Oud-Eskom-werker moet gesteelde geld terugbetaal

(Argieffoto: Maroela Media)

Die streekhof in Kriel, Mpumalanga, het ’n voormalige werknemer van Eskom beveel om meer as ’n halfmiljoen terug te betaal wat hy by die kragvoorsiener gesteel het terwyl hy as ’n boekhouer by die Kriel-kragstasie gewerk het.

Volgens ’n ondersoek wat deur Eskom gelas is, is bevind dat Sifiso Jacob Masina fakture geskep en vir betaling ingedien het asof werk verrig is, terwyl daar in werklikheid geen werk gedoen is nie. Dit het tot gevolg gehad dat Eskom ’n finansiële verlies van R513 630 gely het.

“Die geld is deur die verskaffers gekanaliseer en is as kontant uit die rekeninge van Lutshala BK en Mandlenkosi BK, waaroor hy direkte beheer gehad het, onttrek,” lui ’n verklaring van Eskom.

Masina het met onmiddellike effek op 27 November 2012 by Eskom bedank hangende ’n dissiplinêre proses nadat ’n forensiese ondersoek na finansiële wangedrag afgehandel is. Hy is toe skuldig bevind op alle aanklagte van finansiële wangedrag tydens ’n dissiplinêre verhoor wat op 7 Desember 2012 in sy afwesigheid gehou is.

’n Saak van bedrog, waarop Masina op 20 Julie verlede jaar skuld erken het, is in Desember 2012 by die polisie aanhangig gemaak. Hy is daarna op 26 April vanjaar in die Kriel-streekhof skuldig bevind en is tot agt jaar tronkstraf gevonnis, wat, onderworpe aan sekere voorwaardes, geheel en al vir vyf jaar opgeskort is, onder meer dat hy die geld aan Eskom terugbetaal.

Die regter het beveel dat Masina ’n onmiddellike betaling van R30 000 en daarna 48 paaiemente van R10 000 per maand moet maak tot 1 April 2027 om die oorblywende balans te vereffen.

“Eskom is teleurgesteld dat iemand in ’n vertrouensposisie die entiteit bedrieg het.

“Die kragvoorsiener gaan voort om sy interne beheermaatreëls te verbeter om te voorkom dat voorvalle soos hierdie herhaal word. Een van die maatreëls is die implementering van die bedrogrisikovoorkomingsplan om bedrogvoorkoming te verskerp en goeie korporatiewe bestuurspraktyke te verbeter. Die implementering van die plan word gemonitor deur die teenbedrog- en korrupsie-integrasiekomitee (AFCIC) wat ook integrasie verseker tussen forensiese, regs-, etiese, nywerheidsverhoudinge en verskafferhersieningsfunksies. Vordering word op ’n gereelde basis aan Eskom se uitvoerende komitee en die oudit- en risikokomitee (LNR) gerapporteer.

“Daarbenewens beoordeel die AFCIC Eskom se belyning by die doelwitte en doel van die organisasie vir ekonomiese samewerking en ontwikkeling se aanbevelings oor teenkorrupsie, wat gebruik sal word om verdere areas vir verbetering in die bedrogrisikovoorkomingsplan te identifiseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nie Verbaas ·

Dit is darem lekker. Geen tronkstraf nie en betaal maar net terug. Seker al klaar weer by n ander maatskappy aangestel met n vet salaris. As hy wit was was hy agter tralies.

Aggie ·

Van wanneer af word ‘n persoon wat bedrog gepleeg het nie strafregtelik vervolg nie? Hierdie sagte benadering gee ‘n baie goeie boodskap na buite vir voornemende oortreders!

TruthDealer ·

Ek sou so dink! Sal vinniger afbetaal word as hy geforseer was om al sy bates ook te verkoop. Laat hy in n eenslaapkamer plekkie bly en taxi vat werk toe en terug. Sou hom leer hoe die meeste vd bevolking leef.

Piet 6 ·

Hoe is dit moontlik dat die saak nou eers na meer as tien jaar afgehandel is? (Die owerhede sal sê dit is in MINDER as 11 jaar afgehandel). Geen wonder diefstal en korrupsie gaan net voort.

My tweede vraag is waar kry die persoon nou die R10 000.00 per maand? Hy moet ń redelike werk hê om daardie bedrag te kan bekostig. Dit wil sê hy gaan nou voort met werk asof niks gebeur het nie en steel maar weer rustig voort.

Anel ·

Die geld kon al jare terug terg betaal gewees het en dan kon hy somme tronkstaf gekry het ook. Ek is seker as hulle in sy rekening kyk gaan hulle genoeg kry om dit afte betaal. Anders verkoop al sy bates. Seker is hy een van die kaders wat beskerm word. Mense al vir minder as dit tronk toe!!!

SjN ·

Nou toe nou, Mnr de Ruyter was toe reg met sy uitlatings tov diefstal en plundery in Eskom.

Eugene ·

Dis reg. Skep terwyl jy kan. Die regering moet Dan ook angekla word van bedrog. Groot grap

Delia ·

Maatreels om die tipe hoed te voorkom….eskom kan probeer wat hy kan. Die fout lê hier by die howe.
Opgeskorte vonnis. MM..wie is die regter wat hierdie belaglike vonnis gee. Hy bly seker in n huis wat off the grid is met panele, batterye ens ens.

otter ·

Hoekom is hy nie in die tronk nie…. waar is die regskenners, kan dit nie geflip word nie. Al die moeilikheid wat omtrent eskom aan die gang is moet daar sekerlik n voorbeeld van die SKELM gemaak word ?

skurweberg ·

Dit help niks om nuwe risikobestuursplanne, bedrogvoorkoming-inisiatiewe en al die ander groot name te vestig as die huis steeds op sand gehou is nie. Die integriteit van die werknemers en werkgewers, die aanstellingsprosedure, kwalifikasies ens, ens bepaal tog die uitkoms. Skelms lag al hierdie maatreels af.

Nico ·

Vyf jaar gevangenis is opgeskort, wat gaan gebeur as die geld nie terug betaal word nie, dit is mos nie ‘n vonnis nie, verkoop sy vaste bates.

Niklaas ·

Dink julle hy gaan enige van daardie geld terugbetaal. Dis mos maklik om aanhoudend uit te stel en armoede te pleit , tot hul moeg raak en geld invordering laat vaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.