Pa vermoor ná kamma-klant hom in lokval lei

Gert Pretorius en sy vrou, Mandie. (Foto: Facebook)

ʼn Pa van Vryheid in KwaZulu-Natal is die naweek doodgeskiet nadat hy vermoedelik na ʼn afgeleë gebied gelok is deur iemand wat hom as ʼn voornemende klant voorgedoen het.

Gert Pretorius (49) se liggaam is Maandag in die vroeë oggendure, toegedraai in ʼn sak, langs ʼn pad in die omgewing van Kosibaai gevind nadat sy vrou, Mandie (43), hom ʼn dag tevore as vermis aangemeld het.

Gert, sy broers Marius en Koos en hulle ouers bedryf ʼn glas- en aluminiumonderneming op Vryheid.

Marius Pretorius het gesê hulle het ʼn oproep ontvang van ʼn man wat ʼn kwotasie versoek het, en Gert het Sondagoggend vroeg na die Jozini-omgewing vertrek om dit te gaan doen.

Hy het sy vrou aanvanklik gevra of sy wil saamry, maar weens omstandighede het Mandie tuis gebly. Gert het egter gesê Mandie moet sy foon se beweging deurlopend dophou. “Hy het dalk ʼn voorgevoel gehad. Hy het vir my gesê as ek niks van hom hoor nie, moet ek die polisie bel.”

Net ná tien Sondagoggend kon Mandie sy bewegings die laaste keer naspoor. Daarna was dit stil.

Mandie het haar man as vermis by die polisie aangemeld en ʼn grootskaalse soektog is begin. ʼn Voertuigopsporingsmaatskappy het ook met die soektog na Gert se Hilux-bakkie gehelp en dit is in die omgewing van die Mosambiekse grens nagespoor.

Volgens Marius het die maatskappy hom vroeër Sondag gebel en gevra of die bakkie wél in die omgewing van die grens mag wees. In dié stadium het niemand nog enige onraad vermoed nie en Marius het gesê Gert is wél daar vir werk.

Nadat die soektog gelas is, het informante in die omgewing die gemerkte werksbakkie in ʼn beboste gebied opgemerk en die polisie is daarheen ontplooi.

Volgens Marius het die mense in die bakkie – vermoedelik drie van hulle – uit die bakkie gespring en te voet verder gevlug. Hulle het verdwyn en van Gert was daar geen teken nie.

Maandag omstreeks 01:00 het die gevreesde oproep gevolg. Gert se liggaam is gevind. Hy is dood nadat hy in die gesig geskiet is.

“My hart is stil. Ek dink nie dit het al mooi ingesink nie. Een oomblik is daar trane en dan hou dit weer op. Dit voel vir my of hy gaan terugkom. Ek wag nog vir hom,” het Mandie gesê.

“Ek kan dit regtig nie glo nie. Hy wou ons kleinkinders sien grootword – ons hét nog nie eens kleinkinders nie. Ons het drome gehad om te gaan reis. Waar is dit heen?”

Die egpaar se oudste seun, Chris (24), het vroeër vandag sy pa se liggaam gaan uitken. Sy kleinboet Marnus (14) is doodstil ná sy pa se dood, sê Mandie.

“Mense moet gewaarsku word. Maak séker jy weet wie jy gaan sien. Ek is daardeur en my man is van my weggeneem.”

Marius sê hulle het verneem dat daar talle soortgelyke voorvalle in die omgewing van Jozini en Kosibaai aangemeld is waar kontrakteurs na kamma-klante gelok word en dan van hulle bakkies beroof word. Die voertuie word glo oor die grens gesmokkel.

Die moord op Gert Pretorius is egter die ergste voorval wat tot dusver aangemeld is. Die vermoede bestaan dat hy terugbaklei het en toe geskiet is.

“Ek wil net probeer keer dat ʼn volgende pa se familie deur dieselfde as ons gaan. Om daai mense te haat gaan nie help nie, maar ons hele familie is stukkend. Ek wil net die volgende gesin hiérdie hartseer spaar,” het Marius gesê.

Kol. Thembeka Mbhele, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het gesê die Emanguzi-polisie ondersoek ʼn moordsaak.

Die polisie het nie kommentaar gelewer op bewerings dat ʼn voertuigdiefstalsindikaat moontlik by die voorval betrokke is nie.

Die sindikaat teiken glo veral Toyota Hilux-bakkies, asook Toyota Fortuners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

K ·

Sterkte aan die familie. Dis hoekom as ek na sulke gebiede “versoek word” wyer ek. My lewe is meer werd as om daar te gaan help. Die staat en ons tax help genoeg.

JvA ·

My hart is so seer vir die familie, die pa lyk so sag en dierbaar.
Here red ons! :'(

Piet parys ·

3 mans het uit bakkie gespring en niemand keer hulle aan nie . ????

Cherokee ·

Hulle moet voorbereid wees. Kriminele sou gevang gewees het deur honde.

