OVK oorweeg drempel vir aanmelding van partyfinansiering

Foto: Reint Dykema

In ’n belangrike wending het ’n kommissaris van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), Mosotho Moepya, Woensdag aangedui dat die OVK simpatiek gesind is teenoor die daarstel van ’n drempel waaronder donasies aan politieke partye nie verklaar hoef te word nie.

Die geleentheid waarop dit ter sprake gekom het, was ’n bespreking tydens die Open Book-fees in Kaapstad waaraan Moepya asook die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, en Mandisa Dyantyi van die aktivis-organisasie My Vote Counts deelgeneem het.

Die debat oor die finansiering van politieke partye het die afgelope nege maande behoorlik vlamgevat nadat pres. Cyril Ramaphosa in Januarie die Wet op die Finansiering van Politieke Partye onderteken het, en sowel die EFF (weens die VBS-skandaal) as die ANC (weens die CR17-onthullings) moeilikheid oor die kwessie op die lyf geloop het.

Tans is die OVK besig om die regulasies waarvolgens die Wet op die Finansiering van Politieke Partye toegepas moet word, te skryf. Die groot debat tans is of daar ’n drempel moet wees waaronder politieke partye nie skenkings hoef te verklaar nie, en of elke sent verklaar moet word.

Die land se vier grootste partye (die ANC, DA, EFF en IVP) is almal ten gunste daarvan dat skenkings van minder as R100 000 nie verklaar hoef te word nie sodat mense wat kleiner bedrae wil skenk omdat hulle ’n politieke beginsel wil ondersteun, maar bekommerd is dat hulle geteiken gaan word deur magshebbers omdat daardie politieke beginsels deur opposisiepartye uitgedra word, dit steeds kan doen.

Aan die ander kant voer politieke aktiviste-organisasies soos My Vote Counts en Right2Know aan elke sent moet verklaar word, want soveel van wat fout is in die Suid-Afrikaanse politiek is te wyte aan die giftige vermenging van geld en politiek, wat tans heeltemal ongereguleer is en lei tot die verkryging van invloed of selfs tot staatskaping doodgewoon omdat mense geld het.

Tydens voorleggings oor die regulasies wat die OVK nou moet opstel, wat in Julie in Kaapstad gehou is, het hierdie verdelingslyn tussen politieke partye aan die een kant, en die tersaaklike burgerregte-organisasies aan die ander kant, duidelik geblyk, en daar is baie afwagting om te sien hoe die OVK die kwessie gaan beredder.

Woensdag het Steenhuisen aangedui watter moeilike praktiese implikasies dit vir politieke partye gaan hê omdat mense bang is hulle word geteiken deur die regerende party as hulle opposisiepartye ondersteun.

Dyantyi het gesê alles moet openbaar gemaak word, anders moet gevra word wat het politieke partye om weg te steek?

Moepya het gesê ’n balans moet gevind word, want albei kante is reg. Daarom oorweeg die OVK wel ’n drempelbedrag waar skenkings of donasies onder die drempelbedrag nie verklaar hoef te word nie – maar om daardie drempelbedrag laag genoeg te maak dat dit algemeen aanvaarbaar sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alida X ·

Aag maak nie eintlik saak wat hulle besluit nie.
Korrupsie sal steeds hoogty vier.
As ek miljoenrand wil skenk kry ek 9 tjommies, deel die geld en elkeen skenk R100 000.
Niemand hoef nou iets te verklaar nie.

Hanno ·

Verbied ALLE skenkings. Politici kan hulle eie geld gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.