Chevonne, sibbe se lewe koponderstebo ná ma kêrel kry

Chevonne se nou oorlede oupagrootjie destyds buite die hof. (Foto: Mariska Nanni/Maroela Media)

Die vermoorde Chevonne Rusch en haar twee sibbe het klaarblyklik sedert hul geboorte ʼn onstuimige lewe gehad. Hulle was dikwels van mekaar geskei terwyl hulle in verskillende huise en by familielede gewoon het.

Getuies voer aan dat “alles skeefgeloop het” toe Chevonne se ma, Rochelle Botha, en haar gewese verloofde, Stefan van Niekerk, by mekaar betrokke geraak het.

Dít het tydens ʼn sitting van die hooggeregshof in Palm Ridge vandeesweek uitgekom in Botha en Van Niekerk se moordverhoor.

Botha en Van Niekerk staan tereg vir die moord op die tweejarige dogtertjie en word ook van allerlei ander misdrywe soos aanranding en verkragting aangekla.

ʼn Familielid van Chevonne, wie se naam op versoek van die hof nie genoem mag word nie, het Woensdag getuig oor die jare, weke en dae voor Chevonne se moord en dit wat die drie sibbe in hierdie tyd moes deurmaak.

Die getuie het onthul dat Botha in 2017, 2018 en 2019 met die kinders swanger was en in hierdie tyd slegs een van hulle by die departement van binnelandse sake geregistreer het.

Heen-en-weer-trekkery

Botha se eerste kind het toe sy ʼn jaar en ʼn half oud was by ʼn familielid gaan woon. In hierdie tyd het Botha aan haar tweede kind geboorte gegee, maar dié se pa vir ʼn ander man gelos.

Albei kinders moes toe in 2018 by die spesifieke familielid skuiling vind, wat haar tot die hof gewend het om die kinders se amptelike voog te word.

In Desember dieselfde jaar het Botha en haar nuwe kêrel uitgemaak en ʼn maand later het sy en haar ma by die familielid aangeklop om haar kinders terug te kry.

Dae later het Botha en die pa van haar kinders weer ʼn liefdesverhouding aangeknoop en saam met hul kinders by een van haar familielede in Germiston gaan woon.

In hierdie tyd het Botha en die pa van haar kinders na die hof gegaan waar hulle daarin geslaag het om die hofaansoek tersyde te stel wat die kinders permanent in een van hul familielede se sorg sou plaas.

Toe Botha in 2019 met Chevonne swanger geraak het, het sy, haar seun en die pa van haar kinders weer na ander familie getrek. Botha se oudste kind het egter by die familielid gaan woon wat haar as pap baba versorg het.

“Nie een van hulle [Botha of die pa van haar kinders] het in daardie stadium gewerk nie,” sê die getuie.

“Hy [die pa] het af en toe gewerk, maar dit het nooit lank gehou nie. Sy [Botha] het nog nooit gewerk nie.”

Rochelle Botha Donderdag in die Germiston-landdroshof. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Volgens die getuie was die paartjie se familielede nie gelukkig met die situasie waarin hulle hulself bevind het nie, aangesien hulle “aangehou het kinders kry, maar nie die middele gehad het om vir hulle te sorg nie”.

Ná ʼn onstuimige paar jaar van ʼn heen-en-weer-trekkery is die pa van Botha se kinders in April 2021 in hegtenis geneem waarna hy bykans ʼn jaar lank in die gevangenis deurgebring het.

“In hierdie tyd het Chevonne en haar broer by Botha se familie gewoon, terwyl hul sussie elders [by hul pa se familie] gewoon het.”

Skaars twee maande nadat die pa van Botha se kinders tronk toe gestuur is, het sy en Van Niekerk ʼn verhouding aangeknoop en kort daarna het hulle saam ingetrek en Chevonne se broer saam met hulle gevat.

Volgens die getuie het hulle aanvanklik by ʼn woning by Van Niekerk se werk ingetrek, maar dié was glo niks meer as ʼn groot vraghouer nie.