Juffrou ·

Dis so hartseer dat mense wat hul brood-en-botter probeer verdien, maar die risiko moet neem. Niemand kan meer vertrou word nie. Selfs gastehuiseienaars is nie meer veilig wie voor hul staan. Bewus van gevalle waar hul hul voordoen as gaste en dan die eienaar/ bestuurder aanval en/ of vermoor. Sterkte aan familie

Anni ·

So word dit gevaarlik vir almal wat verteenwoordigers vir ‘n firma is, asook Eiendomsagente.. !!

Anoniem ·

Ek stem saam met jou Ditsim. Maar die hemele behoed jou as jy ‘n sekere stuk lap tentoon stel en waarde heg daaraan. Dan is die hel vierkantig los.

#ImLeaving ·

Voorvalle soos hierdie is elke dag maar net nóg ‘n wonderlike “aanmoediging” vir die #ImStaying veldtog.

JJ ·

Jammer vir julle verlies.
Alles wat gebeur in die wêreld ek wil sê heelal vandag is reeds voorspel.
Gaan lees op doen navorsing en besef dat al die gemors wat aangaan vir gelowiges moet moed gee want die slegte nuus is ook goeie nuus dat ons God op pad is om ons te kom haal.
Teen die tyd wat mense dit besef gaan dit te laat wees want alles wat die wêreld ons van volprop word beskou as reg. TV flieks en reekse beeld selfs in kinderprente geweld uit as reg.Kerke neem besluite wat so verregaande is dat dit normaal voorkom.
Word wakker mense daar is een uitweg en een alleen. Sy naam is Jesus.

Jacques die Goodwoodianer ·

JJ, jy het n punt beet daar. Die korrupsie van mens in hierdie wereld getuig.

Sam ·

Die hartseer is dat ons volk gestraf word omdat ons God ongehoorsaam is op sovele vlakke. Nooit mag ons skroom om te vermaan en die waarheid te getuig nie. Sien dus hierdie vermaning in die lig van ‘n waarskuwing: Ons móét die Sabbat heilig. Ons moet ‘n rusdag hê en mag nie op daardie dag sake doen nie. Keer terug tot Hom en Sy wette.

Melanie ·

Ons het onlangs al ons besittings elders gestoor voordat ons huis te koop aangebied het. ‘n Week gelede het ons ‘n oproep ontvang van ‘n “eiensomsagent” wat sy “klient” wou bring. Ons het dadelik onrustig geraak want daar het nie so eiendoms agentskap bestaan nie en die e-pos adres was verdag. Ons het die sekuriteit maarskappy vooraf laat weet en hulle het ekstra voertuie gestuur on buite ons huis te parkeer. Die “eiendoms agent” en sy “klient” was toe inderdaad nigeriers wat besef het die huis was leeg en te veel sekuriteits manne buite, toe besluit hulle maar eerder om hulle streke te laat vaar

Aletha ·

Wel done Melanie! ‘N Gooie voorbeeld van hoe paraat ons moet wees en niemand vertrou nie

Rina ·

So maklik om n persoon dood te maak en dan weg te hardloop….. so jammer vir die familie …. arme jong man om sy pa uit te ken. Gemors met geen status …. julle dag kom

Elsabe ·

Ek het 17 jaar lank in Manguzi gewoon en my ondervinding met die plaaslike SAPS was om die minste te sê pateties. Ek sou vra vir buite ondersteuning. Misdaad het ook baie, baie toegeneem die laaste klompie jare. Meegevoel met die geliefdes.

Erick ·

Self twee jaar daar gewerk. Een jaar by Kosibay Lodge. Baie mooi area maar baie min blankes en baie ander in dié streek.

Carin ·

Ek is self van Vryheid en ken die mense. Goeie besigheidsmense en het vir hul kind skool gegee. Dit het ins gemeenskap geruk. Een oomblik hier en die volgende oomblik sit n gesin sonder n eggenoot en pa. Dink aan julle. Xxx

Ena ·

EN RHAMAPOSA SLAAP EN S.A. VERGAAN…VERSWELG IN DIE BLOED EN VUUR….EN RHAMAPOSA TEL SY STOET BULLE….

Clipper ·

Hoeveel van hierdie tragiese gevalle gaan ons nog moet lees voordat ons totale disfunksionele en absoluut useless regering iets gaan doen. Dagvaar die president want hy is die ergste van almal

Michelle ·

Baie sad. Klink vir my eerder of die polisie hul laat wegkom het. Laat verdwyn het.

Ig ·

Die polisie kon nie iemand opspoor nie want hoe soek jy na jouself?

GL ·

Dit is baie hartseer. Sterkte aan die familie. Dit gaan ervare polisie vat om hierdie 3 op te spoor in daai omgewing.

Esna ·

Soort gelyke voorval het in die Vaaldriehoek gebeur eergister. 4 seuntjies het nou nie meer hulle pappa nie. Mense moet asb versigtig wees, lyk soos n nuwe trend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.