Peter de Villiers weer raadslid by GOOD

Oud-Springbokbreier Peter de Villiers (September 2011) (Foto: AFP PHOTO/Stephane de Sakutin)

Die oud-Springbokbreier Peter de Villiers het na die politieke arena teruggekeer en ʼn pos as raadslid by die GOOD-party in die Drakenstein-munisipaliteit aanvaar.

De Villiers het in Junie verlede jaar as raadslid in dié munisipaliteit bedank, hoewel hy steeds ʼn lid van die party gebly het. Die party het destyds gesê De Villiers het bedank om op ander aspekte van sy lewe te fokus en meer tyd saam met sy familie deur te bring. Sy vrou, Theresa, is in April 2022 oorlede en in 2019 het die egpaar hul dogter, Odile (28), weens kanker aan die dood afgestaan.

GOOD het vandeesweek gesê dat die party De Villiers verlede week genomineer het om ʼn vakante pos in die Drakenstein-munisipaliteit te vul. Dit volg nadat raadslid Edgar Arendse se lidmaatskap by GOOD ná ʼn interne dissiplinêre proses beëindig is.

Coach, soos hy liefderik bekendstaan, het GOOD se veldtog in die Drakenstein-munisipaliteit gelei as ons burgemeesterskandidaat in die 2021- plaaslike regeringsverkiesing, waar GOOD vier sittings in die raad gekry het,” het die party gesê.

“Hy het weens persoonlike redes in Junie 2022 bedank, maar is deur die party genomineer om na die raad terug te keer. De Villiers sien uit daarna om die mense van Drakenstein te dien, soos in die burgemeestersveldtog van 2021 beloof is.”

De Villiers sê hy is gereed om aan te gaan waar hy opgehou het en volstoom aan die werk te spring.

“Ek sien uit daarna om die GOOD-plan in werking te stel en ons beweging verder te laat groei. Ek sien uit na al die uitdagings wat saam met hierdie geleentheid kom en sal my bes doen om, soos altyd, die gemeenskap en mense van Suid-Afrika te dien,” het De Villiers gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kosie ·

Ag ou stem verdwyn net, jy praat net nonsens is al wat jy kan doen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.