Oudtshoorn-egpaar gevonnis oor versekeringsbedrog

(Foto: Shutterstock)

Ricardo Bowkers en Desiree Bowkers is in die Oudtshoorn-streekhof gevonnis op 22 aanklagte van bedrog en geldwassery.

Die egpaar het ʼn versekeringsmaatskappy bedrieg en die man het verskeie vals eise ingedien terwyl hy in ʼn tronksel gesit het, sê Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Ricardo is skuldig bevind op 13 aanklagte van bedrog en nege aanklagte van geldwassery. Hy is 16 jaar tronkstraf opgelê op die 13 aanklagte van bedrog en 10 jaar tronkstraf vir die nege aanklagte van geldwassery.

Die vonnisse sal nie gelyklopend uitgedien word nie. Hy is dus 26 jaar direkte tronkstraf opgelê. Die hof het bepaal dat hy minstens tweederdes van sy vonnis moet uitdien voor hy vir parool in aanmerking kan kom.

Desiree is skuldig bevind op nege aanklagte van bedrog en sewe jaar tronkstraf opgelê. Sy is ook skuldig bevind op agt aanklagte van geldwassery en ses jaar tronkstraf opgelê.

Hierdie vonnisse sal gelyklopend uitgedien word en sy sal dus sewe jaar tronkstraf uitdien.

“Tydens hul skuldigbevinding op 15 Maart 2024, en vonnisoplegging op 10 April 2024, was Ricardo reeds besig met 12 jaar tronkstraf vir bedrog wat hy in 2016 gepleeg het toe hy Mutual and Federal Insurance bedrieg het.”

Staatsaanklaer Hyron Goulding het aan die hof gesê Ricardo het vorige skuldigbevindings wat oor 14 jaar gestrek het tussen 2002 en 2016 en wat diefstal, bedrog, roof en aanranding insluit.

Ná sy laaste skuldigbevinding in 2016 het die hof hom gewaarsku dat hy as ʼn gewoontemisdadiger beskou sal word indien hy sou voortgaan met soortgelyke misdade.

In hierdie geval het hy ʼn versekeringspolis by Santam uitgeneem. Sy vrou het twee bankrekeninge in hul minderjarige seuns se name oopgemaak en het volledige beheer gehad oor die rekeninge. Sy het die besonderhede van die bankrekeninge vir haar man in die tronk gegee en hy het uit sy sel by Oudtshoorn-tronk eise by Santam ingedien. Hy het ʼn selfoon en SIM-kaarte, wat sy vrou vir hom ingesmokkel het, gebruik. Hy het verskillende selfoonnommers gebruik om die eise in te dien onder verskillende aliasse – C. Botha, D. Claassen, A. Lukas, A. Baartman, R. Witbooi, M. Mentoor, B. Pretorius, J.J. Botha, D.L. Heyns en G. Tyers.

“Santam was onder die indruk die eise is eg en het die geld in die bankrekeninge gedeponeer.”

Goulding het aan die hof gesê Ricardo het eise ingedien vir verlore selfone, ʼn skootrekenaar en videokameras. Hy het seker gemaak dat die eise nooit meer was as R10 000 nie, sodat ʼn assessor nie uitgestuur word na die eiser nie.

“Wanneer mens na sy vorige skukldigbevinding in 2016 kyk en die periode van sy huidige oortreding, het hy die nuwe bedrog teen Santam gepleeg terwyl hy nog verhoor is vir die aanklag teen Mutual and Federal. Hy het geen respek vir die hof of die regstelsel nie.”

Goulding sê bedrog en geldwassery is ernstige oortredings en die versekeringsmaatskappy het verliese gely.

“Die misdade is goed beplan en, met samewerking deur sy vrou, het hulle die oortredings oor 12 maande gepleeg.”

Desiree was sy medebeskuldigde in die eerste bedrogsaak waar hy skuldig bevind en gevonnis is. Klagtes teen haar is teruggetrek, maar sy het hom vrywillig bygestaan om die nuwe bedrog teen ʼn ander versekeringsmaatskappy te pleeg.

“Hy kon nie die misdade gepleeg het sonder die bystand van sy vrou nie.”

Staatsgetuie Stephanus van der Merwe, projekbestuurder van die Versekeringsmisdaadburo (ICB), het in ʼn verklaring gesê R55 miljard se korttermynversekeringseise word jaarliks in Suid-Afrika ingedien. Sowat 15% van al dié eise bevat ʼn element van bedrog. Dit kom neer op ʼn verlies van R8,25 miljard per jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

Ek het geen versekering nie is duur en indien jy eis insit of bel is daar altyd n storie van instandhouding ens nee wat spaar self daai geld elke maand en doen self iets as dit breek of so

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.