Ongeluk eis 3 matrieks: Bestuurder dalk onder invloed

Mmaphefo Matsemela, LUR vir onderwys in Noordwes, (Foto: ANA)

Die Suid-Afrikaanse nasionale taxiraad (Santaco) in Noordwes ondersoek ’n ongeluk waarin drie matrieks dood is nadat hulle ’n matriekafskeidfunksie in Brits ná afloop van die matriekeindeksamen bygewoon het.

Die taxi met 14 matrieks aan die Rethusegile Secondary School in die Lethabong-nedersetting naby Rustenburg was verlede Vrydagaand van ’n oord naby Brits onderweg huis toe toe dié voertuig op die R511 omgeslaan het.

Serame Sebogo, voorsitter van Santaco, sê die raad ondersoek die moontlikheid dat die bestuurder van die taxi onder die invloed van drank was ten tyde van die ongeluk.

“Ons het dit met die nodige wetstoepassers nagegaan en nog geen positiewe verslag gekry nie,” bevestig Sebogo.

Soos vroeër berig, is Isaac Nkosi (18), Tshepiso Moagi (21) en Amogelang Diphoko (20) op die toneel dood verklaar. Die taxibestuurder en 11 ander leerders het ernstige beserings in die voorval opgedoen en is na die Brits-distrikshospitaal vervoer vir mediese behandeling.

’n Gedenkdiens is Donderdag vir die drie oorledenes gehou.

Mmaphefo Matsemela, LUR vir onderwys in Noordwes, het tydens die gedenkdiens aan familie en vriende gesê dat Rethusegile vir die volgende vyf jaar geen reise mag onderneem nie. Sy het gesê streng optrede is nodig sodat ander lesse kan leer.

Matsemela het ook ’n span saamgestel om te ondersoek of die skooluitstappie deur die departement goedgekeur is.

Die begrafnisdiens van die drie leerders sou saam Saterdag in Lethabong gehou word. Weens die Covid-19-regulasies wat die aantal mense per begrafnis beperk, word die begrafnisse nou afsonderlik gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanEtz ·

Ek vermoed jy het nie mooi gelees nie? Dis die skool wat vir 5 jaar verbied word om reise te onderneem…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.