Oud-Springbok sterf aan Covid-19-komplikasies

In aksie vir die Springbokke teen die Franse. Foto: Verskaf.

Die voormalige Springbok-vleuel dr. Corra Dirksen is vanoggend in die ouderdom van 82 in sy huis in Krugersdorp oorlede.

Dr. Dirksen is amper twee weke gelede met Covid-19 gediagnoseer; tot en met die positiewe toetsuitslag het hy egter nog elke dag as ’n mediese dokter in Krugersdorp gepraktiseer.

Volgens sy vrou van die afgelope 58 jaar, Dalene, het sy haar man vanoggend om 05:30 in die bad aangetref. Hy was reeds dood.

“Ons het hom tuis versorg, want hy wou nie hospitaal toe gegaan het waar ons hom nie kon besoek nie. Ons almal het gedink dat hy besig is om gesond te word, maar hy het gister vir my gesê dat hy benoud en moeg voel,” het sy aan Maroela Media vertel.

Dirksen vermoed dat haar man ’n hartaanval gedurende die nag gehad het.

Gedurende ’n klipharde wedstryd vir Noord-Transvaal teen die Franse toerspan. Foto: Verskaf.

Sy seun Gerhard onthou sy pa as ’n moeilike man, maar wat altyd met ’n glimlag gereed gestaan het.

“Jy kon nie vir hom ’n storie vertel het as jy nie al die feite ook byderhand gehad het nie. Wanneer daar oor rugby gesels was, moes jy jou reëls geken het!” onthou hy.

“Corra was ’n dierbare mens en ’n baie goeie dokter, maar as jy oor rugby gepraat het, moes jy nie nonsens vertel het nie,” beaam mev. Dirksen met ’n laggie haar seun se woorde.

Maar waar hy vir ’n paar jaar heldedade op die rugbyveld verrig het, was hy in sy spreekkamer vir meer as 40 jaar honderde pasiënte se grootste held.

“Hy het nog tot onlangs babatjies gevang. Hy het nog daagliks om 07:00 werk toe gegaan en eers om 19:00 huiswaarts gekeer.”

Dr. Dirksen het in 1963 op 26-jarige ouderdom sy internasionale buiging vir die Springbokke in ’n wedstryd teen Australië op vleuel gemaak. Hy het uiteindelik tien toetse – waaronder ’n reekssege teen die Britse en Ierse Leeus – in die Groen en Goud gespeel en was ook een van die Blou Bulle se helde.

Dit was egter in 1967, gedurende die reeks teen die Franse, waar hy sy stempel dubbel en dwars op internasionale rugby afgedruk het.

Dr. Dirksen (heel regs) saam met sy kollegas in Krugersdorp. Dié dokterspan het vir 40 jaar hul eie praktyk in Krugersdorp gehad. Foto: Verskaf.

Hy het ’n rits drieë teen hulle gedruk en die verwilderde Fransmanne het hom “Le Monster” (Die Monster) gedoop.

Op skool aan Hoërskool Vereeniging het hy sommer vroeg vir die skool se eerste span uitgedraf. In 1956 het die skool die Administrateursbeker gewen met dr. Dirksen op vleuel; hy was dus van jongs af reeds ’n monster in dié posisie.

Die musikant Ollie Viljoen was die skrumskakel van daardie wenspan en die twee was tot Viljoen se dood in 2014 boesemvriende.

Een van die staaltjies wat vertel word, gaan oor toe die Leeus-vleuel Dean Hall in latere jare sy Springbokbuiging gemaak het. In die media is daar bespiegel of hy ook as “Le Monster” bekend sal staan.

Blykbaar was dr. Dirksen nie té ingenome met dié stand van sake nie!

  • Dirksen se broer Hansie het vir die Vrystaatse Cheetahs gespeel, terwyl Hanno Dirksen tans vir die Ospreys in Wallis in aksie is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

andre ·

Is Covid 19 nie dalk net n bydraende faktor nie ,alle ander siektes het met Covid 19 verdwyn.Of het die mediese sektor binne 3 maande meeste ander siektes oorwin?

Francois Le Cochon ·

Covid-19 veroorsaak bloedklonte in jou hele liggaam. Hierdie bloedklonte veroorsaak dan long- en nier disfunksie, hartaanvalle, en beroertes. ‘n Covid 19 pasient sal dan aan een van hierde simptome sterf. Dit is waarom mense wat herstel van die Covid virus, vir maande daarna sukkel met asemhaling, ligte beroertes wat oog hand koordinasie beinvloed, en longdisfunksie. Hoe lank na herstel van die virus hierdie simptome bly, is nog nie bepaal nie.

Co ·

Stem, hoor en sien so maand of 3 gelede op BVN, ‘n mediese kenners in Belgie se dieselfde – in Belgie het daar laasjaar 15 000 mense gesterf aan griep. Die jaar byna niks!

christo ·

Sterkte en simpatie aan die gesin. Dokters met so ‘n passie vir werk is skaars. Kom ons is waaksaam en respekteer asseblief die ouer mense as ons van die werk af kom deur te stort en ander klere aan te trek. Soos die infeksies styg is die moontlikheid dat die virus aan klere vasklou groter.

Jan ·

Hy sterf aan ‘n hartaanval maar die nuuswaardigheid van die berig berus op “covid-19” komplikasies. Hoe meer blatant kan die media raak?

Co ·

Vra ek myself, wat gaan op dr se doodsertifikaat staan? Covid 19 of hart aanval? RIV dr. Dirksen, jy verdien dit!

Colombo ·

Soos ek die saak verstaan word n subsidie van R35 000 deur die staat aan die hospitaal vir elke covidpasient betaal.Die hospitaal sal nie moeite doen om tot die teendeel die doodsoorsaak te bepaal nie.Dan verloor hy die subsidie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.