OVK-verkiesingskode Saterdag twee keer oortree, sê DA

Lede van die Patriotic Alliance het skynbaar Saterdag met outomatiese wapens by ʼn registrasiestasie in Eersterivier in die Wes-Kaap aangekom. (Foto: Verskaf)

Die DA sê hy weet van minstens twee voorvalle waartydens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se verkiesingskode Saterdag tydens kiesersregistrasie oortree is.

Lede van die EFF het na bewering die opruiende slagspreuk “Shoot to Kill” by ʼn registrasiestasie in Limpopo gesing, terwyl lede van die Patriotic Alliance skynbaar met outomatiese wapens by ʼn registrasiestasie in Eersterivier in die Wes-Kaap aangekom het.

Werner Horn, die DA se verteenwoordiger op die OVK se nasionale politieke skakelkomitee, sê beide voorvalle is by die provinsiale verkiesingsbeamptes aangemeld.

“Die OVK se kode sê uitdruklik dat partye en kandidate hul moet uitspreek teen politieke geweld en dreigemente teenoor ander partye, die verkiesingskommissie, lede van die publiek en die media.

Lede van die Patriotic Alliance het skynbaar Saterdag met outomatiese wapens by ʼn registrasiestasie in Eersterivier in die Wes-Kaap aangekom. (Foto: Verskaf)

“Hierdie soort intimiderende gedrag is onaanvaarbaar en het geen plek in ʼn demokratiese samelewing nie,” sê Horn.

DIe OVK het egter Saterdagmiddag tydens ʼn mediakonferensie gesê dat die tweede en laaste registrasienaweek goed afgeskop het.

Volgens Masego Sheburi, die OVK se adjunk‑ uitvoerende hoof, was meer as 99% van registrasiestasies binne minute van die aanvangstyd van 08:00 in werking.

Teen 13:00 het 304 221 kiesers al ʼn registrasiestasie besoek waarvan 55 019 vir die eerste keer geregistreer het om te stem.

Die OVK se aanlyn registrasieportaal het vandag alleen meer as 20 325 kieserregistrasietransaksies aangeteken.

“Ons doen ʼn beroep op kiesers wat dalk ʼn minder as aangename ervaring met die aanlyn platform gehad het, om weer te probeer. Die aanlyn portaal bly 24 uur per dag beskikbaar tot die dag waarop die verkiesings afgekondig word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.