Peach van Pletzen: ‘Geen ruimte vir vrees as jy kuns maak’

Peach van Pletzen. (Foto: Ruben van Vuuren)

Toe Van Pletzen, die musiekduo met Peach van Pletzen en Yo Nax, verlede jaar die album Enter the Grootness tydens ʼn intieme luisterfunksie in Johannesburg bekendgestel het, het die kletsrymer Angie Oeh nog saam met hulle op die verhoog verskyn om te gesels oor haar medewerking op die snit “Die lewe is ʼn lied”.

Angie het egter in Augustus verlede jaar haar stryd teen fase 4-longkanker verloor, met haar goeie vriend Peach aan haar sy.

Volgens Peach was dit altyd die plan om vir Angie te betrek by die skepping van die klankbaan van die gewaagde Showmax-reeks getiteld Wyfie. Dié titel is ook geïnspireer deur Angie se treffersnit “Dis jou wyfie”.

‘n Skermgreep uit ‘Wyfie’. (Foto: Showmax)

Peach het die klankbaan vir Wyfie, waarvan daar reeds 18 episodes op Showmax beskikbaar is, behartig. Beata Bena, Celeste Loots en Mienke Ehlers vertolk die hoofrolle.

Hy het ook voorheen die klankbaan vir die Netflix-reeks Ludik, met Arnold Vosloo in die hoofrol, behartig.

“Ek en Angie het gereeld saam gewerk. Jy sal ook gereeld haar stem hoor deur die loop van die reeks. Daar was baie opgewondenheid vir haar oor die projek en haar betrokkenheid daarby, en sy kon nooit die resultaat sien nie. Ek weet sy sou trots wees,” sê Peach aan Maroela Media vanuit sy ateljee in Johannesburg.

“Dit is vir my baie spesiaal om saam met haar te kon werk aan die musiek, veral omdat ons dit saam begin het.

Peach van Pletzen. (Foto: André Badenhorst)

Ek moes dit op my eie klaar maak ná sy weg is. Dit is bittersoet om met haar stem te werk. Dit was moeilik en hartseer, maar die proses om die Wyfie-klankbaan te skep sal altyd ʼn herinnering bly vir my.”

Wyfie se ouderdomsbeperking is 18+, en hoewel Peach geweet het die reeks gaan gewaagd wees nadat hy die draaiboeke gelees het, het hy steeds pret met die klankbaan gehad.

“Ek het die projek omarm en geskep met musiek wat ek nog nie eintlik in ander TV-reekse gehoor het nie. Ek het ʼn duidelike idee gehad oor wat ek wil doen en die landskap waarin ek wou hê dit moet afspeel.”

Enter the Grootness

Van Pletzen se derde vollengte album, Enter the Grootness, het golwe in die Afrikaanse musieklandskap gemaak met snitte soos “Dit is wat dit is”, “Moot tot Amerika” saam met Kurt Darren en “Die lewe is ʼn lied” saam met Angie Oeh en Loufi.

“Die terugvoer wat ons ontvang het, was baie positief. Die album vaar goed en mense kyk na die musiekvideo’s, maar die enigste manier om ʼn tasbare gevoel van mense se reaksie te kry is by ʼn vertoning, en die gehoor geniet die musiek en sing die woorde saam,” sê Peach.

Enter the Grootness bevat 23 snitte en is ʼn mengelmoes van klanke en genres. “Ons het met ʼn klomp verskillende genres en klanke gespeel. Omdat ons ook vervaardigers is, was dit lekker om te speel met die lirieke en die musiekinhoud. Ons leef in ʼn tyd waar die genre van ʼn kunstenaar nie veel meer saak maak nie.”

Peach skram ook nie weg oor kritiek oor Van Pletzen se meer gewaagde snitte nie. “Daar is nie ruimte om bang te wees as jy kuns maak nie. En ek het nog nooit iets gemaak waaroor ek spyt is nie, want ek weet ek doen dit nie vir sinnelose skokwaarde nie. Dit is nie ons MO nie.”

Volgens Peach is daar ook soms diepte tussen die lyne wat mense misluister. “Van Pletzen se doel is net om satire, humor en sosiale kommentaar te omarm. Ek is trots op alles wat ons al gemaak het.”

Hy vertel Yo Nax, wie se regte naam Matthieu Auriacombe is, het tien jaar gelede as junior vervaardiger by sy ateljee, Planet Awesome, begin werk. Hulle het intussen boesemvriende en medemusikante geword.

“Ons het een middag by ʼn restaurant gesit en gesels oor die leemtes in die Afrikaanse musiekbedryf en ons het gesê een ding is dat mense nie sing soos wat hulle praat nie. Ons het ateljee toe gegaan en ‘Zaberfluten’ en ‘Eiland styl’ geskryf, en nou, sewe jaar later, sing mense dit nog steeds saam.

“Dit bewys daar is ʼn hongerte vir ʼn ander tipe eerlikheid in musiek wat nie noodwendig pure digkuns is nie.”

Toneelspel en die buitelandse verhoë

Peach tydens ‘n vorige besoek aan Amsterdam. (Foto: Facebook/Peach van Pletzen)

Met bekende akteurs soos Pierre van Pletzen en Elzette Maarschalk as ouers, is dit geen verrassing dat Peach, soos sy suster, aktrise Zetske van Pletzen, self ʼn groot liefde vir toneelspel en rolprentmakery het nie.

“Ek is mal oor die kunsvorm. Ek maak so nou en dan klein verskynings voor die kamera, soos in Ludik toe ek ʼn klein rolletjie vertolk het. Dit sal baie pret wees om in Wyfie te verskyn, al is daar nie tans so iets in die kaarte nie.”

Van Pletzen is op 24 Mei by die gewilde Melkweg-venue in Amsterdam, Nederland, saam met die kletsrymer Early B te sien.

“Ek probeer ʼn loopbaan daai kant opbou. Dit is ʼn goeie manier om Nederlandse vriende te maak en deur die woord en liefde te versprei, kan ʼn mens altyd jou gemeenskap uitbrei.”

Kaartjies vir die vertoning is by Ticketmaster beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.