerms is soveel groter as die norm dat dit die kapasiteit van plaaslike en nasionale owerhede tot die uiterste toe strek. Skenkings is dringend nodig om plaagbeheer toe te pas vir gemeenskappe wat reeds deur die droogte geteister is.”
Volgens ʼn konserwatiewe skatting word nagenoeg $70 miljoen benodig.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
19 Kommentare
En so gryp die natuur by die ANC se grondgrype plan in wat voedselsekerheid op sy kop sou maak staan.
En dan is daar nogsteeds die van julle wat nie in klimaatsverandering glo nie.
Die plae het gereeld in die Karoo voorgekom. As die plaag deur getrek het is daar ‘n strook kaalgevrete grond. Die springkane laat ook goeie mis agter en na die reen groei daardie kaalgevrete stuk grond baie goed. Dit is hoe die natuur werk.
Hulle kan dankbaar wees. Ons het die regering wat ons voedselsekerheid bedreig.
Daardie springkane is baie voedsaam, dalk beter as die graan wat hulle plant.