Ouers, skool én kamp nalatig toe meisie verdrink – verslag

Matome Chiloane, LUR vir onderwys in Gauteng, en Nchupetsang Inc Attorneys het hul bevindings oor klein Latoya Temilton se dood Donderdag by Laerskool Queenswood bekend gemaak. (Foto: Verskaf / GDO)

Die onafhanklike regsfirma wat die dood van Latoya Temilton (12), ʼn gr. 7-leerder van Laerskool Queenswood, ondersoek het, het bevind dat die skool, die Wag-ʼn-Bietjie-kampterrein én die meisie se ouers nalatig was toe sy in Januarie op ʼn skooluitstappie verdrink het.

Nchupetsang Inc Attorneys dui ook in sy verslag aan dat ʼn siviele eis moontlik teen die Gautengse onderwysdepartement (GDO) ingestel kan word en dat die departement moontlik skadevergoeding sal moet betaal wat nie deur die skool se versekering gedek word nie.

Prokureurs van dié firma beveel ongeag opvolgstappe aan dat die departement Latoya se familie op grond van ʼn “morele verpligting vergoed”.

Maroela Media het vroeër berig dat Latoya een van die skool se nuutverkose leiers was. Sy is op 20 Januarie saam met ander leerders en onderwysers op ʼn daguitstappie na die betrokke kampterrein in Olifantsfontein waar die noodlottige voorval plaasgevind het. Latoya het ongeveer 15:00 die middag verdrink en is deur ʼn ander leerder uit die swembad getrek.

Sommige leerders het ná haar dood aangedui dat Latoya nie kon swem nie en dat hulle haar “handstane” sien doen het. Nog leerders het gesê hulle het gesien hoe Latoya haar hande rondswaai, maar dat hulle gedink het sy maak ʼn grap.

Die departement het die prokureursfirma kort ná die voorval aangewys om ʼn onafhanklike ondersoek na die kind se dood te doen.

Latoya Temilton (12) is op ‘n skooluitstappie dood.  (Foto: Facebook)

Verskeie wette oortree

Volgens die verslag, wat Donderdag by die skool bekend gemaak is, het die hoof en betrokke onderwysers verskeie wette rakende skooluitstappies oortree en moet hulle toepaslik aangekla word.

Die skool het onder meer nie formele goedkeuring van die ouers oor die uitstappie gehad nie en versuim om ouervergaderings daaroor te hou, lui die verslag.

Vrywaringsvorms is glo ook eers op die dag van die uitstappie aan Latoya se pa gegee. Dit het hom met te min tyd gelaat om dit behoorlik in te vul.

Verder het die regsfirma bevind dat die skool nie die veiligheidsrisiko’s by die kampterrein behoorlik geëvalueer of voldoende veiligheidsmaatreëls en toesig op die dag verseker het nie. Daar word ook beweer dat geen onderwyser of lewensredder in sig was toe leerders by die swembadgedeelte was nie.

In die lig hiervan beveel die firma aan dat die hoof en betrokke onderwysers onder meer vir die oortreding van die Kinderwet aangekla word, omdat hulle hul wetlike plig versuim het om Latoya se welstand te verseker terwyl sy in hul sorg was.

Die prokureurs beveel ook aan dat die hoof en onderwysers van wangedrag aangekla word omdat hulle glo misleidende en oneerlike inligting aan die departement en ander rolspelers verskaf het, wat leerders se weergawe van die gebeure weerspreek het.

Die huidige beheerliggaam van die skool behoort ook ontbind te word omdat dit wanfunksioneel is, lui die verslag.

Rico Ludick, hoof van Laerskool Queenswood, Ntini Mashigo, direkteur van regsdienste by die Gautengse onderwysdepartment, Matome Chiloane, LUR van onderwys in Gauteng, Meshack Nchupetsang, uitvoerende hoof van Nchupetsang Inc. Attorneys en Eddie Potgieter, hoof van Laerskool Queenswood se beheerliggaam tydens ’n vorige konferensie. (Foto: GDO)

Siviele klag kan wink

Nchupetsang-prokureurs het verder tot die gevolgtrekking gekom dat die departement moontlik siviel vir die voorval aanspreeklik gehou kan word.

Boonop is daar ʼn kans op ʼn eis vir skadevergoeding teen die departement, ook vir skade wat nie deur die skool se versekering gedek word nie.

Die prokureurs het aanbeveel dat die departement die gesin op grond van “morele verpligting”vergoed, met die presiese bedrag wat die departement self moet bepaal.

Die departement word ook versoek om sy regulasies oor uitstappies te hersien, veral in die lig van ander verdrinkings tydens skooluitstappies.

Ouers, kampterrein ook nalatig

Latoya se ouers was ook tot ʼn mate nalatig, lui die verslag.

Die uitnodiging en rooster wat die skool aan ouers verskaf het, het wel swemaktiwiteite aangedui en Latoya se ouers het haar swemklere ingepak hoewel hulle geweet het dat sy nie kan swem nie.

Die kampterrein moet ook ʼn paar veranderings aanbring, het die verslag aanbeveel.

Dit sluit in die opskerp van veiligheidsmaatreëls, beter afbakenings wat die diep en vlak kant van die swembad aandui, asook stiptelike reaksie wanneer voorvalle aangemeld word.

