Patoloog getuig dán oor oorsaak van Chevonne se dood

Rochelle Botha (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die patoloog wat Dinsdag veronderstel was om in die hooggeregshof in Palm Ridge in die Chevonne Rusch-saak te getuig, sal nou eers Maandag begin getuig.

Die saak is uitgestel nadat een van die beskuldigdes se regsverteenwoordigers nie vandag vir die hofsaak opgedaag het nie. Adv. Riana Williams, staatsaanklaer, het in die hof gesê die regsverteenwoordiger het haar omstreeks 07:00 laat weet dat hy nie gesond genoeg voel om die hofverrigtinge by te woon nie.

Die patoloog sou onder meer getuig het oor die oorsaak van die kleuter se dood.

Rochelle Botha en haar gewese verloofde, Stefan van Niekerk, is ná die kort hofsitting weer na die aanhoudingselle begelei. Die twee het nie een keer vir mekaar gekyk nie en in die beskuldigdebank deurlopend na hul hande gestaar.

Die twee staan tereg vir die moord op die tweejarige Chevonne op 11 Mei verlede jaar. Botha is Chevonne se biologiese ma.

Rochelle Botha en Stefan van Niekerk (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die twee word ook aangekla van aanranding en verkragting.

Die verhoor het op 1 Augustus begin en is tot 25 Augustus op die hofrol geplaas.

Botha en Van Niekerk is ’n jaar gelede in hegtenis geneem nadat Chevonne by ʼn kliniek in Klopperpark dood verklaar is. Van Niekerk het haar glo met kneusplekke aan haar lyf daar aangebring.

Verskeie getuies het in die eerste week van die verhoor daarop gewys dat Chevonne en haar sibbe sedert hul geboorte van huis tot huis getrek het. Vandat Chevonne nege maande oud was, het sy egter by haar oupa- en oumagrootjie gewoon omdat sy glo erg verwaarloos is. Sy het later by ander familielede gaan woon, maar Brian Rusch (77) het haar nogtans gereeld gesien en versorg.

Chevonne Rusch (2). (Foto: Facebook)

Brian is ’n week voor die aanvang van die verhoor oorlede.

Weke voor die moord op Chevonne het Botha en Van Niekerk versuim om die kleuter met haar sussie en ander familielede te herenig soos hulle onderneem het.

Brian het haar egter vlugtig voor haar dood gesien. Toe hy haar wou omhels, het sy geskreeu en gehuil. Een van die getuies wat tydens dié interaksie teenwoordig was, sê sy was geskok oor Chevonne se reaksie, aangesien sy net so lief was vir haar oupagrootjie soos hy vir haar.

Botha het in een van die verklarings wat sy by die polisie afgelê het, toegegee dat Van Niekerk vantevore aggressief teenoor haar en haar kinders was.

Voorvalle waar Chevonne kneusplekke en brandwonde weens “valle” opgedoen het, het in die hof aan die lig gekom. Selfs die tweejarige se sibbe het erg deurgeloop.

Lees meer oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Karoo ·

Mense nee…. verkragting van ‘n jarige engel kind. Wat nog van die ander geweld teenoor haar. Nou sit die 2 met vroom gesigte en hoop vir genade? Ek twyfel of dit van bo gaan kan kom.

Karoo ·

Hoe verkrag jy ‘n 2 jarige kind…. hoe kan’ n Ma toekyk en deelneem aan mishandeling. Het jy die blonde krulkop enegel kind se oogies gesien…. breek my hart.

Yolandie ·

Ek is letterlik naar so gewalg is ek deur die gedagte dat die 2 mense die arme engelkind verkrag het. Jammer hulle het nie eers vir my die reg op lewe nie, die feit dat hulle skuldog bevind sal word en vd res van hulle lewens op belasting betaler se rekening nog kan eêt en asemhaal in ‘n tronk maak my siek.

MC ·

Dis my agterent se deksek dat die meisikinders met klein kindertjies so orig is agter jongetjies aan, dan moet die kinders daaronder ly. Dit sal nie help om so ‘n hartseer gesiggie op te sit nie, Rochelle, waar was jou verstand, of moet ek liewer nie vra nie. Ek raak buite myself.

Lillian ·

Walglik! Hoe laat ‘n ma toe dat haar kinders mishandel word????

Di ·

Wonder hoe slaap die twee kriminele in die aand? Daar is GEEN verskoning vir die walglike dinge wat hulle aan die onskuldige engeltjie gedoen het nie. Hoop hulle kry wat hulle toekom in die tronk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.