Video: Inwoner veg terug tydens kleinhoewe-aanval

In die video kan gesien word hoe die inwoner ’n vuurwapen by een van die mans afvat en op die mans begin skiet (Foto:Skermskoot)

’n Inwoner van Kameeldrift-Wes in Pretoria het verbete terugbaklei toe hy Sondag deur drie gewapende mans op sy kleinhoewe oorval is.

’n Video van die voorval wat op sosiale media versprei word, wys hoe drie mans uit die donker veld die inwoner se werkswinkel betree. Hulle loop in die inwoner se rigting en probeer die inwoner – wat besig is om in sy werkswinkel te werk – van agter te takel.

In die video is dit duidelik hoe ’n skermutseling dan tussen die inwoner en drie mans uitbreek en kan gesien word hoe die inwoner in die proses ’n vuurwapen op die tafel gryp en op die mans begin skiet.

Die mans vlug dan met ’n spoed uit die werkswinkel.

Volgens Bianca Burger, die skakelbeampte van die Groenlig-gemeenskapsprojek in Kameeldrift-Wes, het die voorval omstreeks 21:30 plaasgevind.

“Die verdagtes was al drie gewapen. Die inwoner, wat in hierdie stadium nie geïdentifiseer wil word nie, was nie gewapen nie,” vertel Burger aan Maroela Media.

Lede van die Groenlig-gemeenskapsprojek, ander buurtwagte, ’n sekuriteitsmaatskappy en die polisie is ná die voorval na die toneel ontbied. Hulle het ’n soektog na die verdagtes van stapel gestuur.

“Die inwoner het een van die mans in die proses raakgeskiet. Hierdie verdagte het ’n bloedspoor agtergelaat wat die owerhede op die toneel toe kon volg.

“Die bloedspoor het die soekspan tot in die veld gelei, waar hulle ’n mes en klapmus aangetref het.”

Niemand is egter al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die motief vir die voorval is ook nog nie bekend nie.

Volgens Burger is die inwoner nie beseer nie, maar erg getraumatiseerd deur die voorval.

“Die Groenlig-gemeenskapsprojek loof die inwoner vir sy dapperheid. Hy het die situasie skitterend hanteer. Hy het met als binne hom baklei om homself en sy gesin te beskerm. Ons is dankbaar hy het ongedeerd van die voorval afgekom en dat sy lewe gespaar is.”

Volgens Burger is die voorval weer opnuut ’n waarskuwing vir inwoners om ten alle tye paraat te wees.

Maroela Media het ’n navraag aan die polisie oor die voorval probeer rig, maar kon nog nie die betrokke polisiewoordvoerder in die hande kry nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Tante Toekie ·

Seker alreeds vergiftig, dis hoe hulle ‘operate’ by die plotte. Ek is 3 maal beroof in 1 maand, moes maar ander blyplek soek.

Mariana ·

Bravo!!! Hy het mooi kop gehou. Is bly hy is ongedeerd. Het die kriminele dan regtig motiewe, in hierdie geval het dit gelyk asof hulle juis gegaan het om hom leed aan te doen. Mense ons moet paraat bly, geen ander manier om in hierdie land te oorleef nie. Bly paraat en baklei terug vir jou eie behoud en die van jou familie. Dae van stilstaan is verby.

Sêmaarnet ·

Welgedaan! Ek is so jammer vir jou trauma, maar moet vir geen oomblik sleg voel nie. Jy het jou eie lewe gered. Laat hierdie ‘n voorbeeld wees vir die res van die plaaseienaars om altyd paraat te wees en doen wat jy moet. Sterkte!

Oosieoos ·

Gee hom a medalje en fire tog nou vir useless cele. Dan wil die regering nog die wet verander dat die kriminele beskerm word

Nettie ·

Ek stem saam – skitterend hanteer!! Mag God u help om die trauma te verwerk.
Dis hartseer dat iemand wat laataand nog hard wil werk, in gevaar is in hierdie land.

Delia ·

My hart huil vir die pleit in sy stem. Nie reg dat iemand deur so iets moet gaan. Dankie Here, dat U BY HOM WAS

Pieter ·

Motief nie seker nie? Ek dink nie die tipe besoekers kom om gou tee te drink nie.

Johann ·

Lekker! Hoop hulle gaan vertel vir hule mede slapgat lafaards wat gebeur as jou boosheid om in groepe mense aan te val, sy gat sien.

Di ·

Lees op Twitter waar iemand daar se dat die polisie sy vuurwapen gevat het vir ballistiese toetse? As dit wel die geval is, is dit skokkend! Hoe moet die man homself beskerm as die gemors weer toeslaan!

Gert ·

Soos ek verstaan is dit die diewe se vuurwapen wat hy afgeneem het en ‘n dief toe mee gekwes het

Cherokee ·

Waarom vir ballistiese toetse as die een wat hy raakgeskiet het, steeds weg is, Diline?
En Gert,ek het gelees dat dit sy eie vuurwapen is.

Tanya ·

Bitter baie bly als het goed afgeloop en dat die man se lewe gespaar is…. maar ek dink nie hierdie groepie is klaar nie, hulle slaan mos altyd meer as een keer toe.
Op die manier wat hierdie berig geskryf is, laat veel te wense oor…. Skarmutseling – is ‘n tipe persoon, nie wat tussen twee of meer mense gebeur nie en dit noem die inwoner was nie gewapen nie, maar tog het hy sy vuurwapen gegryp en op hulle geskiet? Ek verstaan niemand is perfek nie, veral nie met tegnologie deesdae nie, maar jinne lees ten minstens dit oor voordat jy dit plaas.

Herman ·

Baie geluk met hierdie een. Jy was gelukkig hierdie keer. ‘n Positiewe punt, jy het darem ‘n wapen naby jou gehad. Dra maar liewers die ding aan jou. Ek sien jy het ‘n werkwinkel en dit lyk of jy heel handig is. Ek vind dit egter vreemd dat jy nog nie ‘n veiligheidsomheining om jou huis het nie en dit op ‘n kleinhoewe? En waar is jou honde, of mis ek iets?

Waarnemer ·

Goed kop gehou maar die telling is nie aanvaarbaar nie….1 gewond en al 3 het weggekom!Mnr Mills u benodig meer oefening oo die skietbaan.

Frank ·

Dit is nie skietbaan nie en selfs uitstekende skuts kan maklik misskiet gedurende so ‘n situasie so neem meer waar

Jr ·

Ek gee nie om, ek baklei terug en skiet hulle want ek gaan eerder by my familie geken word as n dooie held as om te lewe en my vrou en kinders verkrag en gemartel te sien word en ek het NIKS gedoen. n Man se doel in die lewe is net om jou familie te beskerm. Dis deur en deur bewys hulle is lafaarde. Skiet op hom en hy hardloop onder sy skaduwee uit

gatgogga ·

“……die motief vir die voorval is ook nog nie bekend nie.”
Ag asseblief. Vir hoe lank nog moet ons so om die bos gelei word?

Renier ·

Gee daai man ‘n bottel! Goeie werk. Hy is egter baie gelukkig om ongedeerd van die voorval weg temstap. Goeie werk!

Cathy ·

Wat ‘n netelige situasie waarin die arme man hom bevind het – drie teen een. Baie dapper terwyl hulle wapens in die hande het, maar skrik hulle dood as die situasie omgedraai word – nog steeds drie teen een. Wys maar net watse lafaards skelms is. Weet hulle is nie opgewasse om een-een te kom nie. Welgedaan meneer. Jy was dapper en het jou familie beskerm soos ‘n leeu!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.