Onkruid gaan hul vreet, maar wat gaan dié monsters heet?

(Foto: Verskaf)

Die Stad Kaapstad het inwoners gevra om te help besluit op name vir die Moederstad se nuwe onkruidstropers wat binnekort by Zandvlei en Rietvlei ingespan gaan word.

Die werktuie is spesiaal ontwerp om onkruid in die twee vleilande te oes en indringerplantspesies te verwyder om sodoende die watergehalte te verbeter.

“Die verbetering in watergehalte sal almal bevoordeel wat hierdie vleie vir ontspanningsdoeleindes gebruik en is in belang van ons natuurlike omgewing en unieke biodiversiteit,” sê Eddie Andrews, adjunkburgemeester van Kaapstad en burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewingsake.

Die onkruidstroper vir Zandvlei sal teen einde November afgelewer word en die een vir Rietvlei word teen Februarie volgende jaar verwag.

Die stad vra nou vir voorstelle vir name vir die twee onkruid-verorberaars. Dit kan van Maandag (3 Julie) tot Sondag (16 Julie) ingedien word en ʼn motivering vir die naam moet elke voorstel vergesel.

“Die voorstelle moet verband hou met enige van die inheemse waterdiere, insluitend soogdiere, voëls, reptiele, amfibieë, vis- of insek-spesies, wat in hierdie vleigebiede rondloop, of inheemse plante.

“Die voorgestelde naam kan ook in enige van die Wes-Kaap se inheemse tale wees.”

Só werk die naamgeeproses:

  • Sodra voorstelle ingedien is, sal die stad se biodiversiteitsbestuurstak vyf name vir elke onkruidstroper op ’n kortlys plaas.
  • Die advieskomitee vir beskermde gebiede (OBK) vir die Zandvlei- natuurreservaat en die OBK vir die Tafelbaai-natuurreservaat sal die voorkeurnaam vir elke onkruidstroper uit die kortlys kies. (Die OBK’s is onafhanklike komitees wat belanghebbendes en die plaaslike gemeenskappe verteenwoordig, en werk nou saam met die stad by die Zandvlei- en die Tafelbaai-natuurreservaat.)
  • Die name vir die twee onkruidstropers sal in die eerste week van Augustus bekend gemaak word.

Andrews sê om die masjiene name te gee, is ʼn belangrike simboliese proses.

(Foto: Verskaf)

“Deur naamgewing neem ons eienaarskap en verantwoordelikheid. Deur iets te benoem, sê ons dat ons omgee. Hierdie masjiene behoort aan elke inwoner van Kaapstad. Die stad is slegs die bewaarder wat verantwoordelik is om daarna om te sien en dit tot voordeel van inwoners en ons natuurlike omgewing te gebruik.

“Daarom doen ons ʼn beroep op Kapenaars om naamvoorstelle vir die twee onkruidstropers in te dien.

“Ons is opgewonde om hierdie voorleggings te ontvang en wil kreatiwiteit en inklusiwiteit aanmoedig, veral wanneer dit by ons plaaslike inheemse tale kom.”

Andrews het verlede week saam met die stad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, en Theresa Uys, burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe dienste, die fabriek op Paardeneiland besoek waar die spanne bevestig het alles is op koers met die lewering van die vaartuie.

Met die oes van onkruid, sal die stad by die Zandvlei die makrofiet-onkruid Stuckenia pectinata, beter bekend as sagofonteinkruid, en Ruppia spiralis (bekend as spiral tasselweed) fokus.

Die onkruidstroper sal ook drywende draadvormige algmatte verwyder wat in die somermaande op die wateroppervlak kan ophoop.

  • Kliek hier om aan die aanlyn naamgeeproses deel te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marthinus Johannes ·

Kry Sommer 10 vir Harties en 5 vir Elke dam in Gauteng wat besmet is met Hiasinte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.