Pa sê hy weet wie sy seun vermoor het; polisie sit glo hande gevou

Christo van der Merwe. (Foto: Facebook)

Ná die moord op sy oudste seun in Mei verlede jaar – en ondanks talle bewyse teen die vermeende moordenaar – is daar nog geen inhegtenisnemings gedoen nie. Buks van der Merwe (64) van Rayton sê dit is vir hom en sy familie uiters moeilik om snags te rus terwyl sy seun se moordenaar eenvoudig met sy lewe aangaan.

Christo van der Merwe (42), ʼn pa van twee, is op 7 Mei verlede jaar die laaste keer lewend gesien. Nadat hy twee dae lank nie by die werk opgedaag het nie, het sy kollegas onraad vermoed.

“Christo se voorman het die Dinsdagoggend omstreeks 07:30 hier by ons huis opgedaag en vir ons gevra waar hy is. Ek het hom die vorige week laas gesien. Ons kom gewoonlik op ʼn Saterdag of Sondag bymekaar. Hy was egter nie daardie naweek by ons nie.

“Ek het dadelik geweet dat iets nie pluis is nie. Dit is nie Christo nie, hy was altyd betyds vir werk en sou nie sommer net wegbly nie,” sê Buks.

Die bekommerde pa het dadelik oproepe gemaak en na sy seun begin soek.

“Nadat ek ʼn paar leidrade opgevolg het, is ek reguit na Die Hoek Kroeg & Restaurant in Rayton. Dit is glo waar my seun laaste gesien is.”

Volgens Buks het die eienares vir hom kringtelevisie-beeldmateriaal gewys waarin hy kon sien dat sy seun die Sondagaand by die kuierplek was.

Nog ʼn man – iemand wat Christo ken – kon ook op die beeldmateriaal gesien word. Die man was glo aggressief teenoor Christo.

“Op die beeldmateriaal kan jy alles sien. Dit het gelyk of my seun besig was om met iemand op WhatsApp te gesels toe die laaitie skielik sy foon uit sy hande gryp en dit teen ʼn tafel stukkend slaan.

“Die beeldmateriaal wys ook dat hierdie laaitie my seun agtervolg het toe hy later by die kroeg uitstap. Dit is die laaste keer dat my seun lewend gesien is,” sê ʼn emosionele Buks.

“Ek het sy plakkies buite die kroeg op die gras gevind. Christo sou nie kaalvoet huis toe stap nie.”

Hy vertel dat hy en sy lewensmaat, Daleen, die hele Dinsdag en Woensdag rondgery het om na Christo te soek en hulle het hom die Dinsdagaand by die Boschkop-polisiestasie as vermis aangemeld.

“Die Donderdag het ek met die bromponie van Die Hoek-kroeg tot by die snelweg ry – en elke liewe paadjie wat hy moontlik sou kon stap sonder enige sukses gefynkam. Met die bromponie kon ek op paadjies ry en by plekke uitkom wat nie met ʼn voertuig moontlik sou wees nie.

“Omstreeks 08:00 het een van Christo se kollegas my gebel en laat weet dat die hele span saam met my na hom gaan help soek.”

Oomblikke later het Buks die oproep ontvang met die woorde wat hom nou nog slapelose nagte gee: “Buks, waar is jy? Ons het hom gekry.”

‘Polisie doen niks’

Christo van der Merwe. (Foto: Facebook)

ʼn Nadoodse ondersoek is kort daarna gedoen, waarna vuilspel bevestig is.

“Ek weet my seun is vermoor, en ek weet wie dit gedoen het. Die polisie is ook veronderstel om te weet, daar is genoeg bewyse, maar hulle doen niks nie.”

Buks vertel dat hy gereeld met die Boschkop-polisie in kontak is oor die vordering met die saak.

“Nadat ek die saak aangemeld en telkemale die ondersoekbeampte genooi het om my te ontmoet sodat ek al die bewyse wat ek intussen ingesamel het aan hulle te gee, het daar tot vandag niks van gekom nie.

“Ek het so baie beeldmateriaal en ʼn stemopname wat die verdagte … direk met my seun se moord verbind. Ek het die ondersoekbeampte oor en oor genooi om die bewyse by my te kom haal. Dit is nou al byna agt maande later en ek wag steeds.”

Die gesin het kort daarna ʼn privaatspeurder, Mntu Mbhele, aangestel om die saak te ondersoek.

By navraag van Maroela Media het Mbhele bevestig hy help met die ondersoek.

“Die oorledene Christo van der Merwe is inderdaad in bosse naby ʼn plaas by Boschkop gevind. Die nadoodse ondersoek het bevestig dat daar vuilspel was.

“Die saak is in ʼn deurslaggewende stadium van ondersoek. Dit is dus moeilik om elke aspek daarvan te deel.

“Ek kan egter bevestig daar is genoeg leidrade wat die polisie opvolg en dat verdagtes geïdentifiseer is. Inhegtenisnemings sal binnekort volg.”

Volgens Mbhele moet die polisie nog net bepaalde selfoondata nagaan om die verdagte vas te trek.

Die Boschkop-polisie het egter aan Maroela Media gesê hulle het alle inligting – wat deur Mbhele aan hulle verskaf is – opgevolg, “en dat niemand met die moord verbind kon word nie”.

