Onluste: Trane loop oor kosbare kleinode

Een van die fotoalbums wat Mandy Wilson uit die puin gered het. (Foto: Verskaf)

Honderde verstommende verhale van hoop het na afloop van die verwoestende onluste vroeër vandeesmaand in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng aan die lig gekom. Een hiervan is dié van Mandy Wilson, ʼn inwoner van Durban, wat gesinne gehelp het om kosbare kleinode op te spoor nadat ʼn stooreenheid in Brackenhill geplunder is.

Talle van Wilson en haar gesin se besittings was in ʼn stooreenheid in Brackenhill toe plunderaars daarop toegesak het. Deure is oopgebreek en alles met geldwaarde is gestroop. Items wat nie weggedra kon word nie is beskadig, aan die brand gesteek of met ontlasting bevuil, terwyl items sonder oënskynlike geldwaarde onder honderde voete vertrap is.

‘n Kind se tekening wat Wilson gevind het.

Foto’s, sertifikate, albums, kinderkombersies. Kleinode wat iemand eens gekoester het.

Wilson was aanvanklik geruk deur die verwoesting wat in hul eie stooreenheid gesaai is. Nadat die opruim- en siftingswerk van die gesin se eie items vir haar te veel geword het, het sy asof in ʼn dwaal deur die res van die perseel gestap.

Daar het sy besef ook soveel ander mense se kosbaarhede lê verstrooi. Sy het dit wat sy kon versigtig begin bymekaar maak en huis toe geneem. Dié items het sy afgeneem en op Facebook geplaas in ʼn poging om dit weer by hul regmatige eienaars te kry.

Die reaksie was oorweldigend.

“Mense hou aan om hul kosbaarhede te kom haal. Hier was al soveel trane en mense is só ongelooflik dankbaar. Hulle het gedink hulle het niks oor van goed soos kinders se tekeninge of spesiale sertifikate nie; items soos die ID-boekie van ʼn geliefde wat dood is, maar wat die wêreld vir iemand beteken,” sê Wilson.

Dit was nie weggedra is nie, is verwoes of beskadig. (Foto: Verskaf)

“Ons ondersteun mekaar en ons kom saam hierdeur. Jy sien hoe iemand met die oprit opstap en dan ʼn kosbare besitting weer in hul hande vashou.”

Wilson sê die verwoesting was aanvanklik bykans oorweldigend. “Ek kan omtrent nie beskryf wat hulle gedoen het nie. Dit was afgryslik. Dit was ons lewens wat daar gelê het.”

Dag na dag is Wilson en haar gesin – nes talle ander mense wat dieselfde gedoen het – terug na die eenhede om te red wat hulle kon. Twee dae lank het sy verby haar eie trourok in die puin geloop en items versamel voordat sy besef het wat tussen die rommel lê.

“Ons is emosioneel deur hel,” sê Wilson.

“Om ander te help was my redding. Dit is ook wat my die moed gegee het om my eie eenheid te hanteer. Elke keer wat dit vir my te veel geword het, het ek weggestap en ander mense se goed versamel.

Die chaos wat eens die Wilson-gesin se stooreenheid was. (Foto: Verskaf)

“Dit het later vir my soos terapie geword. As my eie eenheid my oorweldig het, het ek ʼn draai gaan stap. Dit het my uiteindelik net soveel gehelp as wat dit ander mense gehelp het.”

In die puin het Wilson selfs haar trourok gevind. (Foto: Verskaf)

Hulp op die regte plek

‘n Begunstigde van die Rebuild SA Fund wys sy dankbaarheid met ‘n skenking. (Foto: Facebook)

In die nadraai van die onluste het Sam Rafferty die Rebuild SA Fund op die been gebring om veral klein en mediumgrootte ondernemings weer op hul voete te help.

Rafferty, ʼn kleinsake-eienaar en ma, sê haar winkel in die Watercrest-winkelsentrum was bykans onaangeraak in die verwoesting. Die res van die gebied het egter kwaai deurgeloop en sy het besluit om haar wye netwerk kontakte in te span om ander te help.

Sam Rafferty, self ‘n kleinsake-eienaar, is die stigter van die Rebuild SA Fund. (Foto: Verskaf)

“As ʼn kleinsake-eienaar moes ek iets doen om te help. Ek wou nie net konsentreer op kitsoplossings nie, maar wil mense help wat op hulle beurt weer gaan help om die ekonomie te herbou.”

In die eerste twee weke het die organisasie op onmiddellike nood gefokus. Dit sluit in die verskaffing van kos en basiese benodighede soos doeke. Kinder- en ouetehuise is ook geprioritiseer.

Rafferty sê begunstigdes word egter streng gekeur – of dit nou individue of organisasies is – om te verseker die hulp bereik die regte mense.

