Ontvoerde sakeman van Burgersfort gevind

Solly Tayob is veilig met sy gesin herenig. (Foto: Facebook)

ʼn 27 dae lange ondersoek het ʼn gelukkige einde vir ʼn ontvoerde sakeman van Burgersfort in Limpopo opgelewer.

Solly Tayob (65) is Vrydag veilig met sy gesin herenig nadat hy op 2 Junie deur swaargewapende mans by sy Hyundai-motoragentskap ontvoer is.

Twee verdagtes is reeds in verband met die ontvoering in hegtenis geneem en sal Maandag vir ʼn tweede keer in die Praktiseer-landdroshof verskyn.

Ao. Lethunya Mmuroa, woordvoerder van die Valke, sê ʼn multidissiplinêre taakspan is onder leiding van genl.maj. Gopz Govender, provinsiale hoof van die Valke in Limpopo, op die been gebring om Tayob op te spoor.

Die span het onder andere uit lede van die Valke, nasionale misdaadintelligensie, Limpopo Crime Scene Management, die Burgersfort-hoofwegpatrollie en private ondersoekers van Bravalor Risk bestaan.

“Die multidissiplinêre taakspan het oor 27 dae intensiewe kuber,- forensiese en ander onkonvensionele ondersoekmetodes gebruik om die suksesvolle opsporing van die slagoffer te verseker,” het Mmuroa gesê.

“Die Valke het die ondersoek met ywer en daadkrag aangepak om te verseker hy word veilig gevind.”

Die ondersoek duur intussen voort.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale Valkehoof, het die span vir hul ondersoekwerk tot dusver geloof.

Hy het ook versoek dat “geen steen onaangeroer gelaat word nie” om al die skuldiges vas te trek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.