OVK gereed vir stemdag

Meer as 26 miljoen mense is geregistreer om te stem. (Foto: Reint Dykema)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sê hy is gereed vir die 26,2 miljoen geregistreerde kiesers om Maandag vanaf 07:00 hul kruisies in die plaaslikeregeringsverkiesing te gaan trek.

Die land se 23 148 stempunte sluit vanaand om 21:00 en diegene wat teen daardie tyd reeds by stemlokale is, maar nog nie gestem het nie, sal steeds toegelaat word om dit te doen.

Volgens die OVK het 602 780 (83%) van diegene wat vir spesiale stemme aansoek gedoen het, teen Sondag gestem. “Hoewel die kommissie tevrede is met die opkoms oor die afgelope twee dae, kan kiesers wat om watter rede ook al nie hul spesiale stem kon uitbring nie, steeds op kiesdag stem.”

Neem kennis van die volgende:

  • Kiesers moet stem waar hulle geregistreer is.
  • Kiesers moet in besit van ʼn geldige Suid-Afrikaanse ID wees. Kantore van binnelandse sake is Maandag oop om kiesers toe te laat om hul ID’s af te haal, of aansoek vir tydelike ID’s te doen.
  • Elke kieser in ʼn metropolitaanse munisipaliteit kry twee stembriewe: Een vir hul wykskandidaat en een vir ʼn politieke party. Kiesers in ʼn plaaslike munisipaliteit kry ʼn derde stembrief vir ʼn distriksraad.
  • Elke stembrief moet op die agterkant gestempel wees om die geldigheid daarvan te bevestig.
  • Dit is verbode vir ʼn kieser om ʼn foto van hul gemerkte stembrief te neem.

Die OVK het die versekering gegee dat streng veiligheidsprotokolle by stempunte sal geld om die verspreiding van Covid-19 te help voorkom. Die kommissie het vroeër ʼn beroep op kiesers gedoen om hul eie swart penne saam te bring, maar penne sal ook by stempunte beskikbaar wees. Dit sal deurlopend ontsmet word.

“Die kommissie is vol vertroue dat alle voorbereidings vir ʼn vry en veilige, regverdige munisipale verkiesing binne die Covid-19-getref is. Die OVK is tevrede dat hy alles moontlik gedoen het om voor te berei vir die verkiesing, wat hoogs bestrede is, gegewe die getal kandidate en partye wat deelneem,” lui ʼn verklaring van die OVK.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Buck ·

Julle foto hierbo lyk sommer “Afrika”. Ek wonder hoeveel partye gaan weer help skoonmaak

Hennie J ·

Nou wonder ek: Is dit stemdag of die ovk/anc alliansie se verneuk dag?

Elizabeth ·

Negatiwiteit speel in die hand van die ANC. Minder wit stemme vs meer swart stemme? Die wat nie stem nie is dan tevrede met hul omstandighede? Gaan gee jou stem vir VF+ ipv die huidige regering????????

groenboer ·

Inderdaad: daar is erge apatie onder swart kiesers, wat beteken hierdie is straks die eerste verkiesing sedert 1994 waar die blanke stem ‘n beduidende verskil kan maak.

Gaan stem dus – vir ENIGIEMAND anders as die ANC, en moet jou nie deur die DA se twakstorie dat dit ‘n mors is om vir ‘n kleiner party te stem, laat inloop nie.

Ek weet van ten minste een jong dame wat bitter graag vir die VF+ wou stem, maar nou gaan sy maar DA stem – want sy het vir daardie leuen geval. As hulle nou al so moet lieg om stemme van kleiner partye af te rokkel (omdat hulle deur hul eie onbeholpenheid misluk het om stemme van die ANC af te kan trek) vra mens jouself af hoe dit sal gaan as hulle ooit aan bewind sou kom.

Gevolgtrekking: die DA sal my stem nooit, ooit weer kry nie. Maar nietemin, vir diegene wat wyfel en twyfel, gaan stem tog eerder vir die DA as om by die huis te bly, want elke wegblystem is ‘n stem vir die ANC.

Thom ·

Die DA bly die enigste party wat reeds bewys het dat hulle kan regeer ___ vergelyk gerus die Wes-Kaap met die gemors in die res van die land .

Thom ·

‘n Afduim op ‘n feit is regtig kinderagtig ___ kom aub met argument van watter ander party kan ook REEDS roem op sukses op grootskaal .

Tiptol ·

Pretoria Tuine Hoërskool, 7:37. Lang toue (blankes) maar nog geen ballot papiere nie…

Andréas ·

Asseblief mense, jul moet gaan stem?
Motiveer dié in jou gesin, familie en vriendekring. Daarom is dit ‘n vakansiedag. Dis in werklikheid jou plig en word nodig geag ten einde jou mening vir ‘n beter toekoms nie net te lug, maar werklik te kan maak. Hiér tel die gesegde, “Die Pen is beter as die Swaard”

Stem jy nie…
Dis Draad sit. Jou kommentaar en mening oor ons land en sy mense sal absoluut geen grondige waarde hê. Net lug in ‘n oop en leë blik.
Verraad teen jouself en dié naaste aan jou.
Sonder rugraat…

Kobus ·

Stempunt by Zwartkops skool open 2 ure laat. OVK beampte in beheer wat seker ‘n plaas se geld verdien ,het blykbaar die kiesersrol vergeet en toe ook die skandeerders. Die min of geen inligting het ons as arme kiesers maar laat raai. Uiters swak . Eers nog tien minute,na 40 minute toe is dit nog vyf minute wat toe in totaal op 2 ure uitgeloop het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.