Opgetooi en toegedraai; is jou geskenkpapier herwinbaar?

(Foto: Unsplash)

Die pragtige geskenkpapier waarin die pakkies onder jou Kersboom toegedraai is, hoef nie saam met oorskietkos en gemors in die asblik gegooi te word nie. Dié papier kan herwin word en eindelik tot ʼn groener omgewing bydra, het die Papiervervaardigersvereniging van Suid-Afrika (Pamsa) Dinsdag gesê.

Pamsa, wat hom vir die gebruik van papier en papierverpakking beywer, sê papier is net nie herwinbaar nie, maar ook hernubaar. Papier word gemaak van die houtvesels van geoeste bome wat dan weer met nuwe bome vervang word. Papier is dus een van die omgewingsvriendelikste toedraai- en verpakkingsmateriale.

“Danksy die groen pogings van bedagsame burgers, ondernemings, skole en die herwinningsbedryf, het Suid-Afrika in 2022 byna 1,3 miljoen ton papier en papierverpakkings herwin,” het Pamsa Dinsdag gesê.

“As dit uitgelê moes word, sou dit 161 rugbyvelde bedek het, 1 502 Olimpiese grootte swembaddens kon vul of soveel soos 208 553 volwasse olifante geweeg het. Nog belangriker: Een ton herwinde papier kan drie kubieke meter se vullisterreinspasie bespaar. In 2022 het herwinningsvolumes 3,8 miljoen kubieke meter se vullisterreinspasie bespaar en verseker dat die papierbedryf die vesel kon hergebruik vir kartonbokse, inkopiesakke, eierhouers, koerantpapier en ander papierprodukte.”

Pamsa sê ʼn beduidende hoeveelheid herwinbare papier en verpakkingsmateriaal word egter steeds saam met kos en tuinvullis weggegooi, wat dan eindelik op vullisterreine beland.

(Foto: Argieffoto ter illustrasie/Pixabay)

Klein veranderings kan egter help om ʼn groener toekoms te bou en die planeet skoner te hou.

Probeer gerus dié wenke:

  1. Hergebruik wat jy kan en skenk die res vir herwinning. Pamsa sê papierprodukte soos kantoorpapier, kartonbokse en bruin papiersakke is hoog in aanvraag in die herwinningsbedryf. Maak seker dit is skoon en droog wanneer jy dit vir herwinning skenk.
  2. Draai geskenke slim toe deur herwinbare papier te gebruik. Daar is baie idees aanlyn oor hoe om geskenke omgewingsvriendelik toe te draai – van bruin papiersakke tot glashouers. Bly liefs weg van geskenkpapier met ʼn foeliebasis aangesien dit nie-herwinbaar is. Mooi ontwerpte geskenksakke is ook goed, mits dit herwin kan word.
  3. Kry vir jou huis ʼn herwinningsisteem. Dit hoef nie uitspattig, duur of ingewikkeld te wees nie. Gebruik net verskillende asblikke en merk dit vir papier, plastiek, blikkies en glas.
  4. Papier moet skoon en droog gehou word om te verhoed dat natuurlike vesels voortydig afbreek.
  5. Besluit vooraf wat jy met herwinde items wil doen en hou dit eenkant om te skenk.

(Foto: Unsplash)

Wat is herwinbaar en wat nie?

Herwinbaar:

  • Geskenkpapier wat nie gelamineer of opgesmuk is, of ʼn foeliebasis het nie
  • Kantoorpapier
  • Kartonbokse
  • Papierinkopiesakke (onder meer Checkers Sixty60, Pick ʼn Pay ASAP, Woolworths Dash)
  • Pizzabokse en papiersakke waarin wegneemetes verpak word (verwyder alle kos)
  • Kartonverpakkings van onder meer langlewemelk en sap
  • Wegneemkoffiekoppies van papier
  • Ontbytpapbokse, tandepastaboksies en ander produkverpakkings (soos verpakkings van kosmetiese produkte) wat nie met plastiek gelamineer of opgesmuk is nie
  • Tydskrifte en koerante

Nie-herwinbaar

  • Geskenkpapier of -bokse met ʼn foeliebasis
  • Verpakkings met ʼn waslaag of wat gelamineer is – onder meer gevriesde kosverpakkings
  • Leë sement- en hondekossakke
  • Weggooidoeke
  • Koolpapier (carbon paper)
  • Plaknotas (sticky notes)

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.