Oudburgemeester tronk toe oor bedrog

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Die oudburgemeester van die Nketoane- plaaslike munisipaliteit in die Vrystaat is tot agt jaar direkte tronkstraf gevonnis vir bedrog, geldwassery en die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.

Mandla Mamba (49) het Dinsdag saam met sy medebeskuldigdes, Caroline Nketu (52) en Vincent Mkhefa (46), in die handelsmisdaadhof in Bethlehem verskyn waar elkeen hul lot aangehoor het.

Mkhefa sal ook agt jaar agter tralies deurbring, terwyl Nketu tot vier jaar direkte tronkstraf gevonnis is.

Die trio se skuldigbevinding spruit uit ʼn voorval in 2011 waar ʼn fluitjieblaser beweerde tenderbedrog en korrupsie aangemeld het wat toe deur die Valke ondersoek is.

Die beweerde bedrieglike aktiwiteite het verband gehou met die installering van toerusting in parke, waar die verkeerde verkrygingsprosedures gevolg is.

Mamba het destyds ʼn kwotasie van R32 000 vir speelterreintoerusting by die munisipaliteit ingedien, wat deur die betrokke diensverskaffer afgelewer is. Sy is ook deur die munisipaliteit vir dié dienste betaal.

In dieselfde tydperk is Nketu, ook ʼn diensverskaffer, egter versoek om kwotasies vir dieselfde tenderkontrak te verskaf. Dié het toe twee kwotasies van R198 500 elk ingedien.

Mkhefa, die voormalige finansiële hoof by die munisipaliteit, het by twee afsonderlike geleenthede betalings van R165 600 en R198 500 aan Nketu goedgekeur, hoewel daar geen dienste gelewer is nie.

Volgens kapt. Christopher Singo, woordvoerder vir die Valke, is daar later ook bevind dat Nketu by twee geleenthede R1 000 aan Mamba betaal het.

Die munisipaliteit het weens dié bedrieglike aktiwiteite ʼn verlies van R364 000 gely.

Mamba, Nketu en Mkhefa is eindelik in 2019 in hegtenis geneem en in September vanjaar skuldig bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

Tronkstraf vir die goed beteken niks. Hul gaan voort met hul boewery binne. Plaas belastingbetalers terug in oorspronklike finansiele posisie deur ALLE bates van die boewe te konfiskeer

Waarnemer ·

Nog drie gholf maats vir jacob zuma….binne 3 weke speel hulle saam.

Bertie ·

Die voorval is in 2011 aangemeld! Dis nou 10 jaar later! Ek is dankbaar dat geregtigheid geskied het, maar teen hierdie slakkepas? Hoekom neem dit so lank om kaders in die tronk te kry?

TRP ·

Dalk begin die howe met die kleiner bedrae en dan sal ons by die miljoene uitkom….in 30 jaar.

Jacobus ·

Wat van VBS burgemeesters(esse) – een het selfs promosie gekry. Party verdien intussen selfs duisligwekkende salarisse.

Erika ·

I like your new Orange “designer Outfit”….-It suits you

Shakespeare ·

Mooi so. Jy en jou kader pêlle gaan aangestel word as LP’s. Julle het voldoen aan die ANC/EFF se posvereistes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.