Paia-aansoek ingedien oor Regspraktisynsraad se eksamentaal

(Foto: Maroela Media/ Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Solidariteit het ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) by die Regspraktisynsraad (RPR) ingedien oor dié raad se besluit om Afrikaans as eksamenmedium uit te faseer.

Die Solidariteit Regsnetwerk het in Januarie verskeie skrywes oor dié aangeleentheid aan die RPR gerig. Buiten ontvangserkennings, het die RPR egter op geen skrywes van die netwerk gereageer nie, aldus Riaan Visser, hoof van die Regsnetwerk.

Die Paia-aansoek het ten doel om inligting te bekom oor verskeie aspekte van die RPR se besluit om Afrikaans as eksamenmedium te skrap, waaronder die motivering, die besluitnemingsprosesse wat gevolg is, en die redes vir die besluit.

In vorige skrywes aan die RPR het Solidariteit die dringendheid van die saak benadruk, en op ʼn vergadering met die RPR aangedring om die aangeleentheid te bespreek.

“Die Regsnetwerk is uiters teleurgesteld in die RPR aangesien die versoek vir inligting of ʼn vergadering bloot op dowe ore geval het,” sê Visser.

Deur die Paia-aansoek versoek Solidariteit onder meer alle dokumentasie wat met die aangeleentheid verband hou, waaronder rekords, notules en sakelyste van vergaderings, asook ʼn omvattende lys van belanghebbendes wat by die proses betrek is.

“Die Solidariteit Regsnetwerk wil graag bepaal op watter gronde die RPR sy besluitneming gebaseer het. Dit sluit onder meer vrae in oor hoeveel regspraktisyns verlede jaar die eksamen in Afrikaans afgelê het, hoe die raad die taalbeleid monitor en ook oor wat die raad doen om taaldiversiteit te verseker en uit te brei,” sê Visser.

“Solidariteit streef daarna om die regte en belange van Afrikaanse kandidate te beskerm, asook om die behoud en uitbreiding van meertaligheid in die regspraktyk te verseker. Die uiteindelike doel van hierdie Paia-aansoek is om ʼn gemeenskaplike strategie te ontwikkel wat die belange van alle betrokke partye hanteer, terwyl dit die grondwetlike beginsels van taaldiversiteit en toegang tot regte bevorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.