
Die agtergrond van die iPhone wat gehelp het om die eienaar te identifiseer. (Foto: Facebook)
Die eienaar van ʼn iPhone, wat verlede naweek tydens die Oppikoppi-musiekfees voete gekry het, is vinnig opgespoor nadat ʼn polisiebeampte ʼn foto van die foon se agtergrond op sosiale media geplaas het in ʼn poging om die foon aan sy eienaar terug te besorg.
Dié musiekfees het van 9 tot 11 Augustus in Northam in Limpopo plaasgevind en het vanjaar erg gebuk gegaan onder misdaad deur dwelmhandelaars, sakkerollers en ander kriminele aktiwiteite.
ʼn Polisiebeampte het aan Maroela Media bevestig dat ʼn verdagte tydens die fees aangekeer is met vermeende gesteelde goedere in sy besit. ʼn Beampte het ʼn foto van die foon se agtergrond op sosiale media geplaas omdat hy nie die foon se wagwoord gehad het om die foon of die foon se simkaart te aktiveer nie.
“Die eienaar van die selfoon is Donderdag omstreeks 21:00 opgespoor. Hy woon in Pretoria en sal die foon by ons kom afhaal,” het die beampte gesê.
Die organiseerders van die 24ste Oppikoppi-musiekfees, wat vanjaar Nomakanjani geheet het, het vandeesweek in ʼn mediaverklaring gesê die voortbestaan van die fees het al in 2011 in gedrang gekom nadat misdaadsyfers tydens die fees die hoogte ingeskiet het.
“Ons het in 2011 ʼn interne anti-misdaadeenheid, wat bestaan uit voormalige polisie- en weermaglede en ʼn paar anti-renosterstropingsindividue, op die been gebring. Hierdie span werk elke jaar onverpoosd in die kampterrein om misdaad te probeer bekamp,” lui die mediaverklaring.

Die kampterrein. (Foto: Culture Capital via Facebook)
“Ons sou graag wou sê dat ons besig is om die stryd teen misdaad in die kampterrein te wen, maar dit bly ʼn uitdaging wat ons elke jaar tot die beste van ons vermoë konfronteer.”
Luidens die verklaring het die interne anti-misdaadeenheid vanjaar vir 72 uur aaneen gewerk om ʼn sakkerollersindikaat by die fees vas te trek. “Hierdie sindikaat het kaartjies na die fees gekoop en het toegang vir al sy lede bekom. Op die tweede dag van die fees het dit duidelik geword dat die vyand goed georganiseerd is en die besluit is geneem om die mannekrag van die eenheid te verdubbel. Die honde-eenheid is ook betrek.”
Volgens die organiseerders is 12 sakkerollers aangekeer en in hegtenis geneem. Altesaam 81 selfone is tydens die fees gesteel, waarvan 23 aan hul eienaars terugbesorg is.
“Dis is ongelukkig dat Nomakanjani, een van die spesiaalste Oppikoppi-uitgawes en ʼn groot wen vir die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, besmet is met die invloed van misdaad. Oppikoppi weier om te buig voor misdaad. Ons boodskap is duidelik: Kriminele is nie welkom by ons fees nie. Hulle sal gevang en in hegtenis geneem word. Ons verteenwoordig die gees van die jeug van ons nasie en dié gees is sterk by ons.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
na 11 jaar se Koppi, het ek 3jaar terug dit gelos, daars een rede vir die misdaad.
Koppi was die lekkerste fees gewees, was 8jaar daar na mekaar, daar’s EEN rede vir al die crime en Koppi gooi n blinde oog.
Help nie om te maak of die groeiende olifant in die kamer nie daar is nie.
Hy is reeds ver gevorderd om oppi ook in te sluk en te reduseer tot iets vd verlede vir die normale blanke.
Dwelm handelaars wat aan wie verkoop , die selfoon diewe ? Nes!
Francois- uitstekend gestel- ekself kan nie beter nie!!