‘Ons leef in vrees,’ vertel UV-student ná aanranding op kampus

(Foto: Uhthred of Ragnarson/Twitter)

“Die kampus is ’n plek waar jy veronderstel is om veilig te voel, maar ons leef tans in vrees.”

Só vertel ’n PhD-student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat dit nie waag om haar voete weer op die hoofkampus in Bloemfontein te sit nie nadat sy Woensdag deur ’n groep betogers aangerand is.

Daar is sedert Dinsdag gewelddadige betogings op die Bloemfontein-, Suid- en Qwaqwa-kampus van die UV. Die betogers is meestal studente wat ongelukkig is oor die vertragings in NSFAS-betalings.

Die PhD-dierekundestudent het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media vertel dat sy nie die enigste slagoffer van die betogings is nie.

“Toe ek die voorval by die kampus se sekuriteitsdienste aangemeld het, het daar reeds ’n hoop aangemelde sake teen die betogers op die ondersoekbeampte se tafel gelê,” vertel die student.

Die student het ook ’n saak by die polisie aanhangig gemaak en wag vir ’n saaknommer.

Skade aan die landbougebou op die UV-hoofkampus (Foto: Verskaf)

Altesaam 22 studente is reeds in hegtenis geneem in verband met die betogings.

Volgens lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, is 14 studente, tussen 19 en 24 jaar oud, Woensdag omstreeks 10:00 op die hoofkampus in Bloemfontein en Suidkampus in boeie geslaan, onder wie agt op die hoofkampus en ses op die Suidkampus.

Nog agt studente is ure later, omstreeks 17:00, op die hoofkampus aangekeer omdat hulle na bewering die Nelson Mandela-rylaan versper en verbygaande motors met klippe gegooi het.

“Sake van openbare geweld is by die Parkweg- en Kagisanong-polisiestasies aanhangig gemaak. Die aangekeerde studente het Vrydag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn,” bevestig Covane.

Studente en personeellede is na bewering deur betogers aangerand, gedreig en geteister, terwyl motors en infrastruktuur ook beskadig is. Groot skade is onder meer aan die hoofgebou van die landboudepartement aangerig, waar betogers ruite uitgegooi het.

Verder word akademiese aktiwiteite ontwrig. Die universiteit het studente Woensdag in kennis gestel dat die akademiese program (aktiwiteite, klasse en werkopdragte) van Woensdag tot Vrydag sal geskied.

Volgens Lacea Loader, woordvoerder van die universiteit, is die situasie tans op al drie kampusse kalm.

“Die UV se beskermingsdienste en die polisie is steeds op ’n hoë gereedheidsvlak en die situasie op die kampusse word noukeurig dopgehou,” sê Loader.

’n Oomblik van vrees

‘n Vrou het met ‘n lang stok die PhD-student gedreig (Foto: Skermskoot)

Die PhD-student is Woensdag net voor 11:00 kampus toe. Volgens haar het hulle nog geen korrespondensie van die universiteit oor betogings ontvang nie.

“Ek het oor die brug gestap en ’n groot groep mense gesien stap. Ek het eers niks daarvan gedink nie. Toe ek nader gaan, het ek egter besef die mense lyk aggressief. Hulle het motors geslaan. Ek het besef hier is moeilikheid,” vertel die student.

Die student het oor die pad gestap in ’n poging om die groep mense te vermy.

“Ek het my selfoon uitgehaal en ’n boodskap aan my vriendin gestuur om haar oor die mense te waarsku. Dit is toe dat die een man in die groep vir my skree om nie ’n video te neem nie. Ek het vir hom probeer verduidelik dat ek nie ’n video neem nie, maar ’n boodskap vir my vriendin tik. Ek het hom ook bewus gemaak daarvan dat my foon af grond toe wys.

“Ek glo die selfoon was die trigger wat die betogers toe kwaad gemaak het.”

Die man, gevolg deur die groep betogers, het op die student afgehardloop.

“Die man het my teen die kar vasgestamp en ’n vrou met ’n lang stok het ook in my rigting gestap. Die man en vrou, albei geklee in EFF-hemde, het my hard teen ’n kar gestamp en toe tussen twee karre vasgedruk.”

Volgens die student het die vrou haar met die stok beetgekry, terwyl die man op haar geskree het.

“Ek kon nie uitkom nie, want ek was deur die twee betogers en die twee karre vasgedruk, terwyl hulle in my ore gegil het.”

Die student vertel sy het onlustebeheerbeamptes, wat die kampus aanstel tydens betogings, gesien wat sowat twee meter van die voorval gestaan het. Sy sê die beamptes het hul rug op haar gedraai.

“Ek glo hulle het gemaak asof hulle niks sien nie.”

