Onwettige mynbou: Spesialiseenhede in Riverlea ontplooi

Bheki Cele (Foto: Rasaad Adams)

Minister Bheki Cele sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het spesialiseenhede in Riverlea in Johannesburg ontplooi nadat vyf liggame, vermoedelik dié van onwettige mynwerkers, Sondag naby ʼn verlate mynskag gevind is.

Onwettige mynboubedrywighede seëvier glo, net soos in verskeie ander van Gauteng, in die omgewing van Riverlea.

Cele het Maandag tydens ʼn besoek aan die misdaadtoneel by die Zamimpilo-nedersetting gesê gespesialiseerde eenhede sal ontplooi word in ʼn poging om onwettige mynbou in die omgewing uit te roei en wet en orde in Riverlea te herstel.

“Ons kan nie ʼn situasie hê waar gemeenskappe in vrees leef nie.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn voorlopige ondersoek wys dat twee vyandige groepe onwettige mynwerkers Sondag in die omgewing van Riverlea op mekaar losgebrand het.

Die Gautengse provinsiale wetgewer se portefeuljekomitee oor gemeenskapsveiligheid het die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid en die provinsiale polisiekommissaris nou versoek om voor hom te verskyn en rekenskap te gee oor watter maatreëls ingestel word om onwettige mynbou in die provinsie te beëindig.

Die komitee het juis ná die noodlottige gaslekkasie by die Angelo- informele nedersetting in Boksburg vroeër vandeesmaand ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om gespesialiseerde eenhede te stig en klaar te speel met onwettige mynbou in Gauteng.

Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die gaslekkasie, wat die lewe van 17 mense geëis het, weens onwettige mynaktiwiteite veroorsaak is.

Bandile Masuku, voorsitter van die komitee, sê die voorval in Riverlea is ʼn duidelike aanduiding dat daar sedert die lekkasie min gedoen is om die probleem van onwettige mynbou in Gauteng hok te slaan.

“Wetstoepassingsagentskappe in die provinsie blyk magteloos en verslaan te wees in hul stryd teen onwettige mynbou.”

Cele het bekend gemaak dat 1 199 vermeende onwettige mynwerkers tussen 1 April 2022 en 31 Maart 2023 in hegtenis geneem is. Dit sluit in 100 Suid-Afrikaners, 124 Zimbabwiërs, 232 burgers van Lesotho en 79 Mosambiekers.

Volgens die minister is daar ook onder meer beslag gelê op R1,8 miljoen rand, 9 991 patrone, 177 voertuie, sewe vragmotors en vyf grondverskuiwingsvoertuie.

Cele sê daar is sedert Mei verlede jaar 20 taakspanne in brandpuntgebiede ontplooi in ʼn poging om onwettige mynbou uit te roei en skade aan noodsaaklike infrastruktuur asook afpersing op konstruksieterreine te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Janine ·

“Ons kan nie ʼn situasie hê waar gemeenskappe in vrees leef nie.” Ai…kan net kop skud.

Di ·

Ag asseblief! Hulle kry self ‘n deel van die onwettige mynbedrywighede dis hoekom hulle versuim om LANKAL hierdie probleem op te los.

Blom ·

So van die 1 199 vermeende onwettige mynwerkers tussen 1 April 2022 en 31 Maart 2023 in hegtenis geneem is, hoeveel is suksesvol agter tralies??

Delia ·

Dis die eintlike vraag Blom. Maar dit moet Justisie Minister kom antwoord.

Keelvol ·

Ag Ou Cele…. Jy praat net snert. Die probleem bestaan al vir jare en niemand het nog iets daar aan gedoen nie.

Vettiemaragartos ·

Ag asseblief! Die hele Suid-Afrika leef in vrees omdat Cele nie beheer oor sy “Diens” kan uitoefen nie. Vader Jakob …….. Vader Jakob!!!!!!!!!

Roek ·

Smoke and mirrors -177 voertuie, sewe vragmotors en vyf grondverskuiwingsvoertuie. was op ‘n omwettige Chroom myn op beslag gele is en het niks met die Zamazamas uit te waai nie ! Zamazamas is mense wat in die tonnels ronkruip in ou myne daar is nie plek vir sulke masjiene nie !

Dirk ·

Cele gaan kyk by jou maatjies wie almal te doen het met die zama zamas. Meeste sal jy vind in die ANC. So verwyder jou hoed ‘n bietjie dat jy kan suurstuf kry en doen jou verdomde werk vir ‘n slag en hou leeg lê soos altyd.

Philip ·

Qu SHARAAP lewer eerder kommentaar op misdade wat jou rugkrappers probeer toesmeer om jou goed te laat lyk.

Lillian ·

Die gemors gaan al jare aan en nou wil julle skielik iets daaraan doen?! Soos altyd, mostert ná die maal.

Ronél ·

Wat doen die SAPD/ Valke aan die onwettige mynbedrywighede by Tlhatlhaganyane (Ruighoek) in die Noordwes Provinsie. Swaar gewapende “sekuriteit” beheer ingange en kriminele met duur luukse voertuie swaai die septer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.