Opgegaarde renosterhorings uit kluis gesteel

Foto bloot ter illustrasie (Geskep deur KI, Dall-e)

Altesame 51 renosterhorings is Maandagoggend uit ʼn kluis van die Noordwes-parkeraad se hoofkantoor in Mafikeng gesteel.

Die boosdoeners het veiligheidswagte ontduik en boonop die kluissleutels in die hande gekry om dit eenvoudig oop te sluit en die opgegaarde renosterhorings te buit.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê ʼn saak van diefstal op ʼn sakeperseel is aanhangig gemaak en word deur die Valke ondersoek.

Dave Bryant, die DA se woordvoerder oor bosbou, visserye en die omgewing, sê dit is moeilik om te glo dat die misdaad gepleeg kon word sonder die inligting en hulp van diegene in die kantoor.

Volgens inligting wat die DA ontvang het, het die diewe toegang tot die kantoor verkry waar die alarmstelsel glo afgeskakel was en veiligheidskameras in die gang verwyder is.

“Dit het die diewe in staat gestel om ongehinderd met hul misdaad voort te gaan. Dit het die polisie ook ʼn skokkende agt uur geneem om op die toneel op te daag, wat die misdadigers meer as genoeg tyd gegee het om te ontsnap,” sê Bryant.

Die DA vra nou dat personeel van die parkeraad as ʼn saak van dringendheid poligraaftoetse ondergaan en sê die diefstal is ʼn uitstekende voorbeeld van waarom dit geregverdig is.

Mokgwabane het by navraag oor die polisie se beweerde reaksietyd gesê die rede vir enige vertragings sal eers ná die ondersoek bekend wees.

Die DA sê alle pogings moet nou aangewend word om die horings op te spoor voordat dit die land verlaat en diegene verantwoordelik vir die diefstal te laat boet.

“Ons doen ʼn beroep op Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en die omgewing, om deursigtigheid oor die voorval te verseker. Dit moet insluit omvattende terugvoer oor die stappe wat gedoen word om die gesteelde horings terug te kry en die oortreders aan die pen te laat ry.”

Van die 51 renosterhorings wat gesteel is, was 14 van vrylopene diere, terwyl die res van onthoringoperasies afkomstig is.

“Hierdie voorval verteenwoordig nie net die verlies van hierdie manjifieke wesens nie, maar beklemtoon ook die dringende behoefte aan verbeterde veiligheidsmaatreëls om opgegaarde renosterhoring te beveilig.”

Bryant sê dit moet insluit streng veiligheidsprotokolle, gevorderde alarmstelsels, meer personeel en streng monitering.

“Renosters is ʼn ikoniese en bedreigde spesie wat ʼn belangrike rol speel in die handhawing van die balans van ons ekosisteme. Die verlies van 51 renosterhorings verteenwoordig ʼn verwoestende slag vir bewaringspogings en wildbewaring in die geheel.

“Ons moet vinnig en beslis optree om te verhoed dat sulke voorvalle in die toekoms herhaal word en moet die toekoms van hierdie wonderlike wesens verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

absoluut ·

en die polisie ook betrokke, dis hoekom hulle 8 uur gevat het om daar uit te kom

Hasie ·

Dit was als net heel toevallig neh …laaty dink aan die Bester sage ….of iemand het geld nodig gehad om hofskuld te betaal ….

Di ·

Dit is so duidelik soos daglig dat hierdie ‘n “inside job” was. Soek die skelm onder die wat daar werk

Amelia ·

Dit klink vir my na moeilikheid soek om so ‘n spul renosterhorings opgegaar te hou. Hoekom het hulle dit nie al lankal verwoes nie?

Delia ·

Mag ek vra hoekom die horings opgegaar word. Hoekom nie die goed brand dat dit onbruikbaar is nie?

Marthinus Johannes ·

Hoekom moet dit opgegaar word, dit het net waarde vir diewe en die oosterse mark. VERNIETIG dit. As skelms polisie kantore kan roof Dan is dit nog makliker by ander plekke.

Danie ·

Dan se die polisie n kluis is n veilige bewaarplek vir n wapen.Niks in SA is meer veilig of bestand teen die misdadigers en kie.

SjN ·

Roek, die rot wat jy ruik is die oneerlike kaders wat daar werk wat saam met die gereg deel by die trog. Daar is niks fout met jou neus nie.

SjN ·

Wettig die handel in renosterhoring soos reeds jare terug versoek deur widboere en die hele smokkel netwerk word in die kiem gesmoor.

Ruby ·

Hoekom was die horings nie vernietig nie? Om dit op te gaar is ‘n ticking time bomb.

Ondersoek almal, van die skoonmaker tot die tea lady tot heel bo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.