Ouetehuisbestuurder in sop ná werkers klagtes indien

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Facebook / Vosloorus SA)

’n Bestuurder by ’n ouetehuis in Vosloorus is in hegtenis geneem nadat verskeie werknemers klagtes – onder meer weens wanbetaling – by die polisie aanhangig gemaak het.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het die bestuurder, wie se naam nie bekend is nie, se inhegtenisneming Vrydag in ’n verklaring bevestig.

“Die werknemers het ernstige griewe oor die bestuurder uitgelig, waaronder die niebetaling van unie-lidmaatskapfooie hoewel die aftrekking op hul betaalstrokies wys.”

Die werknemers het glo ook nie hul salarisse vir Maart ontvang nie. Daar word ook bewerings van ongemagtigde onttrekkings uit die organisasie se rekening gemaak.

“Dít is baie ernstige aantygings. Die uitwerking daarvan is dat diegene wat veronderstel is om voordeel uit die sentrum te trek, eindelik die spit sal afbyt van hierdie beweerde onetiese gedrag.

“Die departement is diep teleurgesteld en veroordeel sulke gedrag ten sterkste. Ons doen ook ’n beroep op alle niewinsgewende organisasies om met die hoogste vlak van integriteit te werk te gaan en te verseker dat die korrekte etiese bestuur altyd in die uitvoer van hul pligte toegepas word sodat dit die kwesbares kan bevoordeel.”

Die departement benadruk dat R2 miljard in sy begroting vir die niewinsgewende organisasies opsy gesit is.

Die departement het reeds nie met die Vosloorus Society for Care of the Aged vir die huidige finansiële jaar ’n diensvlakooreenkoms onderteken nie, aangesien hulle “lankal agtergekom het daar is probleme”. Dié vereniging ontvang dus nie nou geld van die departement nie.

Volgens die departement het die vereniging versuim om rekening te hou van geld wat in die 2021-’22-boekjaar deur die departement aan die organisasie verskaf is, asook regulasies ingevolge die Wet op Ouer Persone oortree. Onstabiele bestuurskwessies het glo ook die risiko vir finansiële wanbestuur verhoog.

“Die departement is nie in staat om ’n sentrum te finansier wat onwettig funksioneer nie, veral nadat hulle twee jaar gebied is om die strukturele probleme op te los en die gesondheidsertifikaat te bekom.

“Die departement tref tans voorbereidings vir die verwydering van begunstigdes na alternatiewe sentrums.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.