’n Ander student, wat deel was van die groep betogers, het ingespring en die man van die student afgetrek en gesê sy moet weghardloop.

“Adrenalien het in daardie stadium deur my liggaam gepomp. Ek het na die beamptes gehardloop en in ’n toestand op hulle gegil en gevra waarom hulle my nie gehelp het nie. Hulle het vir my gesê hulle mag my nie help nie en daarna gevra: You are safe now, so why do you want to cry?

“Persoonlik dink ek dit is onaanvaarbare gedrag van mense wat veronderstel is om ons veilig te hou.”

Die student het na haar departementshoof toe gehardloop en in trane uitgebars.

“Ek was in skok en getraumatiseerd. Ek het nooit gedink só iets sal met my gebeur nie. Jy sien altyd hierdie soort goed op video en hoor daarvan in die media.”

Die saak is daarna by die kampus se sekuriteitsdienste en die polisie aangemeld.

Die student, wat al die afgelope agt jaar aan die UV studeer, sê daar was verskeie betogings op kampus oor die jare, maar dié een het heeltemal handuit geruk.

Sy beweer die veiligheid op kampus gaan ook die afgelope ruk agteruit.

“Jy weet nie of jy met ’n klip gegooi gaan word wanneer jy die kampus binnery nie. Ek loop met ’n skokstok rond. Ons studente leef in vrees.”

Die student is ook ontsteld daaroor dat die universiteit hulle nie betyds in kennis gestel het oor die betogings nie.

“Ek het eers ’n halfuur ná die voorval ’n e-pos van die universiteit gekry wat sê dat daar betogings op kampus is, maar dat dit “onder beheer en rustig is”.

Die student sê hulle weet tans ook glad nie of die betogings steeds voortgaan en wanneer dit veilig sal wees om terug te keer na die kampus.

Volgens Loader het die universiteit die student  bygestaan om die voorval ook by die polisie aan te meld en reëlings is vir berading is getref.

“Die voorval word ondersoek en die nodige stappe sal geneem word indien die oortreders geidentifiseer word,” sê Loader.

Skok en teleurstelling

Prof. Francis Petersen, UV-rektor en -visekanselier, het Donderdag op ’n aanlyn konferensie om verskoning gevra vir die studente, personeellede en lede van die publiek wat geraak is deur die betogings. Hy het gesê die gedrag wat die betogende studente getoon het, stem nie ooreen met die waardes van die UV nie.

Hy het beloof dat daar stappe teen die betrokke studente gedoen sal word.

“Daar sal gevolge wees vir die studente wat hulle aan strafregtelike gedrag aandadig gemaak het. Die UV se beskermingsdienste werk hard om die studente te identifiseer wat weens die gewelddadige optrede in hegtenis geneem is en deur die universiteit dissiplinêr verhoor moet word. Dit sal so spoedig en doeltreffend moontlik geskied,” het Petersen gesê.

Volgens Petersen verstaan hy dat die studente woedend oor hul NSFAS-gelde is, maar keur nie die manier waarop hulle die woede uitgedruk het goed nie.

“Die wyse waarop hulle hul woede uitgedruk het – in die vorm van vandalisme, verwoesting en in sekere aspekte misdadig, is heeltemal onaanvaarbaar. Hierdie gedrag kan nie die feit dat hulle nie hul toelaes gekry het, regverdig nie.

“Dit is ook onregverdig om hul woede teenoor die universiteit uit te haal, wat gespook het om seker te maak die studente kry hul geld.”

Uitbetaling van NSFAS-toelaes sloer

NSFAS het tot einde Junie nog toelaes betaal, maar gebruik sedert einde Julie ’n aanlyn bankdiens, eZaga, om die gelde aan studente oor te betaal.

“Van die sowat 21 000 studente wat NSFAS-toelaes ontvang, is nagenoeg 20 000 se inligting reeds na die nuwe stelsel oorgedra. Die universiteit het gehelp om seker te maak al die studente se inligting word op die nuwe stelsel geplaas.”

Volgens Petersen is die universiteit eers Woensdag in kennis gestel dat slegs 11 000 studente se NSFAS-gelde betaal is.

“Die universiteit het ’n paar weke gelede ’n brief aan die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, geskryf om ’n vergadering met die 26 visekanseliers, die hoof van NSFAS en die voorsitter van die NSFAS-raad te beplan. Dit is om die kwessies rakende die NSFAS-uitbetalings te bespreek. Die vergadering is geskeduleer, maar het nooit plaasgevind nie.”

Petersen sê die universiteit voer tans samesprekings met NSFAS om die probleem op te los.

*Hierdie berig is gewysig sedert publikasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.