Oproep om kalmte ná dodelike taverne-skietery

Die skietery het Sondag in die vroeë oggendure plaasgevind. (Foto: SA Polisie)

Die polisie in Mpumalanga is steeds op soek na ʼn bende van drie aanvallers wat Sondag in die vroeë oggendure op ʼn taverne naby Nelspruit toegeslaan en drie mense doodgeskiet het. Nog vier mense is gewond.

Maroela Media het vroeër berig die aanvallers het die taverne in Dondonuld, naby Mayflower, Sondag omstreeks 04:00 binnegestorm, vuurwapens op die gaste gerig en hulle van hul besittings begin beroof.

“Hulle het daarna – toe hulle van die toneel vlug – lukraak skote afgevuur, wat sowat sewe mense gewond het,” sê Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga.

“Twee mense is op die toneel dood terwyl die derde slagoffer by die plaaslike kliniek gesterf het. Vier slagoffers is na die hospitaal geneem, en twee is onmiddellik ontslaan.”

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling in Mpumalanga, doen nou ʼn beroep op die polisie om die verdagtes so gou moontlik in hegtenis te neem.

Volgens Shongwe is “veroordeling alleen nie genoeg nie”. Hy dring daarop aan dat skuldiges dringend aangekeer en vervolg word.

“Hierdie lafaards moet, by skuldigbevinding, lang tronkstraf opgelê word. Gemeenskappe moet ook die polisie bystaan ​​met enige inligting wat sal help om hierdie misdadigers vas te trek,” sê Shongwe.

Shongwe moedig verder verantwoordelike drankhandel aan en sê tavernes moet in ooreenstemming met hul lisensievoorwaardes handel dryf.

Hy doen ook ʼn oproep om kalmte onder inwoners en het sy meegevoel betuig met die bedroefde families. Die LUR het ook die gewonde slagoffers ʼn spoedige herstel toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johan ·

Ek praat nie drank goed nie, maar in hierdie geval het mense van buite die taverne betree en geskiet. Drank het dus in hierdie geval waarskynlik geen rol gespeel nie.

Stofdonkie ·

Nee lyk eerder of skelms met vuurwapens die verwoester is. Jy het seker nie die artikel gelees nie? Sou so iets in byv. Texas gebeur het was die skelms net daar almal geskiet. Ongelukkig in SA is dit nou net die skelms wat met vuurwapens loop.

Jacobus ·

Drank is nie die verwoester nie maar die terroris met die vuurwapen.

Bolandse Nooi ·

Drank is nie die verwoester nie. Dis die mens wat die drank DRINK en dan inhibisieloos optree, wat die probleem is.

Marilize ·

Het die plekke nie sekere tye waarvolgens hulle moet toemaak nie?
4:00 op ‘n Sondagoggend nog aan die gang?

Johan ·

Daar is nog hier en daar plekke met 4uur lisensies, maar hulle word al minder. Nuwe 4uur lisensies word nie maklik meer toegestaan nie.

Jaco ·

En wie gaan daai wet toepas ? Hulle loop openlik in die strate en suip en urineer net waar hulle wil. Volgens SAP is dit nie ‘n prioriteits misdaad.

miche ·

Hul sou seker Maandag-oggend 4uur nog steéds daar in die taverne gewees het as hul kon.

Elmarie ·

Daar word gedurig gekla deur sekeres hul het nie werk/geld/kos/blyplek/elektrisiteit maar geld vir drank is daar altyd. En dan dié tyd op ‘n Sondag môre?!

Andries ·

Elke moord/aanval moet ten sterkste veroordeel word. Maar om n ‘beroep’ te doen taverne eienaars ‘verantwoordelik’ moet optree is n bespotting van gesag en di reg. Dí eienaar het bloed op sy hande deur sy gierige optrede

Bolandse Nooi ·

Die taverne eienaar staan nie met ‘n geweer agter die rug van die kliënte wat die plek besoek om daarheen te stroom en te suip nie. Dan moet elke restaurant, hotel, drankwinkel, supermark wat drank verkoop ook verantwoordelik gehou word vir hul kliënte se irrasionele, ongeïnhibeerde optrede a.g.v. drankgebruik. Dis mos nou dom om so te redeneer!

Janine ·

Hoe het die eienaar bloed op sy hande? Het jy al in ‘n kroeg gewerk? Het jy al met dronk mense gedeel by ‘n kroeg? Duidelik nie.

Sê maar net ·

Dis baie jammer. Innige simpatie…
Maar wie sit en drink nog in die vroeë ure op ‘n Sondagoggend? Het die mense nie gesinne om na terug te keer nie? Hoe later hoe kwater. Hulle moet eerder by besigheidsure hou en vroeër toemaak…..

Bolandse Nooi ·

Ordentlike mense lê nie nog 04:00 rond in ‘n taverne nie. Daardie tyd van die oggend, hoort jy veilig in jou huis, in jou bed … en jy sal (met redelikheid) veilig wees.

Jaco ·

Nou sal ou Cele en Gun Free South Africa weer ‘n beroep doen op strenger vuurwapen wette en meer druk plaas op wettige vuurwapen eienaars. Asof kriminele hulle stuur aan wette.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.