Dit is egter nie net die groot dinge wat ʼn wêreld se verskil in iemand se lewe kan maak nie, sê Rafferty. Die organisasie help byvoorbeeld om iemand wat weens ʼn gebrek aan elektrisiteit nie weer sy onderneming aan die gang kan kry nie, om die ligte aan te hou.

Ander eenvoudige dinge, soos ʼn gebarste geiser waarvoor daar nie geld is nie, kan danksy die organisasie se netwerk van kontakte weer sy deure oopmaak. Soms benodig iemand net hulp om ʼn elektriese heining te herstel of ʼn veiligheidskamera te installeer.

Rafferty sê op dié manier word nie net ʼn enkele sake-eienaar of mens gehelp nie, maar ook elke kontrakteur wat betrek word om die werk te doen.

“Ons mobiliseer binne die gemeenskap en soveel mense doen soveel goeie werk. Mense kry op verskillende manier swaar. Sommige se voorraad is alles gestroop, ander het geld nodig om hul werkers se lone te betaal of kort net ʼn rekenaar.”

Benewens onmiddellike noodverligting vir kinders en bejaardes en hulp aan kleinsakelui beywer die organisasie hom ook vir die verskaffing van traumaberading en sielkundige hulp. “Soms kan iemand nie eens die basiese medikasie vir depressie meer bekostig nie.”

Mense het hul harte oopgemaak. (Foto: Verskaf)

Rafferty sê as sy net op haar eie sakeonderneming sou konsentreer – wat in hierdie stadium self swaarkry – sou haar geestesgesondheid daaronder gely het.

“My energie kom daarvan om ander te help: Dit gee vir my ʼn doelwit in die lewe.

“Ek is nie reg om dié land te verlaat nie. Die terugvoer wat ons kry is wonderlik en klein dinge maak ʼn groot verskil.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Werner ·

N mens sou sweer dat die afbreek en pundering n wonderwerk was.Want daar os soveel stories van hoop.Hoe siek is reenboog land nie die is maar net die begin.Die ergste kom nog.

Catharina ·

Plundery is nie ‘n wonderwerk nie nee… maar ons reaksie en die stories van hoop spreek van wonderwerke, van die menslikheid van baie mense, in hierdie tyd wat ons met soveel harde harte te doen kry. Maak my emosioneel voel, trots voel…. en gee hoop!!

Samuel ·

So waar, Catharina. Die mooi stories wat uit die as verrys, gee hoop. As ons almal opregte hulp verleen aan mense wat dit nodig het en waardeer, sal ons die land vinnig weer aan die gang kry. Géén uitdeel aan rampokkers nie.

Oujongvrou ·

Daar is net een ding wat ek bitter graag sou wou doen. Om die vrot stof van hierdie land van my voete af te vee en weg te kom. Maar helaas, eks te oud. My hoop is in die Vader. Dalk kom daar uitkoms.

Cherokee ·

Hoeveel is tè oud, Catharina? Daar is instansies wat hoop soek vir ‘oues’ om te emigreer.

anniekiewiet ·

God sê nêrens dat ons geen storms gaan beleef nie. Maar Hy dra elke gelowige deur elke storm.

Johan ·

Net een vraag. As dit so waardevol is hoekom dit in `n stoorplek bere?

Misky ·

Kan baie redes Johan. So is vriende van ons se nuwe huis in die finale stadium van bou en hulle moes noodgedwonge by vorige huis uittrek. Hulle het vir maand of wat by gastehuis ingeboek en al hul meubels in 3 stoor eenhede gesit. Nou is dit weg, beskadig of net verniel. So ook weet ek van ander familie wat jaar oorsee moes gaan werk en al hul besittings stoor. Nou is daar niks oor nie.

Tanniepetoors ·

Die twee vroue se entoesiasme en moed het my swartgalligheid vanoggend sommer by die venster laat uitvlieg en dankbaarheid het met mening oorgeneem.
Dankie, baie dankie vir julle en ander soos julle.

Martie Smartie ·

Afrika op sy beste, plunder, roof, moor, African dream

Foefie ·

Ek onthou my oumagrootjie het ‘n Gesegde gehad toe ek 5 jaar oud was: “Dit is tyd dat God moet kom”. Ek kan dit maar net herhaal, nou, 60 jaar later: “Asseblief. Dit is tyd dat God moet kom”. Ek is moeg en siek en sat van die wêreld en sy dinge.

Anoniem ·

Dit is hoekom nedersettings deesdae self gereg in eie hande neem en diè laat boet wat hul te na kom.
Die SAPS en Regering is te sleg om dissipline toe te pas want hul vorm deel van die kader wat alles breek en brand.

Cecilia ·

Dis goed om ander te ondresteun. Dit gee mens n doel in d lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.