Optrede geëis teen stakende vragmotorbestuurders by Bloemhof

N12 in Bloemhof (Foto verskaf deur die VF Plus)

Die VF Plus dring aan op dringende ingryping en optrede teen diegene wat sedert Dinsdag die N12 by Bloemhof met vragmotors afsper en hierdie belangrike roete verlam.

“Hierdie onwettige optrede kom neer op ekonomiese sabotasie,” sê Fanie du Toit, VF Plus-LP.

Die VF Plus het met die eerste aanduidings van die onwettige versperring van die pad onmiddellik met Noordwes se provinsiale polisieowerhede in verbinding getree en versoek dat daar pro-aktief opgetree word om ʼn grootskaalse verkeersopeenhoping te vermy.

“Die polisiebestuur het daarop met die omliggende dorpe gekommunikeer en vragmotors is op alternatiewe roetes herlei om die stakers te vermy. ʼn Groot aantal vragmotors was egter reeds in die situasie vasgevang en die roete word steeds versper. Berigte en bewerings van ernstige intimidasie van vragmotorbestuurders is ook ontvang.”

Die openbare orde-polisiëringseenheid is intussen op die toneel ontplooi en monitor die situasie.

N12 in Bloemhof (Foto verskaf deur die VF Plus)

“Die ekonomiese skade wat aangerig word deur hierdie onwettige optrede is enorm. Graan en vars produkte van boere kan nie die markte bereik nie en ander bedrywe in die handel word eweneens nadelig geraak. Letterlik miljoene rande se ekonomiese skade word aangerig,” sê Du Toit.

Vragmotoreienaars wie se trokke in die chaos vasgevang is, het in gesprekke met die VF Plus gesê dat hulle moontlik gedwing sal word om die voorbeeld van die bekende maatskappy Massyn Vervoer te volg, wat ná dekades sy deure gesluit het weens onder meer sulke onwettige optrede.

“Die ANC-regering en wetstoepassingsowerhede moet ophou om diegene wat telkens blatant onwettig optree en ekonomiese sabotasie pleeg, met handskoene te hanteer. In hierdie geval word verskeie wette oortree en misdrywe gepleeg. Dit kan nie straffeloos gelaat word nie.”

Du Toit meen sonder behoorlike, ferm en konsekwente wetstoepassing, sal Suid-Afrika vinnig op ʼn afwaartse spiraal na anargie beland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Hulle moet almal voor die voet afgedank word en toegesluit word. Daar is baie wat werk soek.

Dries ·

Hierdie regering pak absoluut alles met handskoene aan.Behalwe korrupsie en leuens.Daar gaan hulle vir goud.

SjN ·

Almal maak soos hulle wil, CR en Al sy kaders is te slap om hul broers vas te vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.