Volgens Ryno van der Merwe, Christo se jonger broer, is dit bog.

“Dit is dieselfde verklaring wat hulle aan die begin van die ondersoek aan ons deurgestuur het. Dit maak doodeenvoudig nie sin nie. Iemand doen nie hulle werk nie en intussen moet ons dit maar net aanvaar,” sê hy woedend.

“Mbhele het hard gewerk om talle bewyse teen die moordenaar in te samel. Ons is gereeld in kontak. Beeldmateriaal en ʼn stemopname van ʼn ooggetuie is onder meer van die bewyse wat teen die verdagte gebruik kan word. Tog is die verdagte nog nie eens ondervra nie? Hoe is dit moontlik?”

Maroela Media het self ook na die stemopname geluister waarin die ooggetuie met Buks gepraat het.

“[Die verdagte] het vir my ʼn boodskap op Facebook Messenger gestuur waarin hy my gevra het of ek hom kan kom haal,” lui die stemopname.

“Ek het toe in my kar geklim en in die rigting van Die Hoek-kroeg-en-restaurant gery om hom te gaan optel.

“Ek het van die teerpad afgedraai waar [die persoon] vir my verduidelik het hy is. Toe ek daar aankom het [die verdagte] regop gestaan en Christo – wie se naam ek nie in daardie stadium geken het nie – het op die grond gelê.

“Ek het gesien hoe [die verdagte] vir Christo in die ribbes skop en bier op hom uitgooi terwyl hy op die grond gelê het. Ek het toe vir [die verdagte] gesê hy moet in die kar klim. Hy het van Christo af weggetree en in die kar geklim.

“Daarna het ek vir Christo ook gesê hy moet in die kar klim sodat ek hulle plaas toe kan vat, maar hy wou nie.

“Christo het opgestaan en gesê ‘eina, dis seer’. Ek het hom weer gevra om asseblief in die kar te klim, maar hy het gesê hy gaan loop.

“Ek het gery en gesien hoe hy in die plaas se rigting begin loop. Ek het [die verdagte] so 19:45 by die plaas afgelaai en is dadelik daarna huis toe, my vrou kan daarvan getuig,” lui die stemopname.

Buks is woedend oor die verloop van die polisie se ondersoek. “Dit is swak. Ek het tot dusver alles self gedoen om bewyse teen my seun se [vermeende] moordenaar in te samel.

“My seun is op die wreedste manier denkbaar doodgemaak en in ʼn veld gelos en al weet ons wie dit gedoen het, kom die mannetjie niks oor nie. Hy gaan net doodeenvoudig aan met sy lewe.

“Ek worstel snags met gedagtes om geregtigheid in eie hande te neem. Christo was my beste vriend. Ons het altyd saam motorfiets gery en ek het hom so liefgehad … en eendag is hy net skielik uit ons lewe uitgeruk.”

Buks sê hy het talle gerugte gehoor dat Christo se vermeende moordenaar ʼn dwelmgebruiker is.

“My seun was ʼn goeie man. Hy het nie verdien om op hierdie wrede manier te sterf nie. Ons soek net geregtigheid vir ons Christo; vir sy twee dogtertjies wat nou sonder ʼn pa moet grootword. Ons wil net hê die polisie moet hulle werk doen.”

ʼn Skarefinansieringsveldtog is intussen op BackaBuddy van stapel gestuur om die familie te help om die privaatondersoeker – wat hulle noodgedwonge moes aanstel om geregtigheid vir Christo te kry – se uitgawes te help dek.

Christo van der Merwe. (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Grassie ·

Hier word dikwels berig oor ernstige sake wat voortspruit uit bakleierye wat by laataand drinkplekke plaasvind. Die oplossing is maklilik – bly weg van die plekke af. Wat soek ‘n mens in elk geval daar op ‘n Sondagaand.

Seef ·

Grassie. Dit gaan nie oor wie waar wanneer was nie. Dit gaan oor moord wat gepleeg is en die useless polisie doen niks daaraan nie.

Michael ·

Die huidige polisie sal die oorsaak wees dat mense reg in eie hande sal neem wat totale anargie gaan veroorsaak.

Boer ·

Hierdie is bietjie van die onderwerp af maar nou die Sondag op Carte Blanche het hulle ‘n storie gehad oor ontvoering in SA. Die persoon wat die onderhoude voer, het met die slagoffer en die persoon wat die ontvoering uitvoer, gepraat. Hoe kry hulle dit reg om met die oortreder te praat en die polisie kry hulle nie?

Impact ·

Party lede van die SAPD weet nie hoe om hulle werk te doen nie, dit is ook net ‘n pay, pensioen en medies vir hulle – dit is al hoekom van hulle daar is. Daar is ook kriminele elemente binne in die SAPD wat dat verbind kan word met die beweerde moordenaar en derhalwe sal ondersoek sloer of bes moontlik in die wiele gery word.

popsa ·

Stem saam met jou, Grassie. Want dit gebeur oor en oor. Kort-kort so ‘n tipe berig. Innig jammer vir die geliefdes, maar ons kan almal leer uit hierdie pyn. Verkeerde tyd, verkeerde plek en ‘n lewe word verwoes. Wees wys.

Ronél ·

@BOER; en die Ontvoerder vertel dan dat sommige Polisielede self ontvoerders is wanneer hulle van diens afgaan???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.