Die verslag beklemtoon dat die kamp kinderveiligheid moet prioritiseer, onder meer deur verhoogde toesig, die teenwoordigheid van lewensredders tydens swemaktiwiteite en perseelinspeksies vir goedkeuringsdoeleindes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andrew ·

As die ouers ook nalatig is verstaan nie ek nie hoe hulle vergoed kan word nie, daar is n rede vir n idemniteit form. “Prokureurs van dié firma beveel ongeag opvolgstappe aan dat die departement Latoya se familie op grond van ʼn “morele verpligting vergoed””. Dit is nie n wetlike verpligting nie maar wel n traditionele konsep wat in die hele Afrika geld. Nchupetsang-prokureurs klink soos aasvoels en ek hoop die idemniteit forms is als in plek. Ek hoop ook skole begin n les leer oor “swem” uitstappies in vandag se tye.

Elizma ·

Hierdie is ‘n tragiese ONGELUK wat gebeur het, geen geld sal haar terugbring nie, geen ontbinde beheerliggaam sal haar terugbring nie en geen hoof of onderwyser wat aangekla moet word gaan haar terugbring nie. Die terrein met beter bordjies op is net goeie kettieskiet teikens vir die kinders. Spandeer eerder daardie geld om die kinders toe te rus om ‘n maatjie in moeilikheid te kan help, daardie onderwyser, hoof en beheerliggaam is die perfekte mense om verbetering te implimenteer want hulle het eerstehandse kennis van wat kan verkeerd gaan in watter situasie. Ouers leer hieruit en leer jou kinders swem van so vroeg moontlik af. Jy is nie gevrywaar nie maar dan weet jy jy het jou beste gelewer.

Theo ·

Die prokureurs firma probeer hier vinnig geld maak. Hoe Kan die ouers vergoed word as hulle ook nalatig was.

Onnie ·

Die arme kind wou dalk nie aan maats en onderwysers erken dat sy nie kan swem nie, dis ‘n beginsel van trots. Maar as haar ouers vir haar swemklere ingepak het en sy self in die swembad geklim het, is die kampterrein, skool en departement nie alleen nalatig gewees nie, en moet hulle ook nie alleen die skuld dra nie – niemand moet hier finansieël vergoed word nie.

Andries ·

Hierdie skep ‘n groot presedent wat alle skole se uitstappies gaan raak. As die hoof en onderwyser /s aangekla word, sal hul almal doodeenvoudig weier on funksies/ uitstappies te ondersteun. Dink aan veldskole & busse wat atlete, rugby, netbal, krieket spanne vervoer. En as ‘n kind op rugby toer beseer word?

Frank ·

Die prokureursfirma se naam se alles, veral oor die ontbinding van die beheerliggaam wat hoegenaamd op geen manier betrokke of verantwoordelik is vir so iets nie en volgens sulke “redenasie” moet die hele regering ook ontbind word weens die 10 duisend maal erger korrupsie van regeringsbestuurlede self.

koos10 ·

Uit ondervinding weet ek dat die verwaringsvorms nooit betyds by die skool ingedien word nie. Ek weet van gevalle waar die vorms agter ouers aangery was om te voltooi op die laaste nippertjie. Dit wss egter by ‘n ander skool in Pretoria.
Nou as die skool weier dat die kind op die uitstappie gaan, word dit ‘n ras ding deur die ouers gemaak. My raad, kort en kragtig, stop alle uitstappies, want gee nie om wat gebeur nie, die skool en BL sal ALTYD in die moeilikheid wees.

Martie ·

Dit is altyd ‘n tragedie as iemand se kind sterf, maar as sy ‘n ander kleur was het daar niks van gekom nie. Sy was nie ‘n baba nie, nogal ‘n leerlingraad soos dit my lyk, dan behoort sy vir haarself te kon dink.

ES ·

Die ontbinding van die beheerliggaam is glad nie ‘n wetlike verpligting nie en nie die firma se opinie. Terloops, nalatigheid en skadevergoeding is twee aparte sake en dit beteken nie dat as iemand nalatig was dat hulle nie vergoed kan word nie – daar word ‘n persentasie bereken op nalatigheid, maar ek dink die departement sal waarskynlik ‘n skikkingsooreenkoms aangaan met die ouers. Die prokureurs het net ‘n verslag gedoen en meeste van wat hulle ondervindings was en wat hul daaroor te se het is bloot opinie gebaseer op die Kinderwet, met regsadvies hier en daar wat objektief is.

Riaan ·

Prokureurs is soos aasvoëls, meen die ouers self was nalatig gewees, hoe kan daar ‘n eis ingedien word, belaglik!

Jolanda ·

Dis baie hartseer dat die kind oorlede is en my hart gaan uit na die ouers. Ek vind dit altyd moeilik om te verstaan waarom families vergoed moet word as ‘n familielid in ‘n ongeluk omkom – mens behoort nie finasieël voordeel te trek uit iemand se dood nie. Dis ‘n ander saak as dit bv die broodwinner was en die familie het die geld nodig vir oorlewing, maar in baie gevalle het die oorledene nie bygedra tot die finansies nie. Jammer, ek wil nie gevoelloos voorkom nie, ek verstaan dit net nie.

Martie ·

My liewe Jolanda, dis nie voordeel trek nie, maar om te sterf is tien keer duurder as om gebore te word. Ek het 3 kinders gehad, 1 het gesterf en twee en ‘n half jaar later sukkel ek nog steeds om dinge uit te sorteer en dit kos alles geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.