Oud-polisievrou sit stryd voort om vroue te help

Sharon Jephta is ʼn afgetrede luitenant-generaal wat deesdae haar kundigheid gebruik om vroue, te midde van ʼn vlaag geslagsgeweld, by te staan. (Foto: Verskaf)

ʼn Goed uitgewerkte, verpersoonlikte ontsnapplan. Dít is wat vroue nodig het om hulself en hul kinders uit ʼn slegte, gewelddadige verhouding te kry. En Sharon Jephta, ʼn afgetrede luitenant-generaal in die Suid-Afrikaanse polisie, sê dit hoef vroue boonop nie ʼn sent te kos nie.

Met meer as 38 jaar ervaring in die polisie en ʼn nimmereindigende begeerte om slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te help, het Jephta verskeie wenke vir só ʼn ontsnapplan bymekaargesit wat sy op haar Facebook-blad deel. Baie vroue het Jephta reeds vir raad en hulp genader sedert sy haar wenke met die aanvang van die jaarlikse 16 dae van aktivisme-veldtog teen geweld op vroue en kinders gedeel het.

“Ek het verlede jaar ʼn paar YouTube-video’s gemaak met die doel om polisiebeamptes te motiveer om met integriteit, uitnemendheid en toewyding te dien. Ek het ook ʼn reisjoernaal van my vakansie in Namibië op sosiale media gedeel.

“Die reaksie op dié plasings het my laat besef dat ek my vaardighede, ervaring en kennis van polisiëring kan gebruik om slagoffers bewus te maak dat hulle die vlaag van geweld kan ontsnap deur ʼn verpersoonlikte ontsnapplan,” het Jephta aan Maroela Media gesê.

“Wanneer ʼn mens ʼn operasionele plan vir misdaadvoorkoming opstel, neem jy intelligensie, bedreigings en die verloop van ʼn bepaalde misdaad in ag. Ek het toe gedink, ‘hoekom nie dieselfde elemente vir ʼn ontsnapplan oorweeg nie?’ en my gedagtes op sosiale media gedeel.

“Onthou, as jy aftree, gaan jou kennis, vaardighede en ervaring saam met jou. Jy tree nie daarvan ook af nie.”

Jephta se wenke spruit uit die kennis en ondervinding wat sy oor die dekades in die veld opgedoen het, waar sy sedert 1981 in verskeie afdelings in die Wes-Kaap gedien het. Sy was destyds ook die enigste vroue-afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring in dié provinsie.

Oor die jare het Jephta talle klagtes van geslagsgebaseerde geweld hanteer, verskeie sake ondersoek en ook beleide en nasionale riglyne oor dié kwessie geskryf. Sy het ook saam met verskeie organisasies gewerk om geslagsgebaseerde geweld te bekamp.

Al het sy drie jaar gelede as waarnemende afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring afgetree, wil sy slagoffers steeds help.

“Ek was geseënd met die geleentheid om kennis, vaardighede en ervaring in misdaadvoorkoming op te doen en besef dat mense dikwels slagoffers van geweld is omdat hulle nie die nodige kennis het nie.

“My lewensdoel is om kwesbare mense met kennis te bemagtig sodat hulle uit gewelddadige verhoudings kan ontsnap en vervulling en vreugde in die lewe ervaar, en om mense te motiveer en inspireer om ʼn beter lewe te leef.”

Facebook is boonop ʼn bekostigbare manier waarop Jephta ander kan help – sy het geen beleide, strategieë, sakeplanne of finansiering nodig nie – net data.

“Ek kan in my huis sit en enigiemand op enige plek in die land help, sonder om verantwoording aan ʼn baas, skenker of die regering te doen.”

Jephta sê wenke om geslagsgebaseerde geweld te voorkom is uiters belangrik, aangesien dit aan slagoffers die nodige inligting bied om hulself te beskerm.

“Onthou, wetstoepassers is toegerus om geslagsgebaseerde geweld te verminder, maar hulle is nie toegerus om dit te voorkom nie. Dit is ʼn stil misdaad wat tussen die vier mure van ʼn huis gebeur waar wetstoepassers nie teenwoordig is nie.

“Die beste mens om geslagsgebaseerde geweld te voorkom is die slagoffer of potensiële slagoffer self.

Sharon Jephta is ʼn afgetrede luitenant-generaal wat deesdae haar kundigheid gebruik om vroue, te midde van ʼn vlaag geslagsgeweld, by te staan. (Foto: Verskaf)

“Daarom is dit kritiek noodsaaklik dat lede van die publiek bewus raak van wat om te doen. Dié wenke moet prakties wees en elke persoon moet dit kan aanpas omdat elke situasie uniek is. Dit kan ook net suksesvol wees indien daar ʼn burgerlike aanslag op hierdie epidemie is, en moet reeds op skool aan leerders geleer word.”

Ontsnapplan kos niks

Jephta sê dis belangrik om te onthou dat jy nie geld op ʼn ontsnapplan hoef uit te gee nie.

Dit kos ʼn slagoffer niks om ʼn beskermingsbevel te verkry nie, daar is geen betaling betrokke by die betekening van ʼn beskermingsbevel óf die indien van strafregtelike klagte of ondersoeke na die saak of hofverrigtinge (waar ʼn staatsaanklaer die slagoffer verteenwoordig) nie.

Jephta sê vroue bly dikwels in gewelddadige, afbrekende verhoudings omdat hulle kinders het, nie hulself of hul kinders finansieel kan onderhou nie, nie noodwendig die waagmoed het om uit die verhouding te kom nie, nie emosioneel sterk genoeg voel nie, bang is, nie hul regte ken nie en nie bewus is van die ondersteuning wat aan hulle beskikbaar is nie.

Wat om by jou ontsnapplan in te sluit

  • Los geld en ʼn ekstra stel motor- en huissleutels by iemand wat jy vertrou.
  • Hou gesertifiseerde afdrukke van belangrike dokumente byderhand, waaronder ʼn beskermingsbevel, ID-dokumente, huwelik- en geboortesertifikate.
  • Hou die noodlynnommer vir huishoudelike geweld by jou.
  • Reël vooraf waar jy gaan bly wanneer jy ontsnap.
  • Hou ekstra klere en benodigdhede by die plek waar jy beplan om te bly.
  • Hersien jou veiligheidsplan gereeld.
  • Oefen jou ontsnapplan met jou kinders en maak seker dit is toepaslik op jou situasie.

Besoek Jephta se Facebook-blad hier vir meer wenke en raad.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos 100 ·

Wat ‘n vrou. Die SAPS het baie kennis en ‘n bekwame bestuurder verloor met haar aftrede. Generaal, dankie dat jy steeds gee!

trotsNAMSA ·

Daar is baie SAPD vroue wat alreeds ‘n verskil maak, terwyl nog werkend of afgetree. Dit is gewoonlik die
onder-offisiere (Konstabel tot Adjudant-Offisier) wat elke dag direk met vrouens/kinders werk. Hulle kry nie waardeering of hulp nie maar doen hul medemens plig om te help. Dankie vir alle die vroulike lede daarbuite, iewers besig met ‘n getraumatiseerde vrou en kinders.
Ek bid vir julle en die SAPD.

Kensy ·

Ek hoop jou raad en kennis gaan daadwerklik n verskil maak Generaal. Well done!
Almal kan (moet)iets doen om te help. Vroue in daardie situasies word jare lank gemanupileer om te glo hulle kan nie sonder hulle mans op hul eie oor die weg kom nie en word finansieel afhanklik gemaak van die mans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.