‘Ons rede vir bestaan is weggeruk’

Marlene Mans by haar seun, Victor du Plessis. (Foto: Verskaf)

Victor du Plessis, die 35-jarige man wat aan verskeie ongeneesbare siektes gely het, het Vrydag sy laaste asem uitgeblaas toe sy organe ingegee het.

Sy ma, Marlene Mans, het haar seun se hand tot op die einde vasgehou.

Maroela Media het vroeër berig dat Mans, ʼn enkelma, haar lewe lank vir haar seun gesorg het. Du Plessis is met spesiale behoeftes gebore en het jare lank die een gesondheidstryd na die ander gevoer.

Victor is Vrydagmiddag omstreeks 16:00 by die Santa Fe-kliniek in Rustenburg dood waar hy sedert April verlede jaar versorg is.

Mans sê sy en haar dogter, Vianca, kon sien dat hul seun en broer “op sy einde” is.

“Hy het die laaste vyf maande net sieker geword en van al die infeksies het sy niere begin ingee. Hy het chroniese pyn verduur, wou nie meer eet of drink nie en het die meeste van die tyd geslaap. Sy liggaam het nie meer op medikasie gereageer nie.”

“Victor se afsterwe laat ʼn gat groter as die oseaan. Dit voel of ons rede vir bestaan weggeruk is, aangesien dit alles om Victor gedraai het. Nou moet ons die tyd gevul kry met iets anders.

Victor was ten tye van sy dood in ʼn rolstoel, het aan diabetes en epilepsie gely en kort voor sy dood is demensie en Alzheimer se siekte ook by hom gediagnoseer. Hy het voorheen ook drie beroertes gehad.

“Ons het hom vir jare sien veg. Hy het die afgelope maande gely en baie swaar gekry. Ons weet hy is nou verlos van pyn en ons gun hom sy nuwe lewe saam met God – sonder pyn en lyding.”

Mans sê hulle sal Victor se groot glimlag en veggees altyd onthou.

“Dit was die klein dingetjies wat hom gelukkig gemaak het. Ons het geleer van geduld, onvoorwaardelike liefde, van dankbaarheid, genade en empatie,” het Mans aan Maroela Media gesê.

“Ons het geleer om die wêreld deur die oë van ʼn kind te sien. Ons het geleer dat opgee nie ʼn opsie is nie. Teen die einde het ek egter ook geleer hoe om vrede te maak met God se wil en tyd.”

Mans sê die gesin is dankbaar vir die goeie versorging wat haar seun by die Santa Fe-kliniek ontvang het.

Victor, of Vicky soos sy geliefdes hom genoem het, sal op 19 Julie finaal gegroet word. Sy gesin noem dit sy “verlossingsdiens”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Dit moet bitter seer wees… Marlene en Vianca, mag God Sy Arms om jul vou. Sterkte vir die hartseer tyd. Victor se glimlag is so treffend en die liefde straal uit jul uit. Julle is kosbaar en heldinne in my oë omdat jul soveel liefde en omgee aan hom betoon het. Julle het julle alles gegee vir die tyd wat Victor op aarde was. RIV Victor.

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel Marlene en Vianca. Was in dieselfde bootjie as jul, enkel ouer met my seun wat ook spesiale versorging vereis het en verlede jaar ook op die ouderdom van 35 oorlede is, die pad vorentoe sonder hom is nie altyd maklik nie. Die leemte vang mens, sy sussie sukkel ook nog om alles te verwerk. Jul bly in ons gebede.

Trotse Boervrou ·

Sjoe Swerwer, sterkte vir jou ook. Kan my nie voorstel hoe seer jul moet hê nie. Mag God Sy Arms ook om jou vou.

Mariaan ·

Mamma…wat n wonderlike vrou is jy nie! Al die jare so met liefde na jou seun omgesien..jammer vir jou seer hart..maar weet jy is beslis n engel..wat ook die wereld vir hom was…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.