Oud-visekanselier van NWU sterf

Prof. Dan Kgwadi. (Foto: Nico Strydom, Maroela Media)

Prof. Dan Kgwadi (56), voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, is Sondagaand oorlede.

Die nuus is deur prof. Mzubanzi Bismark Tyobeka, huidige rektor en visekanselier, op die universiteit se webblad bevestig.

“Dit is met swaar harte en hartseer dat ons die ontydige afsterwe van prof. Dan Kgwadi aankondig,” het hy geskryf.

Volgens Tyobeka was Kgwadi glo baie siek. Besonderhede oor sy siektetoestand en die oorsaak van sy dood is nie bekend nie.

“Ons gedagtes en gebede gaan uit na sy geliefdes in hierdie moeilike tyd. Die familie sal verdere besonderhede oor sy begrafnis en ander reëlings deurgee.”

Kgwadi het in November 2021 as visekanselier van die universiteit bedank nadat hy die posisie van visekansellier van die Vaal Universiteit van Tegnologie aanvaar het.

Kgwadi was van 2013 tot 2021 die visekansellier van die NWU.

Maroela Media het vroeër berig dit was onder Kgwadi leierskap dat die drie kampusse, Potchefstroom, Vanderbijlpark en Mafikeng, geïntegreer is, en dat Afrikaans grotendeels as onderrigtaal by dié universiteit afgeskaf is.

Dit het destyds groot kritiek in die Afrikaanse gemeenskap uitgelok. 

 ‘Uiters beleefde, saggeaarde mens’

Prof. Johannes Froneman, wat van 2015 tot einde 2019 as Kgwadi se raadgewer oor strategiese kommunikasie gedien het, het gesê hy het Kgwadi as ‘n uiters beleefde, saggeaarde mens ervaar.

“ʼn Mens met integriteit wat nie baantjies vir boeties geskep het of met selfverryking besig was nie. Hy het kwaai kritiek verduur oor die taalbeleid wat meer plek vir Engels op die Potchefstroomkampus gegee het. Tog was hy Afrikaans, Afrikaanse studente en Afrikaanse organisasies goedgesind.

“So het hy my gevra om ʼn ontmoeting met Akademia te reël. Hy het deurgery Centurion toe en aan die effens verbaasde Akademia-verteenwoordigers die hand gereik. Hy het AfriForum Jeug ook vriendelik in sy kantoor ontvang.”

Hy was egter onder groot druk van regeringskant en dus tussen die duiwel en die diep blou see, meen Froneman. “Het hy probeer om die Potchefstroomkampus Afrikaans alleen te hou, sou hy sekerlik deur die minister van onderwys vervang gewees het. Dit is die mag wat die minister het.

“Deur Engels in te bring naas Afrikaans het hy moontlik Afrikaans se staanplek op die kampus verleng. Maar alleen kon hy dit nie doen nie. Die realiteit van Engels as swart studente se keusetaal en die las wat tweetaligheid gewoonlik op Afrikaanse dosente plaas, is van die faktore wat hierdie ʼn uiters komplekse probleem gemaak het.”

Kgwadi was volgens Froneman nie ʼn dinamiese leier nie maar eerder ʼn rustige mens wat selde in vergaderings met sterk standpunte na vore gekom het. “Hy het besef hy is die stuurman van die skip, maar dat talle ander mense die koers medebepaal het. Hy het mense vertrou om hul werk te doen, wat soms misplaasde vertroue was.

“Kgwadi was ʼn diabeet wat deur sy uiters ongereëlde roetine by die NWU nie altyd goed na sy eie gesondheid omgesien het nie. Hy het weens die veeleisende rondry tussen kampusse en ander verpligtinge selde in sy eie bed geslaap.

“Hy het sy geloof nie uitbasuin nie, maar deurgaans die Christelike kultuur op die Potchefstroomkampus gerespekteer. Daarom het Skriflesing, gebede en geestelike liedere in sy tyd as visekanselier deel van amptelike verrigtinge gebly.

“Kgwadi sal dalk deur sommige onthou word as die man wat Afrikaans by die NWU uitgeskuif het. Dit sou ʼn baie onbillike oordeel wees. Hy het met sy sagte aanslag ʼn noodwendige oorgang beter hanteer as wat talle ander dit sou gedoen het. Buitendien was sy voorganger se model onvolhoubaar en moes die NWU meer doen as om kampusse as eilande te hanteer.”

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.