Phala Phala-verslag oorhandig; Ramaphosa reageer

Oudregter Sandile Ngcobo oorhandig die paneel se verslag aan Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die parlement. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

“Benewens dié van die presidensie, is ek op geen ander betaalstaat nie.”

Só het pres. Cyril Ramaphosa volgehou in sy verklaring aan die onafhanklike paneel wat die diefstal op sy plaas Phala Phala en die daaropvolgende gebeure moes ondersoek.

Die paneel, gelei deur oudregter Sandile Ngcobo, is verlede maand aangestel en het 30 dae gehad om te bepaal of daar ʼn prima facie-saak teen Ramaphosa is. Ngcobo het die verslag Woensdagoggend aan die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, oorhandig.

Dit sal teen vanaand bekend gemaak word.

Ngcobo het tydens die oorhandiging van die verslag gesê die omvang van die ondersoek is beperk tot die inligting wat LP’s aan hom voorgelê het. “Dit is hoe die proses ontvou het. Dit is gedoen sonder vrees of vooroordeel, hoop ek,” het Ngcobo gesê.

LP’s sal dit dan Dinsdag bespreek en by wyse van ʼn stemproses besluit of die parlement verdere stappe teen Ramaphosa moet doen.

Dit kan ook lei tot ʼn moontlike stemming om Ramaphosa uit sy amp te verwyder. Dit kan egter net slaag indien ʼn tweederdemeerderheid in die Nasionale Vergadering, waar die ANC die meeste setels het, ten gunste daarvan stem.

Ramaphosa word daarvan beskuldig dat hy versuim het om die voorval, waartydens sowat $4 miljoen uit sy huis gesteel is, by die polisie aan te meld.

Arthur Fraser, die voormalige direkteur-generaal van staatsveiligheid, voer aan Ramaphosa het die misdaad verdoesel en pleks van om dit aan te meld, het hy gereël dat die boewe ontvoer en vir hul stilte omgekoop word.

Die bewerings het tot dusver Ramaphosa se pogings om vir ʼn tweede termyn as ANC-president verkies te word, oorskadu. Dit was die onafhanklike paneel se werk om te bepaal of daar genoeg bewyse is dat die president die Grondwet of wetgewing oortree het, of hom skuldig gemaak het aan ernstige wangedrag.

Eiendomme

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Stefan Heunis/AFP)

Ramaphosa is ʼn bedrewe sakeman en wildteler en besit twee plase: Ntaba Nyoni in Mpumalanga en Phala Phala in Limpopo (waar die diefstal plaasgevind het).

Luidens sy antwoorde aan die paneel – wat Woensdag uitgelek het – het hy in Desember 2014 al ontslae geraak van ander finansiële belange wat tot ʼn botsing van belange in sy werk as eers adjunkpresident en toe president kon aanleiding gee.

Die plase word in die Tshivhase-trust gehou.

Ramaphosa ontken in sy antwoorde dat hy vergoeding ontvang vir enige ander werk of diens – ook uit die plase – anders as die salaris wat hy as president van die land kry.

Hy werp in sy verklaring aan die paneel ook veel meer lig op die gebeure tydens die voorval – hoewel hy sê dat hy geen persoonlike kennis van die diefstal self het nie.

Hy hou ook voet by stuk dat hy geen skending van die Grondwet of ander wetgewing begaan het, of hom aan ernstige wangedrag skuldig gemaak het nie.

Hou Maroela Media dop vir meer oor die president se antwoorde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Manie ·

Hy hou ook voet by stuk dat hy geen skending van die Grondwet of ander wetgewing begaan het, of hom aan ernstige wangedrag skuldig gemaak het nie?

1. Wat van die oortreding van die wet op buitelandse valuta?
2. Wat van die vervolging van die oortreders, selfs in Namibia?
3. Wat van die omkoopgeld wat aan hulle betaal is om stil te bly oor die sage?
4. Hoekom het hy so lank stilgebly hieroor en eers gereageer nadat Frazer dit uitgelig het?

Die man moet dom wees om te dink die publiek glo sy snert.

Groen Ghoen ·

Juis! Glo enigiemand die klomp snert wat opgedis word as die waarheid? Mag die DA dadelik ‘n klag teen hom gaan indien weens die oortreding van die wet op buitelandse valuta. Dit is die kern van die saak. Ons “gewone mense” sou al laaaaankal aangekla en skuldig bevind gewees het.

Kokerboom ·

Duur verslag net oëverblindery! Status quo wat ANC wanbestuur betref sal voortgaan!

Di ·

Dan wonder ons hoekom daar so baie misdagigers in die land is – Kyk maar net na al die skelms in die Parlement! Hulle volgelinge het goed geleer by die spul skelms

Danie ·

Wat van die ontduiking van belasting dit is n ernstige oortreding.Dis bedrog en kom neer op geldwassery.Ek wonder wie gaan die punch vat.??

Groen Ghoen ·

“Bedrewe sakeman?” Watter oorspronklike produk, diens, en of sakegeleentheid het hierdie man ooit uitgedink en omskep in ‘n winsgewende onderneming? Enige voorbeelde? Nee: Hy is wel ‘n hoogs bedrewe en uiters welgestelde ontvanger van SEB transaksies. Tesame met die Motsepe kliek het hulle die grootste rykdom van alle SEB bevoordeeldes.

KB ·

CR is nie ʼn “bedrewe” sakeman nie, geslepe is die korrekte woord.

Papsak ·

SKELM DEUR EN DEUR MAAR HY CALL HOM N PRESIDENT DANKIE NIE MYNE

annie ·

Die SA-big-bang broei. Alles het verkeerd geloop en al die skelms loop los. Eskom is ‘n wederstrewige beseerde ondier. En groot eise vir groot salarisse wag om te weer te Durbanite. Zuma se plan comes together met die verkiesing op hande. Hekse en towenaars roer die brousel vir hom/haar wie volgende SA gaan help om verder te ontspoor. Spieëltjie, spieëltjie… Ons moet bid vir ‘n rustige Kersfees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.