Pasiënte gou terug in hospitaal na brand

Groot skade is aangerig tydens ‘n brand by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg. (Foto: Twitter)

Pasiënte wat na ander hospitale oorgeplaas is ná ʼn brand by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg sal volgende naweek terug na dié hospitaal oorgeplaas word.

Die hospitaal is op 17 April gesluit nadat ʼn brand langer as ʼn dag daar gewoed en groot skade aangerig het. Meer as 800 pasiënte is na 17 ander mediese fasiliteite oor die hele Gauteng heen oorgeplaas.

Die brand het die Vrydagaand in ʼn apteek se pakkamer uitgebreek en byna 12 uur lank geduur voordat brandbestryders dit in bedwang kon bring.

ʼn Voorlopige beoordeling is van die gebou gedoen om die omvang van die skade te bepaal. Volgens Thabo Masebe, Gautengse provinsiale woordvoerder, het die brand blok 3 en 4 van die hospitaal geraak en sal die twee eenhede gesluit bly totdat ingenieurs ʼn deeglike strukturele beoordeling voltooi het.

Die res van die hospitaal wat nie deur die brand geraak is nie, word intussen voorberei sodat dienste hervat kan word en pasiënte na die hospitaal kan terugkeer. Die hospitaal sal sy dienste op 3 Mei hervat nadat pasiënte weer terug in die hospitaal is.

Die ondersoeke deur al die relevante owerhede rakende die oorsaak van die brand duur voort.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het die hospitaal Dinsdag besoek en gesê die skade beloop nagenoeg R40 miljoen.

Die DA en VF Plus het vroeër gesê die Charlotte Maxeke-hospitaal is jare lank swak onderhou en dat dit moontlik die rede vir die brand kan wees.

Dit is die tweede brand vanjaar in ʼn Gautengse staatshospitaal, en die partye eis dat ondersoek ingestel word oor veiligheidsmaatreëls by al die staatshospitale.

Groot skade is in Februarie aan die Carletonville-hospitaal aan die Wes-Rand aangerig toe ʼn brand beskermende mediese toerusting ter waarde van R23 miljoen vernietig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

casper ·

En duidelik is die vuur waterstelsels nog nie reg gemaak nie !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.