Pa dink net aan gesin tydens hoewe-aanval

In die video kan gesien word hoe die inwoner ’n vuurwapen by een van die mans afvat en op die mans begin skiet (Foto:Skermskoot)

“Ek wou hulle net weghou van die huis en my gesin.”

Só vertel Vincent Mills (43), ʼn inwoner van Kameeldrift-Wes, Pretoria, wat Sondagaand op sy kleinhoewe deur drie gewapende mans in sy werkswinkel oorval is.

ʼn Video van hoe Mills verbete teen die drie mans veg, versprei soos ʼn veldbrand op sosiale media.

Mills vertel hy het omstreeks 21:30 net klaar in sy werkswinkel gewerkskaf toe hy van sy hurke opstaan, omdraai en in die loop van ʼn vuurwapen vaskyk.

“Ek het die drie mans voor my sien staan. Een het ʼn vuurwapen gehad en die ander twee messe. Ek het dadelik gedink: ‘Dit is nou sulke tyd, dit is nou my beurt’.”

Mills se eie wapen het op ʼn tafel in die werkswinkel gelê.

“Soveel emosies en gedagtes het deur my kop gegaan. Ek het nie geweet wat aangaan of wat gaan gebeur nie. Hulle het met die messe na my begin steek, my probeer skop en slaan, maar ek het verbete gekeer.

“Hoewel ek dalk braaf voorgekom het, was ek verskriklik bang.”

Mills vermoed die mans wou hom dwing om die huis vir hulle oop te sluit, waar Mills se swanger vrou en vier seuns was. Sy jongste seun is vyf jaar oud en oudste is nou in matriek.

“My veg-of-vlug-reaksie het onmiddellik ingeskop en ek het geweet ek sal met als binne my moet terugbaklei om te keer dat die mans die huis binnegaan, want sodra hulle die huis ingaan, gaan hulle by my gesin uitkom en hul lewens in gevaar stel.”

In die video van die voorval is dit duidelik hoe ’n skermutseling tussen Mills en drie mans uitbreek en kan gesien word hoe Mills in die proses ’n vuurwapen op die tafel gryp en op die mans begin skiet. Die mans vlug dan met ’n spoed uit die werkswinkel.

In die video kan ook gehoor word hoe Mills smeek dat hulle sy lewe moet spaar.

“Ek het kwesbaar voorgekom en gesmeek dat hulle my nie moet seermaak nie. Dit het gemaak dat die mans ontspan. Hulle het egter nie geweet dat ek eintlik op pad was na die tafel om my vuurwapen te gryp nie. Ek het hulle verras.”

Maroela Media het vroeër berig lede van die Groenlig-gemeenskapsprojek, ander buurtwagte, ’n sekuriteitsmaatskappy en die polisie is ná die voorval na die toneel ontbied. Hulle het ’n soektog na die verdagtes van stapel gestuur.

Mills het een van die mans in die proses raakgeskiet en hy het ’n bloedspoor agtergelaat wat die owerhede op die toneel kon volg.

Die bloedspoor het die soekspan tot in die veld gelei, waar hulle ’n mes en klapmus aangetref het.

Volgens Mills voel hy nou banger as tevore op die kleinhoewe en vrees hy dat die verdagtes dalk kan terugkom. Dit is die eerste keer dat ʼn aanval op sy kleinhoewe plaasvind.

“Só iets is ʼn skok op ʼn mens se sisteem.”

Volgens Bianca Burger, die skakelbeampte van die Groenlig-gemeenskapsprojek in Kameeldrift-Wes, is niemand al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die motief vir die voorval is ook nog nie bekend nie.

Die polisie het nog nie geantwoord op navrae nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Di ·

Ons mense op plase en plotte moet altyd paraat wees! Hulle is diewe wat in die nag kom, SKUIM van die aarde, die gemors word ook net meer en meer. Kan net dink wat kon gebeur het as hy nie ‘n vuurwapen byderhand gehad het nie. Dit was net genade van bo!

Frances ·

Ek was yskoud terwyl ek die clip kyk en woedend daarna, is dit waartoe ons lewens in hierdie land gekom het?? Jammer hy het net een gewond!

Groen Ghoen ·

Ek wonder of dr. Piet Croucamp dit as ‘n plaasaanval klassifiseer?

Monica ·

Hulle weet nie wat die MOTIEF vir die voorval was nie??? HUH??? Het daai 3 dan daar opgedaag vir koek en tee… Seriously… MOORD, ROOF EN VERKRAGTING… Dis waarin ons daagliks lewe.

VaalDonkie ·

Julle boere moet gewapen wees. Jittetjie tog! Ek woon in ‘n veilige deel van Kaapstad, maar selfs EK sal nie sonder my vuurwapen gaan loop kyk wat ‘n snaakse geluid was nie.

Windhond ·

Mooi man – baie goed – ek hoop die gewonde een ly vir n lang tyd aan daai wond voordat hy die tydige met die ewige verwissel – die gemors moet weet dat hulle gaan kry wat hulle nie wil he nie

Werner ·

Mens kan ongelukkig nie anders as om terug te veg nie. Welgedaan. Skiet die olie tonge!

Swerwer ·

Vincent jy in ‘n held. Dankie aan ons Hemelse Vader dat jy en jou gesin gespaar is. Wys nou maar net weer hoe lafhartig die gemors is.

efjy ·

Vincent, hou maar in die vervolg jou vuurwapen aan jou persoon.

Nettie ·

Sjoe Mnr Mills!!! Vinnig gedink en gereageer!!!! Ek dank ons Vader dat jy, en jou kosbare 4 kindertjies en swanger vrou ALMAL gespaar is. Mag Hy julle help deur die trauma, en julle elke dag oppas. Mag julle babatjie veilig en gesond gebore word en weer ‘n glimlag op julle seuns se gesigte bring.

007 ·

Ian Cameron, jy het die kat aan die stert beet. Hy het hulle met sy eie wapen geskiet wat op ‘n tafel daar naby gelê het.

madels ·

Dankie Here, dankie, dankie, dankie, hy is veilig en sy gesin.

Hans ·

Net jammer Mills kry toe bokkoors en skiet in alle windrigtings. Toegegee, hy het kans gevat en weggekom met sy optrede.

Danie ·

Daardie gebied n groot probleem seker ook geen sigbare polisie geen afskrik vir die kriminele.As dit vir die wapen was was ek bevrees vir die ergste.

Jakes ·

Welgedaan Mills. Net jammer jy kon nie n driekuns behaal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.