Ongeluk eis ANC-lid van parlement

Mxolisi Sokatsha, ‘n ANC-LP, het Vrydagaand verongeluk.

ʼn ANC-lid van die parlement, Mxolisi Sokatsha, is Vrydagaand in ʼn motorongeluk op pad na sy huis in die Noord-Kaap dood.

Die ANC- parlementêre koukus het dié inligting Saterdag in ʼn verklaring bekendgemaak.

Die ongeluk het tussen Hopetown en Belmont op die N12 plaasgevind toe ʼn Toyota Fortuner die pad verlaat en op sy dak in die veld beland het. Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie.

Luidens die ANC se verklaring het Sokatsha ten tyde van sy dood in die portefeuljekomitee vir gesondheid gedien. Hy was ook voorheen ʼn lid van die provinsiale wetgewer in die Noord-Kaap en is in 1994 as die burgemeester van Richmond aangewys, ʼn pos wat hy vir twee jaar beklee het. Hy het opleiding gehad as onderwyser in wiskunde en wetenskap.

“Die koukus betuig sy medelye met sy familie en kinders tydens hierdie hartseer tyd van verlies.”

Huldeblyke het ook op sosiale media ingestroom en volgens vriende en oud-medestudente sal hy veral onthou word vir sy goedhartigheid.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.