Pas op wanneer jy met entstofsertifikaat spog

Talle mense deel hul inentingsertifikate aanlyn. (Argieffoto)

Internetveiligheidskenners waarsku dat mense nie goedsmoeds hul digitale inentingsertifikate op die web of sosialemedianetwerke moet deel nie.

Die departement se boodskap op die digitale inentingsertifikaat lui dat gewone lede van die publiek nie veronderstel is om die QR-kode te kan lees nie. Dit is bedoel vir entiteite wat die sertifikaat se geldigheid moet nagaan. Dít sal volgens die departement gedoen kan word deur ʼn entstofsertifikaatstelsel met ʼn ingeboude QR-skandeerder wat in die nabye toekoms beskikbaar gaan wees, te gebruik.

Dit is in die praktyk egter nie die geval nie.

Talle mense het die afgelope ruk hul kommer gelug omdat die QR-kode op die inentingsertifikaat deur iemand met redelike basiese kennis – en ʼn program wat op die web beskikbaar is – ontsyfer kan word.

Selfs al verbloem jy dus jou naam en ID-nommer wanneer jy jou sertifikaat met die wêreld deel, en talle mense tref wel dié voorsorgmaatreël, kan die QR-kode op die sertifikaat steeds heelwat van jou persoonlike inligting verklap.

Die inligting wat daarop verskyn, sluit in jou ID-nommer, volle naam, geboortedatum, die soort entstof wat jy ontvang het en wanneer, asook die entstofkode wat as bewys van inenting dien.

Kenners sê dit is gevaarlik om enigiets – ʼn QR-kode ingesluit – wat persoonlike inligting bevat op ʼn openbare platform te deel.

Een van die inentingsertifikate wat ‘n Twitter-gebruiker aanlyn gedeel het. Maroela Media het sommige van haar persoonlike inligting met geel verbloem. (Skermgreep: Twitter)

Lourens Dormehl, ʼn kenner verbonde aan Nerds On Site, waarsku dat mense boonop heeltemal te maklik hul persoonlike inligting deel. Hy sê met jou volle naam, ID-nommer, huisadres en telefoonnommer kan ʼn boosdoener met die regte binne-kontakbronne byvoorbeeld ʼn lening op jou naam by ʼn bank uitneem.

Selfs al het ʼn skurk net jou ID-nommer, is dit vir die meeste boosdoeners nie te moeilik om die res van jou inligting êrens te bekom nie – veral nie as jy dit goedsmoeds deel nie.

Wanneer die QR-kode op jou digitale entstofsertifikaat dus deur iemand met misdadige motiewe bekom word, kan dit jou in die moeilikheid laat beland.

“Ons is verskriklik roekeloos met die persoonlike inligting wat ons weggee,” sê Dormehl.

Die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, beter bekend as die Popi-wet, moet help om verbruikers se persoonlike inligting veilig te hou – maar daar is weinig salf te smeer as jy sélf die inligting met die wêreld deel.

Dormehl sê jong vroue se ID-nommers word dikwels onwetend deur boewe gebruik om huwelike met buitelanders te voltrek sodat dié mans Suid-Afrikaanse burgerskap kan kry. ʼn Ander groep wat deesdae toenemend geteiken word, sê hy, is hoërskoolleerders.

Dié jongmense het ʼn skoon kredietrekord en is ʼn groot teiken vir diegene wat mense se persoonlike inligting aan boewe verkoop. Slagoffers besef later met ʼn skok, wanneer hulle byvoorbeeld vir die eerste keer vir krediet aansoek doen, dat hulle reeds reusebedrae geld skuld wat namens hulle aangegaan is.

Nicholas Crisp, waarnemende direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het aan die webwerf MyBroadband gesê die QR-kode op die inentingsertifikaat is spesifiek ontwerp om identiteitsinligting te bevat. Dít is sodat daar nagegaan kan word of die persoon met die inentingsertifikaat dieselfde persoon is as die een met die ID.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Nee, laat hulle dit plaas. As jy dom is moet jy sukkel.
Die changeables sit moes alles op die internet sodat hulle voel hulle is iets werd.

Hendrik ·

Tot die deparrement se personeel weer die inligting aan die hoogste offer verkoop…

Anoniem ·

Ingeval jy nie weet nie die staat het reeds al jou inligting

Casper ·

Wie is in elk geval so onnoselheid om sy sertifikaat met die wêreld te deel.

Petro ·

Net een vraag: almal wat hierdie inligting so wil deel, ek wonder of hulle byvoorbeeld hulle HIV status dokument, bewys van kanker of enige ander mediese inligting so met die wêreld sal deel…..

Papsak ·

Dit is net n pot chut hierdie sertifikaat storie ek lag vir hulle

Cherokee ·

LOL.. ek lag ook Papsak. So asof ‘n winkelier eers ‘n sertifikaat sal wil sien eer hy ‘n item verkoop. Geen besigheidseienaar sal willens en wetens kliënte-basis verklein.

Skim ·

My sertifikaat wys ek het my eerste inenting 29 Jul gekry en die 2de een 19 Jul. Volgens hulle inligting het my man nie ‘n 2de inenting gekry nie. Ons was saam toe ons op 30 Aug die laaste inenting gekry het. Nou wil ek weet hoe gaan ek die gemors reggestel kry en waar begin ek?

Debbie ·

Ag genade daar is altyd skelm mense wat probleme veroorsaak

Adriaan ·

Ek dink nie die sertifikaat is iets om oor te spog nie en dat mense wat wel daarmee te koop loop, net virtue signal.

Alet ·

Die ent keer nie transmissie nie, so die sertifikaat is useless. Is ons nou opgewonde daaroor dat ons ons vryheid prysgee en oral bewys moet saamdra? Of gaan ons lateraan maar n merk vat as bewys, van ent, want dis makliker?

Piet ·

Die berig gaan tog nie oor die effektiwiteit van die “entstof” nie. Dit handel oor die sekuriteit van jou persoonlike inligting.

Anoniem ·

Die persoon wat iemand anders se sertifikaat vir misdadige redes misbruik is die oortreder, nie die sertifikaat houer nie.

Luister ·

Al daardie inligting is in elk geval op die sertifikaat in plein skrif. Hoekom nou die moeite doen om die QR kode te ontsyfer?

Thys ·

Soos met bestuurslisensies, is hierdie ‘n geldmaakstorie van die regering – enigeen wat die QR wil verifieer moet hulle betaal vir die toerusting. Wereldwyd word sulke stelsels ontwikkel en meeste regerings maak die nodige gratis beskikbaar sodat besighede, ens inentingsertifikate kan verifieer…

Patrysie ·

Ek was altyd onder die indruk Jou private dokumente is Jou eie so ek verstaan einlik Nou gad nie waarom Jou privaatheid gesien moet word Al is dit op n kode nie. Dit het mos Nou niks met die wereld uit the waai waar jy bly en wat Jou I’d nr is nie

Yolandie ·

Patrysie dis vir die mensies wat so op Facebook oor die inent en alles brag…..net om hulle te waarsku dat hulle asb nie ‘n hulle sertifikate ook op facebook moet share nie.

Belinda ·

Binnekort kos hy maklik vir n omkoop bedrag van 200 bokke ;-)

Robert ·

Ja nee… soos ek al ervaar het, nothing digital is unhackable…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.