Oudpolisieman dood gevind ná moord op vrou

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Die voormalige polisiekonstabel wat van die onlangse moord op sy vrou verdink is, is dood aangetref. Teboho Sekonyela het homself buite Winburg in die Vrystaat om die lewe gebring.

Polisiebeamptes het Maandag op Sekonyela se liggaam afgekom waar hy aan ’n boom gehang het.

Die Vrystaatse polisie het intussen onthul dat Sekonyela vroeër uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ontslaan is en tien jaar tronkstraf uitgedien het ná die moord op ’n vriendin.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê ’n speurder het Maandag inligting ontvang oor waar Sekonyela hom moontlik bevind. Daar is sedert die naweek na Sekonyela gesoek nadat sy vrou se liggaam Sondag in haar huis in Winburg aangetref is.

Luidens dié inligting is Sekonyela in ’n blou Volkswagen Polo met ’n Vrystaatse nommerplaat op die N1 naby Ventersburg opgemerk. Die betrokke speurder het op dié inligting gereageer en Sekonyela in ’n polisievoertuig agternagesit.

Toe die polisiebeampte Sekonyela se motor gewaar, het hy die blou ligte van die polisievoertuig aangeskakel. Sekonyela het egter toe besef dat hy agternagesit word en voet in die hoek gesit. ’n Jaagtog het daarna gevolg.

Die speurder het later hulp ontbied en die N1 is deur die polisie op Winburg afgesper aangesien die verdagte in daardie stadium op pad was na Winburg.

Sekonyela het egter naby Bellspas, sowat vyf kilometer vanaf Winburg, op die ou Brandfortpad beheer oor sy voertuig verloor en dit in die bergagtige gebied by Bellspas gerol.

Die polisie het later dié bergagtige gebied gefynkam in hul soektog na Sekonyela. Die polisiebeamptes het eers sy verlate motor gevind voordat hulle op sy liggaam afgekom het.

Sekonyela is op die toneel dood verklaar.

Maroela Media het vroeër berig Sekonyela se vrou, Nomathemba Sekonyela, se bure het bekommerd geraak toe hulle haar sedert Vrydag nie in die hande kon kry nie. Hulle het Sekonyela gekontak en hy het hulle verseker dat sy vrou in Pretoria is.

Die polisie het egter Sondag Sekonyela se huis in Voortrekkerstraat oopgedwing en haar liggaam in die huis aangetref. Haar liggaam was met ’n kombers toegegooi. Sy het wurgmerke aan haar nek en kneusplekke aan haar arms gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Swerwer ·

Genade……………….. waarom die arme vrou om die lewe bring. Hy moes beslis geestelik versteurd gewees het.

Cherokee ·

Gewetenloos. Daar was ook ‘n vorige geval. Gewete het geen rol gespeel. Slegs die wete dat hy nie met ‘n plat kar kan ry nie, en gevang sou word.

LD ·

Lees ek reg?? Hyt reeds 10jaar tronkstraf uitgedien vir moord op ñ vriendin? Nou het hy weer iemand vermoor, sy eie vrou? Genade, daar was verseker iets fout met die “man”…..

wim ·

Daar is beslis fout met die SAPS as hulle ‘n moordenaar her aanstel

Harley Davidson ·

Tien jaar tronkstraf uitgedien het, jy moet honderd jaar tronkstraf kry en selfs dan gaan jy nie 10 jaar in Suid-Afrika sit nie .Sekere bevoorregtes in Suid-Afrika word groot dat hulle kan doen net wat hulle wil sonder enige nagevolge.

Nie Verbaas ·

En ons word vertel dat daar uitstekende rehabilitasie programme in die gevangenis aangebied word. Nog n ANC grap. Hy moes na eerste moord gehang het. Die goeie ou dae.

Vettiemaragartos ·

Ekskuus? Was in die polisie. Toe moor hy. Kry 10 jaar gevangenisstaf. Gaan terug polisie toe en dan moor hy weer. Ek weet van baie meer stabiele mense wat nie die polisie se psigometriese slaag nie ook geen kriminele rekord het nie, en kan dus nie weer in diens geneem word nie. Gelukkig het hy sommer self sy wiel gedraai. Good riddens!!

Jack ·

Die boendoe howe is besig. Gebeur wanneer geregtigheid by die deur uit is.

Swerwer ·

‘n “Oudpolisieman”, my vader wat het dit te maak met wie hy is, hy het 10jaar tronkstraf uitgedien vir moord maar roem daarop dat hy ‘n oudpolisieman is. ‘n Beroep het absoluut niks te doen met jou optrede nie. Al wat hierdie bewoording/berig weer uitspel is hoe korrup die polisie is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.