Parlement moet ingryp oor OB, sê Casac

Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer (Foto: ANA)

Die voortgesette stryery tussen die openbare beskermer Busisiwe Mkhwebane en die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, is ʼn bedreiging vir die grondwetlike orde en die parlement moet dringend ingryp om verdere skade te verhoed, het die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) Sondag gesê.

“In die lig van die voortgesette stryery tussen die openbare beskermer, pres. Cyril Ramaphosa en minister Pravin Gordhan wat betref die magte, jurisdiksie, funksie en bevoegdheid van die openbare beskermer, doen Casac ʼn beroep op die speaker van die nasionale vergadering, Thandi Modise, om stappe te doen kragtens artikel 194 van die Grondwet,” het Casac in ʼn verklaring gesê.

Casac bevestig dat Gordhan, en Ramaphosa, net soos enige ander Suid-Afrikaner, nie bo die wet verhewe is nie, maar net so is Mkhwebane, “wie ons glo haar mag as OB misbruik in haar meedoënlose najaging van minister Gordhan”, ook nie bo die wet verhewe nie, “

Casac sê die hof het bevind dat Mkhwebane irrasioneel, en gevolglik ongrondwetlik, op getree het tydens ʼn aantal onlangse voorvalle, insluitend:
– Die Absa-saak waar die hof bevind het sy het buite haar mag opgetree en versuim om voldoende haar optrede te verduidelik;
– Die Suid-Afrikaanse Reserwebanksaak waar die hof haar veroordeel het vir “kunsmatige redenasie en foutiewe bevindings”;
– Die regering se suiwelprojek by Vrede (waar Casac ʼn aansoeker was) en die hof bevind het dat haar verslag “óf dui op onbekwaamheid óf growwe nalatigheid” in die uitvoer van haar pligte.

Casac meen Mkhwebane se volgehoue najaging van Gordhan, in ʼn saak wat reeds vantevore beslissend hanteer is (wat betref die aanstelling van ʼn spesialeondersoekeenheid meer as ʼn dekade gelede binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens toe hy die kommissaris was), wys dat sy ter kwader trou opgetree het.

“Soos wat regter [Robert] Nugent verlede jaar in sy verslag oor die SAID aangedui het, is daar geen goeie, duidelike of redelike basis om aan te dui dat die eenheid onwettig aangestel is nie. Dit was deel van die SAID se redelike en regmatige poging om sy institusionele kapasiteit te versterk om gevalle van grootskaalse belastingontduiking te ondersoek.

“Alhoewel persone wat Mkhwebane wil verdedig ongetwyfeld sal aanvoer dat dit alles bloot op omstandigheidsgetuienis neerkom, is Casac se analise dat dit ʼn patroon van gedrag verteenwoordig wat partydig is en teenstrydig is met haar ampseed. Sy is nie besig om sonder vrees of guns op te tree nie; sy is eerder in diens van sekere faksies en persone met gevestigde belange.

“Dit wil dus voorkom dat die stryery tussen adv. Mkhwebane en minister Gordhan ver dieper strek as die twee hoofprotagoniste. Daar is fundamentele, onderliggende kwessies wat die hart van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie raak.

“Ons glo dit verteenwoordig ʼn stryd om beheer van die demokratiese staat en die hulpbronne wat beskikbaar is. Onder [oudpresident] Jacob Zuma se bewind is daardie hulpbronne sistematies gekanaliseer tot onwettige, private belange – soos die Zondo-kommissie daagliks onthul. Met ander woorde, dit is ons siening dat dit deel is van ʼn desperate en veragtelike poging deur diegene wat die meeste kan verloor deur die hervorming wat pres. Ramaphosa ingestel het, en persone wat die meeste voordeel getrek het uit die berugte periode van institusionele agteruitgang wat nou wyd bekend staan as ‘staatskaping’.

“Dit is dus weer ʼn vurk in die pad vir moderne Suid-Afrika. Ons grondwetlike integriteit is weereens op die spel en ons moenie die bedreiging onderskat nie. Die kantoor van die openbare beskermer word misbruik as deel van ʼn politieke veldtog waarvan die ware teiken die teenkorrupsiehervormingpogings is van pres. Ramaphosa se administrasie.”

Casac het bygevoeg alhoewel die konstitusionele hof die uiteindelik forum is vir enige grondwetlike dispuut, is dit die parlement wat die mag het om Mkhwebane se bevoegdheid in die amp van openbare beskermer te ondersoek.

“Ons doen ʼn beroep op die parlement om onmiddellik met stappe te begin kragtens artikel 194 van die Grondwet om adv. Mkhwebane uit haar amp te verwyder. Dit is nie ʼn partypolitieke, partydige kwessie nie. Dit is in die belang van alle Suid-Afrikaners en ons Grondwet dat hierdie gevaarlike kwessie so vinnig as moontlik opgelos moet word. Die raad van Casac beskou dit as ʼn kritieke kwessie. Dit bedreig ons grondwetlike orde en demokrasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mathys ·

Stem volkome saam, is dit nie ironies, dat iemand met die werktitel: “openbare beskermer”, die heel grootste dreigement vir siviele samelewing is nie!? Soos ons geleer het om te se: “Only in South Africa hey?”

Gert van Wierdapark ·

Al wat die OB nog graag wil doen voordat sy nie meer op die troontjie sit nie, is om mini-ster Gordhan “by te kom”. Dit is so duidelik soos Daglig!

Neels ·

So ‘n bek moet jam kry! Hoog tyd dat sy in die hek geruk word. Beslis onbekwaam, en nie naastenby so bevoegd as haar voorganger nie.

ne ·

Bring haar voorganger terug. Sy kan nie Thuli se ou skoene vol staan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.