Terwyl Chevonne en haar sussie by ander familielede gewoon het, was daar ʼn ooreenkoms met Botha dat sy elke naweek die twee dogtertjies kon sien. Die ooreenkoms het later verander dat Botha hulle elke tweede naweek kon kry omdat “dit te veel was” vir haar om al drie die kinders gelyktydig elke naweek by haar te hê.

Ystergreep op kinders

Chevonne Rusch (2). (Foto: Facebook)

Volgens die getuie, en ander getuies voor haar, het alles skeefgeloop toe Botha en Van Niekerk by mekaar betrokke geraak het.

Dít is glo wanneer daar kneusplekke aan van die kinders opgemerk is, hulle skielik “buite karakter” opgetree het, en erge gedragsprobleme begin ontwikkel het.

Weke voor Chevonne se dood – te midde van klagte by die polisie oor die beweerde mishandeling van die kinders – was dit boonop onmoontlik vir die getuie om Chevonne of haar broer te sien. Chevonne se sussie was in hierdie stadium by die getuie woonagtig.

Botha en Van Niekerk het weke lank versuim om Chevonne met haar sussie en ander familielede te herenig soos hulle belowe het. Glo met elke navraag oor waar Chevonne is of wanneer sy terugkom, het hulle net nog ʼn verskoning opgedis, of leë beloftes oor haar terugkoms gemaak.

Die getuie sê sy het in hierdie tyd nie eens geweet waar Botha, Van Niekerk, Chevonne en haar broer woon nie. Volgens die getuie is elke poging aangewend om Chevonne op te spoor en in een stadium het Botha haar selfoonoproep geantwoord, waar sy kon hoor hoe Chevonne in die agtergrond huil en vra om na die getuie se huis toe te gaan. Botha het nogmaals belowe om Chevonne terug te vat.

Dae het verbygegaan, maar Chevonne is nooit weer na die getuie se huis geneem nie.

Volgens die getuie het sy die dag voor Chevonne se dood weer na Botha en Van Niekerk probeer uitreik.

“Ek het geen reaksie gekry op my boodskappe nie, en hul selfone was af toe ek probeer bel het,” sê sy.

Later daardie aand het die getuie ʼn boodskap van Botha ontvang waarin Botha gesê het sy wil “iets [by die getuie] uitvind”.

“Ek het haar gevra wat sy wil weet, maar sy het nie weer op my boodskap gereageer nie. Om 02:00 [die dag van Chevonne se dood] het ek ʼn boodskap van haar gekry wat lees: ‘Ag moenie stres nie, dis fine’.”

Die getuie sê sy het ná dié boodskap Botha herhaaldelik probeer bel en boodskappe gestuur omdat sy bekommerd was oor die kriptiese boodskappe en die kinders se welstand.

Later die middag is die getuie meegedeel dat Chevonne gesterf het.

“Wat het met Chevonne gebeur,” was die getuie se boodskap aan Botha nadat Van Niekerk vir haar moord in hegtenis geneem is.

“Ek is baie jammer,” was Botha se reaksie.

Die verhoor duur Donderdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lizelle ·

So ontstellend! Weerlose kinders wat nie kan opstaan vir hulself nie, dit breek my hart. Ek hoop hul kry die straf wat hul verdien, hul behoort nooit weer vry rond te loop nie. Daars soveel mense daar buite wat smag na ‘n kind maar wat nie kan kinders he nie, dan kry jy sulke mense soos hierdie wat nie die titel van Ma verdien nie.

Wondermaarnet ·

Dit breek my hart elke keer as ek iets lees oor hierdie saak.

Chris ·

Tragies vir die kinders. Top punt van chaos. Betaaldag in daardie huishouding.

Karoo ·

Hoe hou die Howe dit…. hoe hou jy kop om elke dag met geweld te werk en dan ‘n gepaste vonis te gee. Mag hulle met die onodige moord van Chevonn se lewe’ n swaar straf ople. Misdaad teen kinders hoort nie in ons gemeenskappe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.