Oud-onderburgemeester gevonnis oor seksuele aanranding

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Shutterstock)

’n Voormalige onderburgemeester van die Oudtshoorn- plaaslike munisipaliteit is tot vyf jaar direkte tronkstraf gevonnis nadat hy aan die seksuele aanranding van ’n werknemer in sy kantoor skuldig bevind is.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, sê dit is Mlandeli Abednico Nyuka se tweede skuldigbevinding en vonnisoplegging vir seksuele aanranding met “presies dieselfde modus operandi”.

Staatsaanklaer Mervan Saaiman het in die hof aangevoer dat Nyuka die betrokke werknemer in die jongste saak na sy kantoor geroep en die deur gesluit het.

Hy het haar eers probeer manipuleer en gesê hy sal toesien dat sy by die werk bevorder word.

“Hy het haar rok opgelig en sonder haar toestemming aan haar private dele gevat,” het Saaiman in die hof gesê.

“Die telefoon het gelukkig gelui en Nyuka het dit geantwoord. Die klaer kon in dié stadium by die kantoor uithardloop.”

Volgens Saaiman was die vrou uiters geskok oor wat gebeur het.

Nyuka was in dié stadium nog die onderburgemeester en sy het in sy kantoor gewerk.

Nyuka het regdeur sy verhoor ontken dat hy die klaer aangerand het, en aangevoer dat sy deel was van ’n ander faksie in die politieke party Saamstaan, waarvan albei lede was.

Lede van dié faksie het hulle volgens Nyuka tot die hooggeregshof gewend om hom uit die party te skop.

Hy het ook beweer dat die klaer “seksuele gunsies” aangebied het in ruil vir alles wat hy [Nyuka] vir haar gedoen het.

Hy kon egter nie verduidelik waarom dié beweerde weergawe van die gebeure eers gedurende die verdediging se saak aan die klaer en hof voorgehou is nie. Sy het die bewerings egter ontken en getuig dat sy Nyuka nog altyd ondersteun het – ook in aangeleenthede wat met die party verband hou.

Saaiman het ook ’n getuie geroep wat die klaer van die begin af bygestaan het om die saak by die polisie aan te meld. Die hof het bevind dat dié getuie inderdaad ’n geloofwaardige getuie is.

Die landdros, Sylvia Mandla, het egter bevind dat Nyuka nie ’n geloofwaardige getuie is nie, wat sy eie bewyse opgemaak het.

Sy het bevind dat hy sy senioriteit uitgebuit het om seksuele gunse te bekom en hom op aanklagte van seksuele aanranding skuldig bevind.

Saaiman het ook die dossier van ’n ander soortgelyke saak teen Nyuka bekom, wat volgens die staat bewys dat hy ’n seksuele oortreder is wat sy mag misbruik het.

Hy is gevolglik tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.

Adv. Nicolette Bell, direkteur van opebare vervolging in die Wes-Kaap, het die vonnis verwelkom en gesê sy verafsku die dade van die voormalige onderburgemeester wat sy posisie misbruik het om ’n vrouewerknemer in sy kantoor seksueel aan te rand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Dis seker ‘n minor details vir julle, maar dit is seker nie redelik om ‘n foto met verwysings na die Suid-Hollandse dorpie Oudshoorn, by ‘n artikel te plaas wat handel oor die laakbare plaaslike politici in Suid Afrika nie…

Di ·

Watse vonnis is hy opgele met sy vorige oortreding? Laat ek raai, niks het gebeur nie, hy het seker weer skotvry daarvan afgekom. Sekeres in die land kom weg met moord, dis hoekom dit herhaaldelik gebeur.

Karoo ·

Dankbaar dat geregtigheid vir die dame geskied het. Nog meer, dat die hof gesien het watse skurk hy is, om ongrondige aantuigings teenoor haar te maak in ‘n poging om hom soos die slagoffer te laat lyk. Gelukkig… het sy verlede hom ingehaal met’ n soortgelyke klag Wel gedaan.

Gerhardus ·

5 jaar tronkstraf en dit is sy 2de oortreding? Die regering en die howe neem geweld teen vroue en kinders, asook seksuele aanranding, glad nie ernstig op nie.

Cassie Carstens ·

As al die ANC se geraamtes darem net uit die kas wil val van wat al die jare gebeur het, wonder ek soms nog waarom daar nog spesifieke tye uitgesit word om mense bewus te maak van geweld teen vroue en kinders. Dit is net foefies en die gemiddelde kader steur hom glad nie daaraan nie. Kom Zuma, maak opp die kas se deur!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.