Paartjie gevonnis oor bedrog van meer as halfmiljoen

Argieffoto (Foto: succo/Pixabay)

Die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Palm Ridge het ʼn paartjie van Johannesburg tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis ná hulle die departement van arbeid uit meer as R600 000 bedrieg het.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Refilwe Kgaje (40), eienaar van Pusoloso Engineering Services, het in Augustus 2020 tot Maart 2021 die name van 95 werknemers – wat nie vir haar ingenieursdienste werk nie – onwettig by die departement van arbeid ingedien.

“Die beskuldigde het ’n aansoek namens die fiktiewe werknemers by die departement van arbeid ingedien om voordeel te trek uit die tydelike werkgewer‑werknemerverligtingskema (Ters) tydens die Covid-19-pandemie. Die departement het ’n bedrag van meer as R600 000 na ’n bankrekening wat aan Isaac Phiri (45) – Kgaje se lewensmaat – behoort, oorbetaal,” sê Mjonondwane.

“Dit is onder valse voorstelling gedoen om die departement van arbeid te bedrieg.

“Die fondse was nie aan Phiri verskuldig vir verspreiding onder die werknemers nie en was nie veronderstel om in sy bankrekening gedeponeer te word nie.”

Die beskuldigdes het hulself aan die polisie oorgegee nadat een van die werknemers wat hulle bedrieglik vir die R350 Covid-19-noodverligtingstoelae geregistreer het, self wou registreer en die stelsel opgemerk het dat die persoon vir Pusoloso Engineering Services werk.

Die individu het ’n saak aanhangig gemaak, waarna die departement van arbeid ondersoek ingestel het.

In reaksie op die inperkingstrategie het die departement by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) ʼn maatskaplike toelae wat as die tydelike werkgewer-werknemerverligtingskema (Ters) gekategoriseer is, geaktiveer om die lot van werknemers wat deur die Covid-19-inperking veroorsaak is, te verlig.

Die staatsaanklaer, adv. Vincent Ndzuke, het aangevoer dat wanneer die hof ’n vonnis oplê, dit by die misdadiger en die misdaad moet pas en nie die erns van die oortreding moet geringskat nie.

“As ligte vonnisse vir ernstige oortredings opgelê word, sal dit veroorsaak dat die publiek hul vertroue in die strafregstelsel verloor,” het Ndzuke in die hof gesê.

Kgaje en haar onderneming is op twee aanklagte van bedrog skuldig bevind en die hof het bevind dat hulle ook ’n boete van R100 000 moet betaal.

Kgaje is tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis vir bedrog en ’n verdere 15 jaar gevangenisstraf vir bedrog wat vir vyf jaar opgeskort is. Isaac Phiri (45) word tot 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir bedrog. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.

Die NVG het Ndzuke en die ondersoekbeampte, Tlou Nailana, bedank vir hul harde werk wat verseker het dat geregtigheid geskied.

“Ons verwelkom die vonnis en hoop dat dit ’n duidelike boodskap aan die publiek sal stuur dat misdade van hierdie aard nie geduld sal word nie,” sê Mjonondwane.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Estelle ·

Ek wag nou nog vir my TERS uitbetaling(s) vir my werkers terwyl ander R600 000 betaal word. Ironies.

ES ·

Lekker hier – die land van melk en heuning wat bekom word deur bedrog en korrupsie. Viva!

Lillian ·

So waars die geld? Verkoop haar bates en as daar nog kort, laat sy dit terugbetaal deur toilette te skrop!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.