Pa, seun weke uitmekaar op plaas aangeval

Jaco Taute (Foto: Jaco Taute, Facebook)

Jaco Taute (53), die voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en veediefstalvoorkomingsforum in Gauteng, is Woensdagaand op sy plaas in die Westongebied, Gauteng, geskiet.

Dit volg twee weke nadat sy seun, Adriaan Taute (20), op dieselfde plaas geskiet is.

Taute glo die twee voorvalle hou verband met mekaar en dat sy gesin geteiken word weens sy aktiewe betrokkenheid by veediefstalvoorkoming in die provinsie.

Taute vertel die alarm het Woensdag omstreeks 23:50 afgegaan.

“Ek het twee mans op die veiligheidskamera gewaar wat na die plaaswerf aangehardloop gekom het. Ek het gedink hulle wil skaap steel,” sê Taute.

“Min het ek geweet ander mans het reeds die plaas betree en my ingewag. Ek het met my wapen uitgegaan om die mans te verras en dit is toe dat hulle op my begin skiet. Ek het teruggeskiet.”

Taute is nie seker hoeveel mans op die toneel was nie, maar hy sê volgens die polisie was daar vyf.

Hy is in die proses deur sy linkerhand met ’n .45-pistool geskiet.

“Hulle het net aanhou skiet. Ek het met my bebloede hand die huis ingehardloop en ek, my vrou en Adriaan het in die kamer gesit. Ons het die plaaslike buurtwagte en polisie gebel en my vrou het my hand versorg. Die mans het van buite af aanhoudend op die huis geskiet.”

Hulp het ná omstreeks ’n driekwartier daar aangekom, waarna die mans laat spaander het.

Taute is na ’n hospitaal in Randfontein geneem, waar die dokters x-strale van sy hande geneem en hom behandel het.

“Gelukkig is daar geen beenskade nie, die koeël is net deur die vleis en weefsel.”

Adriaan is die Vrydag (8 Julie) omstreeks 07:40 op Taute se plaas geskiet. Hy is deur die bakkie se venster in die arm geskiet. Taute en sy vrou was die dag in Kroonstad en Adriaan was alleen op die plaas.

“Ons het ’n veiligheidswag gekry om die vorige aand wag te hou terwyl Adriaan alleen op die plaas is. Hy was die volgende oggend op pad om die wag huis toe te vat toe die voorval plaasgevind het.”

Adriaan is in die hospitaal opgeneem, maar die dokter kon nie die koeël verwyder nie aangesien dit te naby aan die senuwees vasgesit het. Volgens Taute het die koeël nou na sy bors geskuif.

Taute en sy gesin is erg deur die voorval getraumatiseer.

“Ons is angsbevange dat die aanvallers sal terugkom. Ons voel nie meer welkom in ons eie huis nie. Ons familie se vrye tyd en geluk word hierdeur beïnvloed en ons reg op vryheid geskend.”

Taute hoop die polisie trek spoedig die aanvallers vas.

Maroela Media het navraag oor die voorval aan die polisie gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

KatjieDeKat ·

Klink soos n veediefstal sindikaat in daardie gebied?

domheks ·

Moenie uitgaan as jy buite iets sien/hoor nie! Die gemors kom in troppe om te moor! Sterkte.

Johann ·

Maar hey, volgens magsmal Madhatter gaan dit nie so erg in SA as wat ons dink nie? Dis absolute anargie! Georganiseerde misdaad op sy arrogante ergste.

Swerwer ·

Klink meer na ‘n politieke wedywer om Taute te probeer wys dat hul nie vir hom skrik oor sy betokkenheid by die veediefstalvoorkomingsforum. Die vuilgoed is lae lummels want hul kan nie man teen man staan nie kom in groepe! As ons volk net kon saamstaan en die klomp lummels kon voorlê met nagsig toerusting en hul in eie munt terug betaal .

Henk ·

Maroela Media, ek kom vanaf Randfontein af ek wonder waar “Westongebied” is. Tewens, ek werk nou al 25 jaar as stads-& streekbeplanner hier, en het nog nooit van die plek gehoor nie…!!! Is dit nie dalk “Westonaria” nie? Wonder maar net…..

Harley Davidson ·

Ek ken ook nie ‘n plek met die naam Weston nie het aangeneem hulle bedoel westonarea

Perdeby ·

Ek het met my wapen uitgegaan…………. wat de hel………leer julle nie! Volgende keer is jy nie so gelukkig nie, maar gaan maar weer uit, geen simpatie vir julle wat dit doen nie.

Vexed ·

Ja kyk daar is mos geen manier vir hulle om by die huis in te kom nie, onmoontlik in die huis is jy dood veilig…

KatjieDeKat ·

Beter in die huis. Jy kan dan begin skiet op hulle by die ingangspunt. Veel kleiner area om op te konsentreer and jy is nie in die oopte waar jy van alle kante geskiet kan word nie.

Lourens CFG ·

Ek sou voorstel om rondom jou huis heeltemal oop te maak (geen wegkruip plek nie), en plant dan op so 50M haak en steek bosse reg rondom, en sterk sprei ligte wat uitskyn om hul te verlig (maklike teikens), en verblind.
Dit verminder dan die inkom plekke.
Kan ook aparte sensors rondom sit dat jy weet watter kant hulle is.
Sterkte en Godseën aan jou en familie.

Harley Davidson ·

Terug baklei blyk die beste opsie te wees ek beveel aan kry n jm pro haelgeweer en wees op jou hoede vir die ruggraatlose terroriste

Jacobus ·

Hierdie is goed opgeleide terroriste wat in groepe toeslaan. Beantwoord vuur met vuur is al wat sal help. Jaco jy sal baie vinnig jou hele gesin moet vat vir ordentlike vuurwapen en self verdedeging opleiding, as hulle nog nie het nie.
Dan altyd dieselfde storie wat sulke berigte afsluit, MAROELA MEDIA WAG NOG OP TERUGVOER VAN DIE POLISIE.
Hoop hulle volg hierdi” wag vir terugvoer”op.

Jannie van Niekerk ·

In ‘n ander area waar daar ‘n plaasmoord deur veediewe gepleeg was, was die polisie ook betrokke. Mens wonder hoeveel van Cele se trawante help hier ook vir die sindikate.

Lillian ·

En so word ons uit ons eie land gedryf, van ons grond gejaag…. En niemand doen niks nie!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.